Wys tans plasings met die etiket evangelie. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket evangelie. Wys alle plasings

2025/06/18

Die vreugde en koste van dissipelskap

Lees: Eksodus 19:1-9

Gedagte vir kinders: Kinders van die Here wys elke dag vir die wêreld aan wie hulle behoort.

Oorsig: Die kinders van Israel het Egipte verlaat tydens Paastyd, dit is die 14de van die eerste maand Nisan/Abib, dit beteken dat toe hulle in die derde maand (Sivan) ná die uittog in die woestyn Sinai aangekom het, dit aan die begin van die maand ongeveer 45 dae ná die uittog was dat hulle by Sinai aangekom het (v. 1). Daarom is baie verklaarders van mening dat Here se verskyning op Sinai en die tien gebooie se afkondiging op die 50ste dag na die Pasga, dit is Pinksterdag, plaasgevind het (vgl. Lev. 23:5,15-16; Num. 28:26). Die volk het daar by Sinai, komende vanaf Rafidim, teenoor die berg laer opgeslaan waar die Here aan hulle sou verskyn (v.2). Daar het Moses opgeklim na God toe en die HERE het hom van die berg af toegeroep. Ons sien reeds hier hoe Moses as ’n tipe middelaar tussen God en die volk optree. Die HERE het vir Moses gesê dat hy die volgende aan die huis van Jakob, die kinders van Israel moet verkondig: Hulle het self gesien wat die HERE aan die Egiptenaars gedoen het en dat Hy Israel na Hom toe gebring het soos wat ’n arend sy kleintjies op sy vlerke dra (v.3-4). Hierin hoor ons die vrye genade van die HERE met Israel.

Maar hiermee saam: As die volk dan nou getrou (terdeë) (1) na die HERE se stem luister en (2) sy verbond hou, sal hulle sy besondere persoonlike eiendom uit al die volke wees, al het die hele aarde aan Hom behoort (v.5). Hulle sou dus uitstaan as lig in die duisternis en vir die wêreld wys hoe dit lyk waar God woon. So sal hulle vir Hom, let wel, ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie wees. Dit moes Moses aan die kinders van Israel meedeel (v.6). Moses het toe gekom en die oudstes van die volk laat roep en hulle al hierdie woorde voorgehou wat die HERE hom beveel het (v.7). Toe het die volk eenparig almal saamgestem en gesê dat hulle alles wat die Here gespreek het sal doen. So het Moses as middelaar weer die woorde van die volk aan die HERE oorgebring (v.8).

Die Here het toe vir Moses gesê dat Hy in ’n dik wolk na Hom sal kom en dat die volk sal kan hoor as Hy met Moses spreek. Dit sal meewerk dat hulle altyd aan Moses glo, want Moses het die woorde van die volk aan die HERE meegedeel (v.9). Die Here sou dus nog ’n maal deur sy verskyning by Sinai met die afkondiging van die tien gebooie vir die volk bevestig dat Moses sy kneg en middelaar is deur wie Hy met hulle sou praat.     

Besprekingsvraag: Hoe sien ons die vreugde sowel as koste van dissipelskap in hierdie gedeelte?

Insig: Dit was ’n besondere uitspraak dat Israel ’n koninkryk van priesters genoem is, maar beslis nie iets heeltemal nuut nie. Adam was geskape om ’n priester-koning in die tuin van Eden te wees en Israel sou nou hierdie roeping kollektief as besondere volk voortsit. Israel sou ’n koninkryk van priesters vir die wêreld wees wat vir die wêreld oor God leer en vir die wêreld tot God kon bid. Innerlike beteken dit sulke koninklike priesters God deur gereinigde kennis leer ken en in liefde en aanbidding van Hom groei. Uiterlik beteken dit ook dat die nasies in verwondering sou wees oor hulle God se regverdige wette vir hulle samelewing (Deut. 4:7-8). Abraham het reeds die belofte gehad dat in hom al die geslagte van die aarde geseën sou word (Gen. 12:1-3). Hier moes Israel as draer van Abraham se beloftes dit voortsit deur ’n koninklike priesterdom vir die wêreld te wees. Hulle was ook die draers van die beloftes oor die Messias wat in Christus waar geword het. In Christus as verteenwoordiger van Israel, kan al die geslagte van die aarde nou geseën word vir elkeen wat in Hom glo en voor Hom buig. In die Nuwe Testament word hierdie roeping nou verder voortgesit deur die Kerk van Jesus Christus. Die Kerk is nou ’n koninklike priesterdom uit al die nasies om die deugde van God aan die wêreld te verkondig van Hom wat hulle in Christus geroep het tot sy wonderbare lig (vgl. 1 Pet. 2:5,9-10). Die Kerk sit dus nou die roeping van Israel voort en daarom kan ons met waardering luister oor wat God deur hierdie Woord vandag nog steeds vir sy Kerk sê. Dit gaan hier oor die vreugde van dissipelskap sowel as die koste van dissipelskap (Brueggemann).

2025/03/08

Die Kerk het rede om te sing

Lees: Ex. 15:1-21 

Gedagte vir kinders: Sing uit jou hart uit tot die Here omdat Hy ons waarlik gevry gemaak het.

Oorsig: In Exodus 14 lees ons die merkwaardige geskiedenis van Israel se deurtog deur die Rooisee en hoe die Egiptenare voor hul oë oorwin is toe hulle in die see verdrink het. In Ex. 15 se begin lees ons hoe hulle wat in doodsangs was, maar verlos is, toe daaroor feesgevier het. Eers moes hulle stil wees omdat die Here vir hulle gestry het. Daarna kon hulle nie meer stilbly nie en Moses en Israel het uit hulle harte vir die HERE gesing. Dit begin met die lus om ’n lied tot eer van die Here te sing, omdat hy so hoog verhewe is en omdat hy die Egiptenare se perd met sy ruiter in die see gegooi het (v.1). Daarna word eers gefokus op wat die HERE vir hulle, is – hulle krag en hulle Psalm. dat Hy hulle persoonlike God is in wie hulle sal roem en wat hulle sal verhef. As die een met mag word Hy ’n Krygsman genoem en bevestig dat sy Naam HERE is (v.2-3).        

