Wys tans plasings met die etiket Genesis. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Genesis. Wys alle plasings

2024/02/16

Toetsing en voorsiening

Lees: Gen. 22:1-18

Gedagte vir kinders: Die Vader het die kruisoffer van die Here Jesus in ons plek voorsien.

Oorsig: Nadat Isak gebore is deur God se belofte toe Abraham reeds 100 jaar oud en Sara 90 jaar oud was, toe Isak al groot was en ten minste hout kon dra, het daar ’n besondere ding gebeur. God het Abraham op die proef gestel en Abraham by die naam geroep: Abraham! Abraham het gehoorsaam geantwoord en toe het God vir hom gesê om Isak, sy enigste (eniggebore/geliefde) te neem wat hy liefhet en om te gaan na die land Moria. Daar moes hy Isak offer as brandoffer op een van die berge wat God sou aanwys (v.1-2).

Abraham het toe gehoorsaam en sommer die more vroeg klaargemaak (vgl. Gen. 21:14) en sy esel opgesaal  en twee dienaars saam met hom en Isak geneem, saam met hout vir die brandoffer (v.3). Op die derde dag het Abraham die plek van ver af gesien en vir die dienaars gesê om by die esel te bly. Hy en Isak sou verder sal gaan om te aanbid en dan terugkom (v.4-5). Hy het toe die hout op Isak gesit en hyself het die vuur en die mes geneem. Isak het vir Abraham gevra waarom daar vuur en hout is, maar nie ’n lam vir die brandoffer nie. Abraham het toe geantwoord (telkens: “my seun”) dat God vir Homself die lam vir ’n brandoffer sal voorsien. So het hulle saamgeloop (v.6-8). Toe hulle by die plek kom wat God aangewys het, het Abraham (1) die altaar gebou en toe (2) die hout reg gelê. Daarna het hy (3) sy seun Isak gebind en hom op die altaar bo-op die hout gesit. En toe neem Abraham die mes (v.9-10).

Toe roep die Engel van die van die hemel af: “Abraham, Abraham!” En Abraham se antwoord: Hier is ek! Hy het toe gesê dat hy nie sy hand na die seun moes uitsteek nie en bygevoeg: “... want nou weet Ek dat jy God vrees, en jou seun, jou enigste, van My nie teruggehou het nie.” (v.11-12). Toe sien Abraham skielik ’n ram wat agter in die bos met sy horings vasgeraak het. Abraham het toe die ram geneem en as brandoffer in die plek van Isak geoffer en die plek genoem: Die HERE sal voorsien! So word daar vandag nog gesê: Op die berg van die Here sal dit voorsien word (v.13-14). Die Engel van die HERE het toe weer na Abraham geroep: “Ek sweer by myself, spreek die HERE, omdat jy dit gedoen het en jou seun, jou enigste, nie teruggehou het nie, dat ek jou (1) ryklik sal seën en (2) jou nageslag grootliks sal vermeerder.” Hy het gesê dat hulle soveel sal wees soos die sterre en soos die sand. Sy nageslag sou verder (3) die poort van die vyande in besit neem, en (4) dat in Abraham se nageslag al die nasies van die aarde geseën sou word. Dit alles omdat Abraham na sy stem geluister het (v.15-18).

Besprekingsvraag: Hoe wys Abraham en Isak heen na die Nuwe Testament?

Insig: Die wandel met God deur die geloof is vol opwinding, maar sluit ook hoë eise in. Ons beleef so ’n lewe soms as skynbaar teenstrydig (paradoksaal). Na soveel jare word die belofte oor Isak se geboorte uiteindelik waar, en nou moet Abraham sy enigste seun wat uit God se belofte gebore is, gaan offer? Ons hoor egter van die begin af dat Abraham beproef word. So kom ook ons by definitiewe toetsings/beproewings in ons lewe. In ’n wêreld waar alles verdra word (tolerance) en definitiewe offers dan gebring word, maak dit nie sin nie, maar by God wel. Dink ook aan Job. Waarom toets/beproef God ons? 

