2024/02/01

Kragtige Bediening

Lees: Mark. 1:29-39

Gedagte vir kinders: Die Kerk verkondig die Naam van die Here Jesus is en die Bose moet vlug.

Oorsig: In die vorige deel het ons gehoor van die eerste kragtige teken wat die Here Jesus gedoen het om te wys dat die koninkryk van God deur Hom naby die mense gekom het. Dit het juis op die Sabbat gebeur en in die sinagoge. Dadelik toe hulle uit die sinagoge in Kapernaum gegaan het, het hulle saam met Johannes en sy broer Jakobus, in die huis van Simon en sy broer, Andreas gekom. (v.29). Die skoonma van Petrus (hy was dus getroud; vgl. 1 Kor. 9:5) het siek gelê aan koors (Lukas, die dokter noem dit ’n hewige koors; vgl. Luk. 4:38) en dadelik het hulle die Here Jesus daarvan gesê (v.30).

Die Here het toe na haar gegaan, haar hand geneem en haar opgerig (letterlik: opgewek) en ons lees dat die koors haar dadelik verlaat het. Wat het sy toe gedoen? Sy het die mense bedien (diakoneo). Toe dit aand geword het en die son onder was (m.a.w. net na die Sabbat), het hulle na die Here Jesus almal gebring wat (1) ongesteld was en (2) van duiwels besete was (v.32). Daar was so ’n toeloop dat die hele stad eintlik by die deur saamgekom het (v.33). Baie wat aan allerhande soorte siektes gely het, het Hy gesond gemaak en baie duiwels is uitgedryf. Hy het die duiwels egter nie toegelaat om te praat nie, omdat hulle Hom geken het (v.34).

Die volgende oggend, vroeg in die more, toe dit nog diep in die nag was, het Hy opgestaan en uitgegaan en na ’n eensame plek vertrek en daar gebid (v.35). Simon (Petrus) en die wat by Hom was het Hom gevolg (gesoek), en toe hulle Hom vind vir Hom gesê: “Almal soek U.” Die Here Jesus het egter vir hulle gesê: “Laat ons na die naburige dorpe gaan, sodat Ek ook daar kan preek.” Die Here Jesus het dus nie daarin belang gestel om mense se verskillende behoeftes en nuuskierigheid te bevredig nie. Hy het sy rede ook daarna gegee oor waarom hulle na die ander naby dorpe moes gaan: “... want daarvoor het Ek uitgegaan.” (v.36-38). En so het die Here deur die hele Galilea, daar in die Noorde van Israel, rondgegaan en spesifiek in die sinagoges  twee dinge gedoen as teken van die koninkryk wat gekom het: Hy het (1) gepreek en (2) duiwels uitgedryf (v.39). Die Here Jesus het dus nie bloot sy eie ding probeer doen nie, maar aangesluit by die aanbidding van sy tyd waar die God van Israel vereer en sy Woord gehoor en geleer is. En prediking het voor duiweluitdrywing en genesing gekom.   

Besprekingsvraag: Hoe sit die Kerk van Christus vandag nog steeds sy bediening voort?

Insig: Die bediening van die Here Jesus het dit sigbaar kom toon dat die wêreld baie gebroke is, maar ook dat sy redding en genesing groter is.  Hy is die groot Geneesheer wat gekom het om liggaam en siel te verlos van die magte van die duisternis en van die Bose. Ons kan dit net begin waardeer as ons besef dat iets drasties fout is in hierdie wêreld. Die Bybel maak dit duidelik dat die wêreld besmet is deur die sondeval. Duiwels wat beheer oor mense kry, allerhande siektes en kwale en gebrokenheid is bewyse van die gevalle werklikheid waarin ons leef. Maar deur sy aardse bediening toon Jesus Christus dat Hy omvattend red en heelmaak en dat dit eendag volmaak sal wees. Die Sabbat was teken van die rus en vrede en herstel wat eenmaal volkome sal wees. Daarom was dit so gepas dat bevryding op hierdie dag gestalte sou kry. Die Kerk getuig steeds daarvan, insonderheid op die oorwinningsdag.  

Ons sien ook duidelik waartoe die Kerk van Jesus bevry word. Daarvan is die skoonmoeder van Petrus so ’n wonderlik eenvoudige teken. Die oomblik toe sy genees word, begin sy om diensbaar te wees. Let op: Ons word gered en heelgemaak om diensbaar aan ander te wees. Dit het in die kern gestaan van Christus se koms na die aarde (vgl. Mk. 9:33-37; 10:42-45). Die Kerk het deur die eeue ook bekend gestaan as die instelling wat dien en wat lyding versag.

 By Jesus Christus is dit egter deel van ’n omvattende bediening waar Woordverkondiging sentraal staan. Die diensbaarheid strek wel ook uit na die lyding van mense (vgl. Hand. 6:2-3). As liggaam van Christus sit die Kerk hierdie benadering voort, maar bedien omvattende genesing in Christus. Dit het daarom met Woord en sakramente te doen en sondebelydenis en herstel. Dit het ook te doen met gebede en sorg oor gebroke werklikhede.  

Dit is hier ook duidelik waardeur die hele bediening gedra en omvou word: Diepe gemeenskap met God self. Dit is opmerklik in Christus se bediening hoe gereeld Hy voor en groot gebeure die stilte en gebed opgesoek. Hier, vroeg in die môre, nog diep in die nag (vgl. Ps. 57:9; 88:14; 92:2-3; Hooglied 3:2-4). Christus se gemeenskap met God word vernuwe in die gebed. Daarsonder is sy hele bediening ondenkbaar. Die geld ook van sy Kerk. Gebed is die gepaste wyse waarop ons voor God verskyn en ook verhoring mag beleef (Mat. 6:6). Dit was ook die nederige weg waarlangs die Christus kruis toe gegaan het, ook toe niemand meer saam kon waak nie. Sodat ons in Hom nou reeds opgerig mag word en mag dien en oorwinnend mag wees oor die magte van die Bose. Dit stel hoë eise aan die Kerk om in die krag van haar Heer die bediening van bevryding en omvattende genesing te bedien. In Hom en in sy krag - deur Woord en sakramente, deur gebed en diens, is dit steeds moontlik en steeds werklik.

Werke geraadpleeg:

John Bergsma, The Word of the Lord. Year B.

Mary Healy, The Gospel of Mark.

Ben Witherington, The Gospel of Mark.  

Michael Card, The Gospel of Passion.