Die lied gaan dan aan om te vertel hoe Farao se beste leer en wapentuig, sy leërmag en strydwaens, in die see gewerp is, ja soos ’n klip gesink het (v.4-5).  Dan word daar direk tot die HERE gesing. Sy (u) regterhand is verheerlik deur verplettering van die vyand. Hy (U) het ook in sy hoogheid hulle verpletter wat teen Hom opstaan. Hy (u) verteer in sy toorn die vyand soos ’n stoppel. Daar word dan beeldryk bely dat die waters opgestapel en soos ’n wal bly staan het deur die geblaas van sy (u) neus en dat die watervloed styf geword het in die hart van die see (v.6-8). Dan word vertel wat die vyand se voorneme was wat by hulself gereken het dat hulle sal agtervolg, inhaal , buit verdeel en hulle begeerte sal versadig en die swaard uittrek en uitroei. Maar dan vertel hulle wat die Here daarenteen gedoen het. Hy (u) het met sy asem geblaas en die see het hulle oordek en hulle het soos lood gesink (v.9-10). Dan word die verwondering weer voor die Here uitgespreek dat niemand soos Hy is onder die gode nie (O, Here wie is soos U?), in heiligheid, in roemryk dade en wonders.

Dit word dan herhaal dat hy sy hand uitgestrek het, en die volk verlos en na sy heilige woning, let wel, gevoer het (v.11-13). En so word daar na die toekoms beweeg. Die effekte word nou beskrywe wanneer vorentoe gekyk word. Die volke het gehoor en gesidder (let op verlede tyd), soos Filistea en Edom en Moab en die inwoners van Kanaän. Verskrikking het op hulle geval en hulle was stom terwyl God se volk deurtrek. Dan word daarvan gesing dat hy hulle ook inbring en plant in hulle bergland-erfenis as vaste woonplek en heiligdom (v.14-17). Daar word oorbeleef na die belydenis dat die Here vir altyd en altyd sal regeer, omdat Hy Farao se leer in die see laat verdrink het, maar dat Israel op droë grond deurgetrek het (v.18-19). Ons hoor dan dat Mirjam, die suster van Aaron, ’n profetes was en dat sy ’n tamboeryn in haar hand geneem het en dat al die vroue agter haar uitgegaan het, let wel, met tamboeryn en koordanse. Mirjam het al singende geantwoord het soos die lied begin: “Sing tot eer van die HERE, want Hy is hoog verhewe. Hy het die perd met sy ruiter in die see gewerp.” (v. 20-21).       

Besprekingsvraag: Wat beteken dit vir ons lysies en kategorieë dat die Here onvergelyklik is?

Insig: By die eerste oogopslag mag iemand dalk vra wat hierdie lied met ons te doen het. Ons leef mos in heeltemal ander tye, sê baie vandag. Op. 15:3-4 gee ons ’n belangrik wenk: Eenmaal sal daar in die groot bevrydingslied van God se kinders deur die bloed van die Lam, aangesluit sal word by Moses se lied. Dit leer ons iets baie belangrik oor die eenheid van die Skrif en die gesag van die Skrif. De Woord bevat werklike gebeure met tipes en patrone wat heenwys na die toekoms. Daarom het moet die Woord ook tipologies gelees word sodat die verbande tussen hierdie lied en ons lied van bevryding duidelik kan wees. So help dit ons om ook die patrone ook vir ons eie tyd te onderskei (pattern recognition). 

2025/02/24

Verlos van gebondenheid en magte

Lees: Jesaja 52:7-12

Gedagte vir kinders: Die goeie nuus oor Jesus is dat Hy die Koning is wat ons red en bewaar.

Oorsig: Die profeet Jesaja het die volk gewaarsku dat hulle in ballingskap sou gaan en ons lees daarvan in die eerste gedeelte van die boek Jesaja in hoofstuk 1-39. Vanaf Hoofstuk 40 begin hy egter ook daarmee saam vertroosting te gee aan hulle wat in ballingskap gegaan het. Die Here sou hulle ook weer uit die ballingskap bevry en daar word onder andere besondere dinge oor Iemand gesê wat die Kneg van die Here genoem word. In hoofstuk 52 praat die profeet baie spesifiek oor die bevryding uit Babel wat sou plaasvind. Hierdie heerlike bevryding het daarmee saam ook gespreek van die grootste bevryding wat sou kom deur Jesus Christus.

In vers 7 roep die profeet uit oor (1) die hoe lieflik die voete is van hom wat die goeie boodskap bring. Hy brei uit en se dat (2) hierdie boodskap vrede laat hoor. Dit is (3) die goeie tyding (letterlik: goeie boodskap van goedheid) wat gebring word en wat (4) verlossing laat hoor. Die wese daarvan gaan daaroor dat aan Sion, die berg in Jerusalem waarop die tempel gebou is, gesê word: Jou God is Koning! Dan roep die profeet op om te let op die wagte (op die mure van Jerusalem). Hy stel dit so: Hoor! Jou wagte! Want die wagte (1) verhef die stem en (2) hulle jubel almal saam. Die rede is dat hulle vlak voor hulle oë sien hoe die HERE terugkeer na Sion (v.8). Dit het waarskynlik in die onmiddellike konteks gedui op die amptelike terugtog met die tempelgereedskap, geborg deur Koning Kores wat later plaasgevind het (vgl. Esra 1:5,7). 

Dan roep die profeet uit dat die vervalle puinhope van Jerusalem moet uitbreek en almal saam moet jubel, aangesien die HERE sy volk getroos en Jerusalem verlos het (v.9). Want die HERE het sy heilige arm ontbloot voor die oë van die nasies en dat al die eindes van die aarde die verlossing (heil) van onse God sal sien (v.10). Jesaja roep daarna die weggevoerde ballinge op met (1.1) die oproep, “Vertrek, vertrek!”’ In die proses moet hulle (2.1) nie aanraak wat onrein is nie. Hulle word weer opgeroep (1.2): “gaan uit hulle midde uit, en (2.2) reinig julle. Die rede is dat hulle draers is van die heilige voorwerpe van die HERE (v.11). Dit het gewys op die tempelgereedskap wat hulle sou terugbring na Jerusalem. Die profeet sê dan dat hulle nie baie haastig sal weggaan soos vlugtelinge (destyds uit Egipte) nie. Nee, die HERE sal voor hulle uittrek en ook hulle agterhoede wees soos vroeër met die wolkkolom en vuurkolom in die woestyn (v.12).         

