2013/09/10

Genade moet skoon gedrink word

Robert Farrar Capon is onlangs oorlede. Kyk hier, hier en hier om jou aptyt vir die man se werk aan te wakker. Ek het een van sy bekende aanhalings oor die Reformasie vertaal vir ons kerkblad. Capon laat ons besef dat die Reformasie nie as opgewarmde kos bedien kan word nie. Ons het nodig om in die gloed daarvan te gaan staan as ons dit vars wil opskep. Hier is dan nou 'n poging om Capon in Afrikaans te laat praat oor daardie woord wat bedoel is om ons 'n geseënde dwarsklap te gee:

"Die Reformasie was ’n tyd toe manne blind geword het, strompelend dronk, omdat hulle in die stowwerige onderste verdieping van die laat Middeleeue ’n hele kelder vol van vyftienhonderd jaar oue wyn ontdek het, twee honderd persent beproefde Genade – bottel op bottel van pure distellaat van die Skrif, en een teug wat enigeen sou oortuig that God ons eiehandig red. Die woord van die Evangelie – na al daardie eeue van probeer om jouself in die hemel op te hys deur bekommerd te wees oor die perfeksie van jou eie werke – het skielik geblyk ’n eenvoudige aankondiging te wees dat die gereddes tuis was voor hulle begin het ... Genade moet skoon gedrink word: geen water, geen ys, en beslis geen gemmerbier nie; nie goedheid of slegtigheid of blomme wat bloei in die lente van supergeestelikheid kan toegelaat word om in te meng in hierdie saak nie."