2023/03/06

Die weg van seën vir die nasies

Lees: Gen. 12:1-9

Gedagte vir kinders: Die God wat jou roep om Hom te volg, gee wonderlike beloftes.

Oorsig: In Genesis 11 lees ons van mense wat vir hulleself ’n naam wou maak met hulle groot projek met die toring van Babel. Die Here het hulle geoordeel deur hulle tale te verwar en toe het die geslagte oor die hele aarde versprei. Ons hoor dan hierna van die stamboom van Sem. Uit hierdie stamboom is Abraham gebore en deur Hom sou die HERE sy plan vir die wêreld in werking stel en wys hoe Hy ’n naam aan iemand gee. Ja, ’n groot naam sou nie gebeur omdat mense dit vir hulleself wou maak nie, maar op die weg wat God daarvoor bepaal het. Deur die martelaar, Stefanus, weet ons dat hierdie besondere pad wat God met die wêreld sou stap deur die volk Israel tot by die Messias, begin het toe God aan Abram verskyn het toe hy in Mesopotamië, in die land van die Chaldeërs, gebly het (Hand. 7:2, 4).

2023/02/27

Die fondasie van ware vreugde

Lees: Ps. 32

Gedagte vir kinders: Kinders van die Here is gelukkig omdat God hulle vergewe het.

Oorsig: Hierdie Psalm van Dawid word ’n onderwysing genoem (vgl. Ps. 42, 45). Ons hoor hier wat die diepste rede is vir ’n mens wat welgeluksalig is. Dit is een wie se oortreding teen God vergewe is. Die Psalmis verduidelik dan verder dat dit gaan oor iemand wie se sonde bedek is (v.1). Net daarna word dit verder verduidelik met ’n ander woord vir sonde en oortreding en dit is ongeregtigheid. Dit gaan oor iemand aan wie die HERE die ongeregtigheid nie toereken nie. Hier word ook bygevoeg dat dit iemand is in wie se gees geen bedrog is nie (v.2). Omdat dit hier oor vergifnis gaan, beteken “geen bedrog” hier in die eerste plek iemand wat geen sonde probeer toehou nie, maar dit eerlik na God se lig bring sodat Hy dit kan vergewe.

2022/05/31

Wanneer God ons planne ondersoek

Lees: Gen. 11:1-9

Gedagte vir kinders: Al die nasies kan deur Jesus Christus saam gehoorsaam aan God wees. 

Oorsig: Genesis 11 vertel die laaste gebeure van die sogenaamde oergeskiedenis. Dit gebeur ná die sondvloed van Noag. Die afstammelinge van Noag se seuns word oorvertel en dan word hierdie geskiedenis van Babel spesifiek geplaas tussen die weergee van twee geslagslyne van die nageslag van Sem. Voor Babel hoor ons van die geslag van Sem oor Joktan (10:25-26) en ná Babel hoor ons van die geslag van Sem oor Peleg (11:17-19).  

Ons hoor dat die hele aarde nog dieselfde taal en woorde gehad het (v.1). Soos Adam en Eva en later Kain, trek hulle ook weg na die ooste en vind ’n besondere gebied in die land Sinear (v.2), daar waar Nimrod sy ryk van Babel gehad het (Gen. 10:9-10) en wat later bekend gestaan het as Mesopotamië. Hulle het daar goeie middele vir bakstene en ’n tipe sement (lymgrond vir klei) gevind (v.3). Hulle het verder met mekaar gepraat en mekaar aangemoedig om ’n stad met ’n toring te bou wat tot ver in die hemel sou opgaan. Hulle het gedink om so vir hulleself ’n naam te maak. Die doel hiervan was om in teenstelling met God se bevel (vgl. Gen. 1:28), nie oor die hele aarde verstrooid te raak nie (v.4).  