Besprekingsvraag: Watte geestelike boodskap het die terugkeer uit die ballingskap steeds?

Insig: Dit is belangrik dat ons die letterlike en oorspronklike konteks goed in die oog kry, aangesien dit ons baie help om geloofwaardig die geestelike betekenis na ons toe deur te trek.  Hierdie gedeelte toon aan ons waar die Ou Testament alreeds van die goeie boodskap en goeie tyding praat wat later toegepas word op die evangelie (Rom. 10:15). 

2024/09/19

Here, kom my ongeloof te hulp!

Lees: Mark. 9:14-29

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus kom mense te hulp wat Hom in hulle swakheid aanroep. 

Oorsig: Nadat die Here Jesus verheerlik is op die berg en drie van sy dissipels dit gesien het, het Hy saam met hulle teruggekeer na sy dissipels. Daar het ’n groot klomp mense om die dissipels vergader en daar was ook skrifgeleerdes wat met die dissipels argumenteer het. Die skare was dadelik, toe hulle Hom sien, verbaas en het na Hom gehardloop en gegroet (v.14-15). Hy het die skrifgeleerdes toe gevra waarom hulle met die dissipels argumenteer (redetwis). Een uit die skare het toe geantwoord: Meester, ek het my seun met ’n stomme gees na U gebring. En waar die gees die seun ook aangryp, (1) skeur hy hom en (2) hy kry skuim in die mond en (3) hy kners met sy tande en (4) word styf. En ek het u dissipels gevra om hom uit te dryf, en hulle kon nie.” (v.16-18). Normaalweg kon hulle, maar nie hier nie.    

Die Here Jesus het hom toe geantwoord: “O, ongelowige geslag, hoe lank sal ek by julle wees, hoe lank sal ek julle verdra? Bring hom na my toe.”(v.19). Hulle het die seun toe na Jesus gebring en toe die seun Hom sien, (1) laat die gees hom stuiptrekkings kry, en (2) hy val op die grond neer en (3) rol rond met skuim in die mond (v.20). Die Here Jesus vra toe vir die pa hoe lank dit al is wat dit die seun oorgekom het. Hy het toe geantwoord dat dit van sy kinderdae af was. Hy het uitgebrei en vertel dat die gees die seun selfs dikwels in die vuur en die water gegooi het om hom dood te maak. En toe voeg die man by: “Maar as U iets kan doen, ontferm U oor ons en help ons.” (v.21-22). Die Here Jesus het toe gesê: “’Wat dit betref – as jy kan glo, alle dinge is moontlik vir die een wat glo.” Die vader van die kind het toe dadelik met trane uitgeroep: “Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp!” (v.23-24).

Toe die Here Jesus sien dat ’n skare saamstroom het Hy die onreine gees bestraf en gesê: “Jou stom en dowe gees, Ek gebied jou, gaan uit hom uit en kom nooit weer in hom nie.” Nadat die gees (1) deur die seun geskreeu het, het hy hom (2) baie stuiptrekkings laat kry en toe (3) het hy uitgegaan. Die seun het gelyk (4) of hy dood is en die mense het ook gesê dat hy dood is. Maar die Here Jesus het hom (1) by die hand gegryp en (2) hom opgerig. En toe (3) het die seun opgestaan. (v.25-27). Toe die Here in die huis kom, vra sy dissipels Hom afsonderlik waarom hulle die gees nie kon uitdrywe nie. Die Here Jesus het toe gesê: Hierdie geslag (genos: KJV:soort) kan deur niks anders uitgaan as deur gebed (en vas – 53 vertaling) nie (v.28-29).  

Besprekingsvraag: Watter basiese patroon vir bediening kan ons uit hierdie gedeelte aflei? 

Insig: Ons vind die samehang van heerlike bergtop-ervarings met groot uitdagings in die dale, meermale in die Woord van God. Dink aan Moses wat van die berg afkom en die goue kalf onder die volk vind. Dink aan Die Here Jesus wat na sy doop en die stem uit die hemel, net daarna in die woestyn die satan moet trotseer. Hier is Hy pas verheerlik op die berg en die stem uit die hemel bevestig weer eens dat Hy groter is as dienaars uit die Ou en Nuwe Testament. Maar net hierna is daar die laaste genoemde groot demoniese uitdaging in Markus voor sy kruisiging. Laat ons daarom bedag wees op uitdagings na besondere hoogtepunte, maar laat ons ook Hom raaksien wat nou reeds verheerlik is in ons skynbaar hopelose situasies. Ons lees hier van uiterste gebrokenheid - ’n seun wat van kinds af verskeurd en doodsoekend is, en ’n kragtelose Kerk met twis met ander leiers in hul kragteloosheid. Kortom, hier is sprake van diegene wat die verheerlikte Christus moet verdra: ’n ongelowige geslag. Die goeie nuus is dat Hy ons wel verdra, en dat Hy selfs sy lewe oorgegee het sodat ons nie net verdra kan word nie, maar kinders van God wat groei in hulle geloof. Daarom word ons ook opgeroep om nie maar net te bly waar ons is nie, maar om hier ag te gee op sy antwoord en sy openbaring sodat ons geloof versterk kan word.

2024/08/03

Jou diepste honger, jou grootste dors

Lees: Joh. 6:22-35

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus kan ons diepste honger vir ewige versadig. 

Oorsig: In Johannes 6 hoor ons van Johannes se weergawe van die vermeerdering van die vyf e brode en twee vissies. Johannes noem die sewe wonders van die Here Jesus in sy evangeliebeskrywing baie spesifiek “tekens”. Almal moet verstaan dat sy wonderwerke tekens is van iets groter en heerliker: Die Koninkryk van God wat deur Jesus Christus deurbreek in hierdie wêreld. Daarom lees ons net na die vermeerdering van die brode, van die storm waar die Here Jesus op die see loop en net daarna van sy gesprek met die skare waarin Hy die teken van die broodvermeerdering se dieper betekenis vir hulle geleidelik uitlê.

