2024/02/16

Toetsing en voorsiening

Lees: Gen. 22:1-18

Gedagte vir kinders: Die Vader het die kruisoffer van die Here Jesus in ons plek voorsien.

Oorsig: Nadat Isak gebore is deur God se belofte toe Abraham reeds 100 jaar oud en Sara 90 jaar oud was, toe Isak al groot was en ten minste hout kon dra, het daar ’n besondere ding gebeur. God het Abraham op die proef gestel en Abraham by die naam geroep: Abraham! Abraham het gehoorsaam geantwoord en toe het God vir hom gesê om Isak, sy enigste (eniggebore/geliefde) te neem wat hy liefhet en om te gaan na die land Moria. Daar moes hy Isak offer as brandoffer op een van die berge wat God sou aanwys (v.1-2).

Abraham het toe gehoorsaam en sommer die more vroeg klaargemaak (vgl. Gen. 21:14) en sy esel opgesaal  en twee dienaars saam met hom en Isak geneem, saam met hout vir die brandoffer (v.3). Op die derde dag het Abraham die plek van ver af gesien en vir die dienaars gesê om by die esel te bly. Hy en Isak sou verder sal gaan om te aanbid en dan terugkom (v.4-5). Hy het toe die hout op Isak gesit en hyself het die vuur en die mes geneem. Isak het vir Abraham gevra waarom daar vuur en hout is, maar nie ’n lam vir die brandoffer nie. Abraham het toe geantwoord (telkens: “my seun”) dat God vir Homself die lam vir ’n brandoffer sal voorsien. So het hulle saamgeloop (v.6-8). Toe hulle by die plek kom wat God aangewys het, het Abraham (1) die altaar gebou en toe (2) die hout reg gelê. Daarna het hy (3) sy seun Isak gebind en hom op die altaar bo-op die hout gesit. En toe neem Abraham die mes (v.9-10).

Toe roep die Engel van die van die hemel af: “Abraham, Abraham!” En Abraham se antwoord: Hier is ek! Hy het toe gesê dat hy nie sy hand na die seun moes uitsteek nie en bygevoeg: “... want nou weet Ek dat jy God vrees, en jou seun, jou enigste, van My nie teruggehou het nie.” (v.11-12). Toe sien Abraham skielik ’n ram wat agter in die bos met sy horings vasgeraak het. Abraham het toe die ram geneem en as brandoffer in die plek van Isak geoffer en die plek genoem: Die HERE sal voorsien! So word daar vandag nog gesê: Op die berg van die Here sal dit voorsien word (v.13-14). Die Engel van die HERE het toe weer na Abraham geroep: “Ek sweer by myself, spreek die HERE, omdat jy dit gedoen het en jou seun, jou enigste, nie teruggehou het nie, dat ek jou (1) ryklik sal seën en (2) jou nageslag grootliks sal vermeerder.” Hy het gesê dat hulle soveel sal wees soos die sterre en soos die sand. Sy nageslag sou verder (3) die poort van die vyande in besit neem, en (4) dat in Abraham se nageslag al die nasies van die aarde geseën sou word. Dit alles omdat Abraham na sy stem geluister het (v.15-18).

Besprekingsvraag: Hoe wys Abraham en Isak heen na die Nuwe Testament?

Insig: Die wandel met God deur die geloof is vol opwinding, maar sluit ook hoë eise in. Ons beleef so ’n lewe soms as skynbaar teenstrydig (paradoksaal). Na soveel jare word die belofte oor Isak se geboorte uiteindelik waar, en nou moet Abraham sy enigste seun wat uit God se belofte gebore is, gaan offer? Ons hoor egter van die begin af dat Abraham beproef word. So kom ook ons by definitiewe toetsings/beproewings in ons lewe. In ’n wêreld waar alles verdra word (tolerance) en definitiewe offers dan gebring word, maak dit nie sin nie, maar by God wel. Dink ook aan Job. Waarom toets/beproef God ons? 

Deur die toetsing/beproewing word ons van dros gereinig en ons werke in die krag van die Gees bevestig dat ons geloof eg is (vgl. 1 Pt. 1:7; Jak. 2:20-23; HK 32:vr. 86). Die verbond kom nie so eers tot stand nie, maar dit word wel bevestig as eg (Rom. 2:6-10). Abraham toon groei en sy opstandingsgeloof skitter op pad na Moria, ook  in sy herhaaldelike woorde: “Hier is ek!” (vgl. v. 1,11; Hbr. 11:17-19).

Dit is ook belangrik om te sien wat Abraham se gehoorsaamheid en werke hier dra: Sy Geesgewerkte geloof in die God wat voorsien. Die HERE het dan tot hier so duidelik voorsien. Waarom nie ook nou nie? In elke nuwe donker situasie waar ons niks verstaan nie, kan ons steeds daaraan vashou. Dan seil ons soos bote en vliegtuie in die nag, op instrumente: Sy beloftes en sy Woord totdat dit lig deurbreek. God toets ja, maar let op: Hy voorsien ook en gee uitkoms (vgl. 1 Kor. 10: 13). Let op die stille vertroue van Abraham in die God wat voorsien, wat steeds tederlik met sy seun kan praat en gehoorsaam voortgaan.

Waarom eis God hierdie offer? Dit word later uitgespel dat Hy nie belangstel in offers van kinders soos die heidense afgode nie (vgl. Miga 6:7-8). Die Bybel se groot antwoord: Sodat dit duideliker kan word dat God self voorsien in dit waarvan Hy Abraham spaar. Die ram is die onmiddellike plaasvervangende brandoffer, maar uiteindelik voorsien God sy enigste, sy Seun wat Hy liefhet, om te bevestig dat Hy die volle pad sal stap om te verseker dat sy verbond vir ewig sal bestaan. Abraham (en Isak) se gehoorsaamheid wys heen na die Vader en die Seun se getrouheid. Isak dra die hout, word (gewillig) neergelê as offer, maar word gespaar. Daar naby op Golgotha, naby die tempel (vgl. 2 Kr. 3:1; 2 Sam. 24:16,17), word Jesus Christus nie gespaar nie. Hy, die volmaakte brandoffer word gebring om te verseker dat ons effektief versoen word en dat ons hele lewe aan God toegewy kan wees (Lev. 1:3-9). So kan ons ook nou saam met Abraham oorwinnend wees, die seën van God beleef, en dit na die nasies uitdra.

Werke geraadpleeg:

John Bergsma, The Word of the Lord. Year B.

Brueggemann, W. Genesis: Interpretation, A Bible Commentary for Teaching and Preaching. 

Meredith Kline, Genesis: A New Commentary.

AB Simpson, Christ in Genesis.

Kidner, D. Kidner Classic Commentaries.

Sailhamer, J.H. Genesis, The Expositor’s Bible Commentary.