Hulle het wel gedink dat hul toring tot aan die hemel sou reik, maar ons lees dat die HERE steeds moes neerdaal om die stad en die toring te beskou waaraan die mensekinders gebou het (v.5). Die HERE het gesê dat hulle nou een volk en een taal is, en dat dit net die begin van hulle hulle slegte planne was. As hulle so sou aangaan, sou niks van hulle slegte planne meer onmoontlik wees nie (v.6). Hy het toe in teenstelling met hulle, ook gesê: “Kom, laat ons...”. Daardeur verstaan ons dat Hy met die ander Persone van die heilige Drie-eenheid en moontlik met sy engele gepraat het om hulle planne te laat misluk. God het toe hulle taal daar verwar sodat hulle mekaar nie kon verstaan nie (v.7). Die gevolg was dat hulle uit mekaar begin gaan het en dat die mense oor die hele aarde versprei geraak het. Dit het ook beteken dat hulle opgehou het om die stad te bou (v.8). Die mense het die plek toe Babel genoem, wat “verwar” in Hebreeus beteken, omdat die HERE daar die taal van die hele aarde verwar het. Later het sommige gesê dit beteken volgens Akkadies eerder “Poort van God”. Dit is wat die mense daarvan gedink het. Ons moet eerder na die Bybel luister en die verwarring in die naam Babel hoor. Want waar God nie is nie, ontstaan verwarring altyd een of ander tyd.    

Besprekingsvraag: Is eenheid altyd ’n goeie ding?

Insig: Babel is tot in Openbaring ’n simbool van afvalligheid en magsoeke en naamsoeke los van God. Sommige sien ooreenkoms hier tussen die toring en die geweldige bergtempels van die ou tyd asook die Babiloniese Ziggoerat wat ’n tempeltoring was. Dit is ’n embleem van ’n Empaaier van hoogmoed, selftevredenheid en selfgenoegsaamheid. Hoe ook al, dit is steeds ’n simbool van elke groot menslike projek sowel as ons eie persoonlike ambisieuse projekte wat nie met God rekening hou nie.

2022/02/18

Ware versoening

Lees: Gen. 45:1-15  

Gedagte vir kinders: Deur Jesus Christus se kruisdood vir ons kan vyande vriende word.  

Oorsig: Josef, die onderkoning van Egipte, openbaar homself hier aan sy broers. Josef moes egter eers sy broers toets. Hy moes uitvind of God hulle harte al verander het. In hoofstuk 42-44 lees ons daarvan en die laaste toets was om te kyk wat hulle sou doen as hy sy bloedbroer as slaaf by hom wou neem. Dit is toe dat Juda hartroerend gepleit het en aangebied het om vir Benjamin in te staan. Dit het bevestig dat hulle wel verander het.

Josef se gesindheid was ook nie om hulle uit die hoogte te verneder toe hy hom aan hulle geopenbaar het nie. Hy het eers beveel dat al die Egiptenare van hom weggaan (v.1). Josef het in trane uitgebars sodat al die Egiptenare dit kon hoor (v.2) en dit bevestig dat sy hart baie ontroerd was teenoor sy broers en dat hy hulle vergewe het. Josef se broers was uit die aard van die saak verskrik (v.3). Josef het toe vir hulle bevestig dat hy hulle broer is wat hulle na Egipte verkoop het (v.4), maar hy het dadelik iets bygevoeg om hulle gerus te stel. Hy het gesê dat hulle nie bedroef of ontstel moes wees dat hulle dit gedoen het nie, want dit was God wat ook daar besig was. God het dit so bestem sodat lewens behou kon word (v.5). Hy het dit verder bevestig deur vir hulle te sê dat die saak groot is en daar nog net twee uit die sewe droë jare verby is (v.6). So het hy dit vir hulle duideliker probeer maak dat God hom vooruit gestuur het om ’n oorblyfsel te verseker wat tot ’n groot verlossing sou lei (v.7).

Vir ’n derde maal het hy herhaal dat hy God agter dit alles sien en nie teen hulle dade vaskyk nie.