Die skare kry Jesus aan die anderkant van die meer nadat hulle oorvaar met skuite vanaf die plek van broodvermeerdering, in die omgewing van Kapernaum. En toe wil hulle weet hoe Hy daar gekom het (v.22-25). Die Here antwoord hulle vrae egter baie ondersoekend. Hy wys hulle daarop dat hulle Hom eintlik net soek omdat hulle mae vol geword het. Hy roep hulle toe op om eerder te fokus op die voedsel (spys) wat bly tot in die ewige lewe. Dit is wat die Seun van God aan hulle sal gee, want Hy is deur die Vader bevestig (verseël) as die Een wat dit sal doen (v.26-27). Hulle vra toe wat hulle moet doen om God se werk deur te voer (volbring) en die Here Jesus het geantwoord dit daarin bestaan dat hulle sal fokus op wat God doen en dat hulle glo in die Een wat God gestuur het (v.28-29).

Hulle vra Hom toe ’n teken sodat hulle in Hom kon glo. Hulle het verwys na Moses se teken van manna in die woestyn (v.30-31). Manna uit die hemel was tog ’n groter werk as brood op aarde wat vermeerder. Die Here antwoord toe dat hulle moet besef dat dit nie Moses was die brood uit die hemel gegee het nie, maar sy Vader en dat Hy die ware brood gee. En die brood van God is hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld die lewe gee (v.32-33). Hulle vra toe om altyd aan hulle hierdie brood te gee (v.34). Dit is toe dat die Here antwoord met een van sy sewe “Ek is”-uitsprake in Johannes: “Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie” (v.35). Die volk in die woestyn het aanvanklik nie die manna herken toe dit aan hulle gegee is nie en hierdie mense herken nie die Here Jesus nie. Maar Hy verduidelik dat hulle Hom moet leer erken as die ware brood uit die hemel. Die manna en die broodvermeerdering het eintlik na Hom heengewys. Hyself, die brood van die lewe, die Here Jesus, kan ons geestelike honger en dors vir ewig versadig.   

Besprekingsvraag: Hoe leer ken ons die Here Jesus as die brood van die lewe?   

Insig: Hierdie skare doen iets voortreflik. Hulle soek na die Here Jesus. En hulle kry hom uiteindelik. En tog, in die vind van Christus, konfronteer Hy hulle oor hulle eintlike motiewe. Dit gaan meer vir hulle oor hulle versadiging deur die fisiese brood (v.26). Hulle wou hom aanvanklik alreeds by die vermeerdering van die brood met geweld Koning maak (v.15), maar waarom? Om ’n aardse koning te hê wat hulle kan versorg en bevry van Rome? Beide ’n teologie van patriotisme sowel as ’n teologie van bevryding kan verkeerde motiewe hê. Waarom is Christus nou eintlik vir jou belangrik? Wil jy Hom dalk ook eintlik net inspan vir een van jou begeertes of agendas?

2024/03/12

Kyk na die Gekruisigde

Lees: Joh. 3:14-21

Gedagte vir kinders: God het die wêreld so lief gehad dat Hy Jesus Christus vir ons gegee het.

Oorsig: Ons lees hier van Nikodemus, ’n man uit die Fariseërs, wat soekend was en in die nag na Jesus gekom het. Die Here het hom toe geleer van ’n nuwe geboorte wat nodig is as iemand die koninkryk van God wil sien. Nadat Hy telkens vir Nikodemus daarop gewys het dat dit iets is wat net God kan doen en Nikodemus radeloos was oor hoe so iets kan gebeur, het die Here hom terug verwys na ’n besondere gebeurtenis in die Ou Testament toe die Israeliete met ’n houding 9murmureer) teenoor God gekla het. Die Here het toe slange onder die volk gestuur om hulle oor hul ondankbaarheid te straf (vgl. Num 21:4-9). Toe die volk besef het dat hulle besig was om te sterwe, het hulle tot die Here geroep en God het Moses toe bevel om ’n koperslang op ’n paal op te rig en dat almal wat na hierdie koperslang “kyk”, sal lewe.

En toe leer die Here vir Nikodemus en ons dat net soos die koperslang daar op ’n paal die weg tot genesing en nuwe lewe was, so sal Hy ook verhoog moet word om lewe te gee (v.14). Dit beteken dat Hy aan ’n kruis verhoog moes word bo die aarde en uiteindelik in die hemel.  Sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. En toe het Hy dit nog verder verduidelik in die heerlik bekende woorde: “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (v.15-16).

Die Here het toe verder verduidelik dat God sy Seun juis nie in die wêreld gestuur het om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word (v.17). Elkeen wat in Hom glo, word eenvoudig nie veroordeel nie. Aan die ander kant,  die Een wat nie in hierdie wonderlike antwoord van God glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie (v.18). En die oordeel is dit: dat die lig in die wêreld vol duisternis ingekom het, maar dat mense die duisternis liewer gehad het as die lig, omdat hulle werke boos was (v.19). Dit werk eenvoudig so dat elkeen wat kwaad doen, die lig haat en sy bose werke nie bestraf wil hê deur die lig nie (v.20). Aan die ander kant is dit so dat hy wat die waarheid doen, na die lig kom, sodat sy werk openbaar kan word, dat hulle in God gedoen is (v.21). Dit laat ons besef hoe nodig ons Jesus Christus het wat ons kan reinig sodat ons kans sien om in die lig te kan staan (vgl. 1 Joh. 1:7,9).    

Besprekingsvraag: Wat leer ons oor die eenvoud van die evangelie in die woord “kyk”?

Insig: In Joh. 3 hoor ons van twee kante af wat nodig is om vry te kom van die sonde wat ons so diep en terminaal aangetas het. In die eerste gedeelte (v.1-12) verneem ons van die aardse dinge wat vir mense nodig is om nuut te word. Nikodemus was veronderstel om te weet dat iets drasties nodig is. Hy moes ten minste geweet het van Israel se doodstoestand in die ballingskap en Esegiël se wonderlike beloftes oor ’n nuwe gees en water wat uitgegiet word wat heerlik reinig (vgl. Es. 11;19; Es. 36:25-27). Hy moes tog ook geweet het dat dit in lyn was met die profete wat reeds voor en na na Esegiël hierop gewys het en dat dit in verband gestaan het met die nuwe daad van God (vgl. Jes. 44:3; Jer. 31-34; Joel 2:28-29). Die hele Ou Testament loop daarop uit dat alles vasgeloop het en dat iets nuut nodig is. Dit is ook tekenend van ons eie vleeslike lewe. Daarvan getuig reeds die groot beloftes van die profete. In die tweede gedeelte (v.13-21) verneem ons watter hemelse dinge hiervoor nodig is. 

2023/09/14

Om van harte te vergewe

Lees: Mt. 18:21-35

Gedagte vir kinders: Hulle wat die Here se vergifnis leer ken het, kan ander mense vergewe.

Oorsig: Die Here Jesus was besig om sy dissipels te leer van nederigheid, sonde in die gemeente, en van tug en herstel. Petrus het toe gevra hoe dikwels ’n mede-broeder teen jou mag sondig en weer en weer vergewe word. Sal dit selfs sewe maal wees, dubbeld meer as die reël onder hulle - drie keer plus een? (v. 21; vgl. Amos 1:3 e.v.). Die Here Jesus het geantwoord dat dit eerder 70x7 moes wees, met ander woorde sonder perke solank daar geluister word (v. 22; vgl. v. 15-16). Daarna het Hy dit deur ’n gelykenis verduidelik. 

’n Sekere koning wou verslag kry oor sy diensknegte se werk met sy geld (v.23). So het daar een na hom gekom wat 10 000 talente skuldig was. Dit was meer as ’n hele provinsie se skuld, (ongeveer 10 000 x R3,25m = R32,5 miljard. Dalk was hy ’n goewerneur). Omdat hy nie naastenby kon betaal nie, het die koning beveel dat hy en sy vrou en sy kinders as slawe verkoop moes word, saam met alles wat hy gehad het en dat daar so betaal moes word vir sy skuld (v.23-25). Die dienskneg het toe (1) voor die koning neergeval en (2) hom gevra om lankmoedig te wees, en (3) gesê dat hy alles sal betaal (wat hy nie kon nie). Die Koning het hom egter (1) innig jammer gekry, (2) hom losgelaat en (3) die skuld kwytgeskeld (v.26-27). Wat ’n wonderlike vryspraak was dit nie! Maar toe het daar iets baie hartseer gebeur.

Toe daardie vrygespreekte dienaar uitgaan, vind hy een van sy mededienaars wat hom 100 pennings skuld (dagloon x 100: ongeveer R30 000 teenoor sy skuld van R3,25 miljard). Hy het hom aan die keel gegryp en gesê: “Betaal my wat jy skuld.” Sy mededienaar val toe voor sy voete neer en smeek hom toe ook met sy eie liggaamshouding teen die grond en met sy eie woorde van vroeër, om lankmoedig te wees en dat hy alles sou betaal (wat hy kon, v.28-29). Maar hy wou nie en het hom in die gevangenis gewerp totdat hy sy skuld sou betaal. Sy mededienaars was hieroor baie hartseer en het aan die koning alles vertel (v.30-31). Die koning het daardie man toe geroep en vir hom gesê: “Jou slegte dienskneg, al daardie skuld van jou het ek jou kwytgeskeld omdat jy my gesmeek het. Moes jy nie ook so barmhartig wees teenoor jou mededienaar soos ek ook teenoor jou nie?” (v.32-33). Toe het die koning hom in toorn oorgegee aan die pynigers totdat hy alles sou betaal, wat natuurlik nooit sou kon gebeur nie. En toe het die Here Jesus ’n groot waarskuwing gegee: So sal die Vader aan ons doen wat nie elkeen sy broeder (of suster) van harte sy/haar oortredinge vergewe nie (v.34-35).    

Besprekingsvraag: Waarom is dissipline en  vergifnis  nodig in die opbou van die Kerk?

Insig: In Mattheus 10 leer ons oor die Kerk se uitbou-werk na buite en in Mat 18 hoor ons van die Kerk se opbou-werk na binne (Bruner). Beide is belangrik vir ’n lewenskragtige gemeente. Na binne beteken dit dat ’n gemeente sonder dissipline, maar ook vryspraak, ’n gemeente is wat maklik net ’n gedaante van godsaligheid kan hê. 

2023/08/02

Kom koop verniet

Lees: Jes. 55:1-5

Gedagte vir kinders: Kom eet en drink verniet by Jesus Christus se fees.

Oorsig: Ons verstaan die uitnodiging van Jesaja 55 beter as ons onthou wat vooraf gebeur het. In Jes. 53:11 hoor ons dat die Kneg van die Here, baie regverdig maak en hulle skuld dra. Daarom deel God Hom uit vir baie mense en die Kneg verdeel die buit met baie mense (v.12, letterlik vertaal). Waarom kon dit gebeur? Omdat die Kneg van die Here (1) sy siel tot in die dood uitgegiet het, (2) as oortreder gereken is, (3) die sondes van baie gedra, en (4) vir sy oortreders gebid het. So het Hy, die Kneg en Messias, hoog en verhewe, ja baie hoog geword (vgl. Jes. 52:13). Daarom sal nasies opspring en gedoop word, en daarom betoon konings respek (Jes.49:7; 52:15; vgl. KJV; vgl. Mat. 28:18-20). Ja, so trek die Messias nou almal na Hom toe (vgl. Joh. 12:32). In Jesaja 54 hoor ons dan dat die volk Israel opgeroep word om te jubel, want nou kan Israel, die bruid wat onvrugbaar was, ’n groot nageslag hê. En dan kom die oproep in Jesaja 55 na die hele wêreld om dit te kom neem wat die Messias bewerkstellig het.

2023/03/06

Die weg van seën vir die nasies

Lees: Gen. 12:1-9

Gedagte vir kinders: Die God wat jou roep om Hom te volg, gee wonderlike beloftes.

Oorsig: In Genesis 11 lees ons van mense wat vir hulleself ’n naam wou maak met hulle groot projek met die toring van Babel. Die Here het hulle geoordeel deur hulle tale te verwar en toe het die geslagte oor die hele aarde versprei. Ons hoor dan hierna van die stamboom van Sem. Uit hierdie stamboom is Abraham gebore en deur Hom sou die HERE sy plan vir die wêreld in werking stel en wys hoe Hy ’n naam aan iemand gee. Ja, ’n groot naam sou nie gebeur omdat mense dit vir hulleself wou maak nie, maar op die weg wat God daarvoor bepaal het. Deur die martelaar, Stefanus, weet ons dat hierdie besondere pad wat God met die wêreld sou stap deur die volk Israel tot by die Messias, begin het toe God aan Abram verskyn het toe hy in Mesopotamië, in die land van die Chaldeërs, gebly het (Hand. 7:2, 4).

2022/11/21

Hier kan niemand toeskouer bly nie

Lees: Luk. 23:27-46

Gedagte vir kinders: Ons word geroep om Jesus Christus te antwoord oor sy kruis.

Oorsig: Die Here Jesus is weggelei na waar Hy gekruisig sou word en baie mense het Hom gevolg en die vroue het erg gehuil en getreur (v.27). Die Here Jesus het toe omgedraai en vir hulle gesê dat hulle eerder oor hulle kinders moes huil. Die rede was dat daar dae van oordeel sou kom waar mense met kinders baie swaar sou kry (v.28-29). Soos in die tyd van die ballingskap (Hos. 10:8) toe die wrede soldate die mense afgemaai het, sou ook hulle uitroep dat die berge hulle sal bedek as God se oordeel kom. Want as hulle gedoen het wat hulle doen aan die groen hout (Hy die onskuldige in rustiger tye), moes hulle weet wat sou gebeur as die oordeel kom oor die droë hout (sondige mense en hul kinders in oorlog. Vgl. v.30-31). Saam met Jesus is daar ook twee kwaaddoeners weggelei om gekruisig (“tereggestel”) te word.

By die plek wat Hoofskedel genoem word (Lukas gebruik nie die Aramese woord Golgotha nie, om dit vir die heidene te beskrywe), het hulle die Here Jesus en die kwaaddoeners gekruisig, een aan sy regterkant en een aan sy linkerkant. Jesus het toe daar aan die kruis gesê: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Hulle het toe sy klere verdeel en die lot daaroor gewerp oor wie wat moet kry (v.33-34). En die volk het alles net bekyk en die leiers het met Hom gespot: “Hy kon ander verlos, maar laat Hy nou Homself verlos as Hy die Messias, die uitverkorene van God is.” Ook die soldate het gespot en vir hom asyn gebring en gesê dat as Hy die Koning van die Jode was, soos wat in die bekende tale - Grieks, Romeins en Hebreeus - bo sy kop geskrywe is, Hy Homself moes verlos (v.35-38).

Een van die kwaaddoeners het ook gespot en gesê dat as Hy die Messias was, Hy Homself en hulle moes verlos. Maar die ander een het (1) hom bestraf en gevra of ook hy God nie vrees terwyl hyself in die oordeel was. Hy het (2) daarop gewys dat hulle hul verdiende loon gekry het, maar dat Jesus niks verkeerd gedoen het nie. Toe het hy (3) vir Jesus gevra om aan Hom te dink wanneer Hy in sy koninkryk kom. En die Here Jesus het geantwoord dat die man sommer daardie dag saam met Hom in die Paradys, (plek by God. Vgl. Op.2:7) sal wees (v.39-43). En toe, in die middel van die dag, om 12 uur (die sesde uur), het daar duisternis oor die hele aarde gekom vir drie uur lank. En die son is verduister en die voorhangsel van die tempel het middeldeur geskeur. Toe het die Here Jesus met ’n groot stem uitgeroep en gesê: “Vader, in u hande gee ek my gees oor!” En toe het Hy sy laaste asem uitgeblaas (v.44-46; vgl. Ps.31:5).   

Besprekingsvraag: Is die geredde kwaaddoener die uitsondering of ’n model vir elke sondaar?

Insig: In die sentrum van die evangelie staan die boodskap van die kruis. Aan die einde van ’n jaar is dit goed om weer die kern van alles voor oë te hou. Daar was geen ander weg nie, want ons kan net vrede met God verkry deur die bloed van die kruis (vgl. Kol. 1:20). 

2022/09/07

Die God wat deeglik soek en vind

Lees: Luk. 15:1-10

Gedagte vir kinders: God soek sy afgedwaalde kinders deeglik totdat Hy hulle vind.

Oorsig: Dit is baie insiggewend dat die tollenaars (belastinggaarders) en sondaars (met openlike sondige leefstyle) die gewoonte gehad het om na die Here Jesus te kom en na om

Hom te luister (v.1). Dit laat ons besef dat die Here Jesus iets anders uitgestraal het as die Fariseërs en die Skrifgeleerdes wat die godsdienstige leiers van die volk was, maar duidelik nie baie tyd gehad het vir mense wat afgedwaal het nie. Die wrede Romeinse regering het byvoorbeeld die tollenaars toegelaat en aangespoor om meer as die nodige belastinggeld van hulle eie volk te eis sodat hulle so die staat asook hul eie sakke kon verryk. En tog het die Here Jesus se bediening van ware geregtigheid ook hierdie mense aangetrek en Hy het hulle ontvang en selfs saam met hulle geëet. Om saam met iemand te eet beteken tog dat jy baie nou bande met iemand het. Die godsdienstige leiers was hieroor ontsteld en het gemurmureer (v.2)   

Die Here Jesus het toe aan hulle die gelykenis vertel van iemand wat 100 skape het en een verloor. Enige herder in daardie dae sou die 99 in die woestyn laat staan (waarskynlik by toesighouers) en agter een wat verlore is aangaan (1) totdat hy dit kry (v.3-4). Dit sou ook nie daar stop nie, maar hy sou die skaap (2) op sy skouers sit om terug te dra, en (3) dit sou met groot blydskap gedoen word. En as hy by sy huis kom sou hy nog verder (4) sy vriende en bure roep en vir hulle sê om saam met hom (waarskynlik deur ’n fees) bly te wees omdat hy sy skaap gekry het wat verlore was (v.5-6). Die Here Jesus het toe vir hulle verduidelik dat daar so blydskap in die hemel sal wees oor een sondaar wat hom bekeer, meer as die 99 wat die bekering nie nodig het nie (v.7).

2019/09/10

Pinkster en oom Paul

Pinkster is ’n gevaarlike fees wat ons elke jaar vier. Die Bybel leer dat waar die Heilige Gees werksaam is, daar dikwels opskuddings en vervolgings plaasvind. Die Gees van God het nie gekom om ons mak te maak nie, maar vol lewensdurf en planne om gevaarlike wapens in God se koninkryk te wees (vgl. Rom. 6:13). 

God se Gees het gekom om ons van vreesagtigheid vry te maak. Dit bly een van die mees vertroostende, mees uitdagende, mees gebalanseerde uitsprake – om te hoor dat God ons ’n gees van krag, liefde en selfbeheersing gegee het (2 Tim. 1:7). Sommige praat baie van krag, ander van liefde, en ander van selfbeheersing. Om egter hierdie drie eienskappe in harmonie uit te leef, is ’n saak wat net die Gees van God in ons kan bewerk. Die goeie nuus van Pinkster is dat God hierdie bekragtiging reeds in Christus en sy Gees aan ons gegee het. Die vraag is daarom opnuut of ons dit nog in hierdie Gees waag met die Here. 

Dit is ook ’n ontblotende vraag of ons regtig wil hê dat die Heilige Gees kragtig onder ons sal werk. Want sien, waar die Gees werksaam is, gaan ons in die spervuur beland, eerstens by God wat ons nie gaan los soos ons is nie, en tweedens by mense wat hul eie bydraes gaan maak om ons te vorm.

2013/09/10

Genade moet skoon gedrink word

Robert Farrar Capon is onlangs oorlede. Kyk hier, hier en hier om jou aptyt vir die man se werk aan te wakker. Ek het een van sy bekende aanhalings oor die Reformasie vertaal vir ons kerkblad. Capon laat ons besef dat die Reformasie nie as opgewarmde kos bedien kan word nie. Ons het nodig om in die gloed daarvan te gaan staan as ons dit vars wil opskep. Hier is dan nou 'n poging om Capon in Afrikaans te laat praat oor daardie woord wat bedoel is om ons 'n geseënde dwarsklap te gee:

2013/08/02

Kwaad in die kerk?

Dit is nie net Afrikaners wat aan afstigting ly nie. Die afsplitsing sindroom sit in almal se bloed. Mense verenig dikwels rondom dit wat Girard 'n offerkrisis noem - daar waar die spanning geleidelik oplaai tot by die punt van toornontbranding op, of toornverbanning van, een of ander sondebok. Dit gebeur selfs in kerke en dan skeur ons maklik af of verban iemand in die naam van een of ander sogenaamde beginsel. Hierdie aksie sluit dikwels aan by die bluf-jouself vriendekring wat in die vorige skrywe genoem is. Indien jy die normale struktuur van menige kerkskeuring beter wil begryp, kan Doug Wilson se onlangse besinning 'n ver ent help. En in die lees ontvang 'n mens sommer op die koop toe weer die evangelie in sy onverdunde formaat.

2013/07/26

Oor aardbewings en troebadoere

God is nie gaaf nie; God is nie Oom nie; God is 'n aardbewing - Gillian Rose

Jesus, die Seun van God, dryf duiwels uit met niks meer nie as die melodie van sy stem. Jesus die Heilige Kryger is Jesus die Troebadoer - Peter Leithart

2013/07/17

Glad nie gekompliseerd nie

As jy so nou en dan nodig het om 'n vars aandoening van genade te hê, is Toby Sumpter altyd 'n goeie opsie om te oorweeg. Lees, drink in, en verwonder jou.

2013/07/01

Sekularisasie en bypassende offers

Gil Bailie is nog nie klaar met ons nie. Die ou is gewoon 'n prik-prins en terg jou met idees sover hy praat. Dit moet jou laat nadink as jy hoor dat ook hy reken dat René Girard jou kop oopskop met sy mimetiese teorie. Maar wag, blootstel is hier die beste medisyne. 

Bailie reken dat die evangelie 'n desakraliserende krag in ons midde is. Toe die voorhangsel in twee geskeur en die offers afgeskaf is in Christus, kon godsdienstigheid nooit weer dieselfde wees nie. Vir Bailie het dit op voetspoor van Girard daarmee te doen dat Christus as sondebok die skuldverplasingsmeganisme eens en vir altyd aan die kaak gestel het as niksseggend buite Hom. Ek het nie volle vrede met hul verengde siening van die betekenis van Christus se kruisdood nie, maar dit is nou nie ter sprake nie. Die vars invalshoek wat Bailie bring is dat dit die unieke roeping van Christus is om die desakralisering van godsdiens te bemiddel op so 'n wyse dat dit gepaard gaan met 'n verhoging van godsdienstige sensitiwiteit. Dit klink soos 'n kontradiksie, maar dit is juis wat dit so uniek maak! Net Christus kan dit doen dat jou offerdrang afgeskaf word terwyl jou godsdienstige sensitiwiteit verhoog. En hier kom nou Bailie se witblits opmerking: As Christenskap nie nie sy regmatige plek inneem nie, vind daar eenvoudig 'n desakralisering in die wereld plaas wat inplof in sekularisering. Desakralisering word dus verwring tot sekularisering. En as jy nog nie regop sit nie, maak gereed vir die tydbom-uitspraak: Sekularisasie sal een of ander tyd herkonstitueer in een of ander offersisteem. Gewaarborg. 

Sekularisasie lyk aanvanklik na 'n algehele breuk met godsdiens, maar dit begin altyd van voor af om dieselfde patroon te herhaal. Waarom? Indien jy bekend is met mense en verder erken dat René Girard iets beethad oor jaloesie en spanning wat oplaai tot by die punt van sondebokontlading, behoort jy nie verbaas te wees nie. Bailie roep ons op om uit te kyk vir die sogenaamd algehele breuke in die geskiedenis. Uiteindelik doen die "nuwe begin" presies dieselfde as wat godsdiens nog altyd gedoen het: Die bloed vloei vir een of ander saak soos wat die nuwe weergawe van offers gebring word. Vra maar vir die Franse revolusie. En verligte sekulêre mense is te blind om te besef dat hulle nie werklik vry is van die offermotief nie.

2012/08/16

Denke van dankbaarheid

Net so 'n voorloop ietsie om die aptyt aan te wakker. Dr. Peter Leithart bied hierdie termyn 'n vak genoem "Gift and Gratitude" aan by die instelling waar ek klasloop. Dit maak deel uit van 'n boek wat DV volgende jaar gaan verskyn. Dink Seneca, dink Mauss en postmoderne filosowe soos Derrida se gissings wat uiteindelik aan die lewende Woord gemeet word. Leithart stel dat die basiese probleem met Descartes se cogito ergo sum (ek dink, daarom is ek) aanval was die hele basis waarvandaan dit lanseer is - twyfel in plaas van dankbaarheid. 'n Filosofie wat lanseer vanuit gawe en dankbaarheid, sê Leithart, sal heeltemal anders lyk. Dit het uiteindelik gevolge in elke uithoek, selfs in ekonomie en politieke filosofie. 'n Mens wonder byvoorbeeld of Heidegger iets, let wel, nie alles nie, beethad toe hy gestel het: denken ist danken. Sekere dramas van Shakespeare (bv. King Lear) toon trekke dat hy Seneca gelees het en wys hoe spanning ontketen wanneer gawe en opgawe nie in gepaste interaksie dans nie. Gehoek? Ja, hoe kan dit anders as ons die eggo's van genade in hierdie mymeringe hoor. Genade-denke behoort mos te resoneer met dankbaarheid en nie met dankbarheid nie. Ek hoop om van tyd tot tyd 'n paar klasnotas hier te deel. 

2012/08/07

Hoor en hoera mag saamloop

Luther het geworstel om die geregtigheid van God te verstaan, bevrydend te verstaan. Ons worstel steeds.   As God se Gees ons nie in die spervuur van ontdekking plaas nie, sal ons met teologiese woordeboeke en al met koue harte kwyn. Maar ons is mense met wie God baie simpatie het. Dit is eenvoudig hoe Hy is. Hy is vinnig  om ons jammer te kry. Hy hou dit met ons uit. Hy is baie goed vir ons. En Hy gee aan ons 'n atmosfeer waar ons kan asemhaal in sy teenwoordigheid. In die taal van die Bybel, Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid (Ps. 145:8). Hy is so genadig dat Hy selfs teologiese woordeboeke gebruik om ons te verras. Ook teoloë word gebruik - wonder bo wonder

Voor ons by hierdie fenomeen uitkom, is dat dalk goed om net gou weer 'n draai by die bekende 1 Jn 1:9 te maak om ons in stemming te bring. Net twee vinnige gedagtes: "As 'n man 'n ring aan die linkerhand se ringvinger dra, is hy getroud." Die "as" in die vorige sin is nie voorwaardelik bedoel nie, maar dui 'n bepaalde stand van sake aan. Dit is beter om 1 Jn. 1:9 se "as" ook so te verstaan. Wanneer 'n Christen sy of haar sonde bely, gebeur daar sekere skreiende dinge. Verder: Waarom staan daar dan dat God regverdig is om ons te vergewe? Die kategismusantwoord is sekerlik tog dat Hy nie sonde aan ons sal straf wat Hy reeds aan sy Seun gestraf het nie. 

Hoor ons dit: "regverdig om ons te vergewe"? Ek dink dit is wat Luther gehoor het. Hy het gehoor en gehoera. Ja, ek weet, ek moes eintlik 'n uitroepteken aan die einde van die vorige sin geplaas het. Maar dit sal meer van pas wees wanneer ons saam hoera skreeu. Dit bring ons terug by die wonder dat God selfs teoloë kan gebruik om ons saam hierby uit te bring, selfs toeloë met wie ons nie in alle opsigte saamstem nie. Luther het ontdek en ons het saamgeleer om die geregtigheid van God te waardeer. Dit is 'n oordeel wat nie net oordeel nie, maar vrymaak, 'n eis wat nie net vra nie, maar gee. God eis en gee die geregtigheid waaroor Hy nie 'n kompromie sal aangaan nie. En as jy se dat jy hoor, maar steeds 'n skuinsskoot nodig het, hoor 'n ander Lutheraan, Robert Jenson:

"Wanneer ons sê dat God regverdig is en vra wat dit beteken, dan wys ons na Jesus se vriendskap met sondaars."

Omdat God regverdig is, is die Here Jesus vriendelik met sondaars soos ek en jy. Wat 'n geseënde paradoks! God is regverdig en daarom is ons vry. Net die evanglie maak dit waar. Buite die evangelie, buite Christus, is daar geen vriendelikheid nie. Net oordeel. En dit is waarom ons die oproep moet hoor om in te kom. Dit is baie koud en eensaam buite.

2012/06/20

Ons sonde aan flarde

In 'n vorige aflewering was sprake van die plofkrag van ware bekering. Kom ons kyk na die plofkrag uit 'n ander hoek - die oorsprong van die plofkrag. Ek en jy het meer as kernplofkrag nodig as ons wil hoop om ware bekering te ken. Die goeie nuus is dat dit presies is wat die evangelie van Jesus Christus bied. Lees hier as jy weer 'n behoefte het om te weet dat jou sonde, hoe groot ook al, aan flarde geskiet kan word. Sterker gestel, lees biddend as jy behoefte het aan 'n boodskap wat jou ou mens (weer) voor die evangeliese kernmissiel plaas. Die Bybel praat van uitdelging en ontsondiging van ons sonde (vgl. Ps. 51:3,9). En dit liewe vriend/vriendin, is die rede waarom daar vir jou en vir my hoop is.