2024/09/28

Die laaste van almal en almal se dienaar

Lees: Mark. 9:30-37

Gedagte vir kinders: As jy werklik groot wil wees, moet jy bereid wees om almal te dien.

Oorsig: Na die verheerliking van die Here Jesus op die berg en die genesing van ’n doofstomme seun daarna, het hulle verbygetrek deur die noorde van die land wat Galilea genoem word. Die Here Jesus wou nie hê dat iemand moes weet nie (v.1) . Die rede was dat Hy vir die tweede maal (vgl. Mk. 8:31 en Mk. 10:32-34) prontuit vir sy dissipels geleer het hoe alles sou afspeel: Die seun van die mens word oorgelewer in die hande van mense en hulle sal Hom doodmaak. Nadat Hy gedood is Hy op die derde dag opstaan (v.31; vgl. Dan. 7:18,21,25; 12:2). Die dissipels het hierdie woorde wat vir hulle geklink het soos ’n gelykenis of beeldspraak, nie verstaan nie. En hulle was bang om Hom uit te vra (v. 32). Miskien wou hulle nie dom klink nie, of miskien was hulle bang om dit nog meer reguit te hoor.

So het hulle in Kapernaum in ’n huis gekom, waarskynlik die huis van Petrus en Andreas wat Hy in daardie gebied gebruik het (vgl. 1:29; 2:1). Daar het Hy hulle gevra wat hulle met mekaar op die pad geredeneer het (v. 33). Hulle het egter stilgebly omdat hulle op die pad met mekaar gepraat het oor wie die grootste is (v.34). En toe Hy in die huis gaan sit het, wat in daardie tyd die lerende posisie van die Meester was, het Hy vir hulle gesê: As iemand die eerste wil wees, moet hy die laaste van almal en almal se dienaar wees (v.35).

Hy het toe (1) ’n kindjie geneem en (2) hom hul midde laat staan en (3) sy arm om hom geslaan (v.36) En toe het Hy vir hulle gesê: Elkeen wat een van sulke kindertjies (1) in my Naam ontvang, (2) ontvang My. En elkeen wat My ontvang, ontvang nie My nie, maar (3) Hom wat My gestuur het (v.37). So het die Here Jesus selfs kinders as die onbelangrikes graag ontvang en so was Hy bereid om die laaste van almal en almal se dienaar te word toe Hy ons sonde op Hom geneem het aan die kruis. Maar daarom het God hom ook opgewek uit die dood en die Naam gegee wat bo elke naam is. Hy wat so met die dissipels (en ons paat0 het dit eerste gedoen, in ons plek. Daarom kan dit nou vir ons moontlik wees deur die krag van die Heilige Gees om ook so te lewe.  

Besprekingsvraag: Hoe maak ons seker dat ons die kruis saam met die dissipels beter begryp? 

Insig: Die Goddelike logika van laastes wat eerste is, is nie iets wat vanself deel van ons lewe is nie. Ons sien dit van ver af maklik raak in dieselfde soort reaksies van die dissipels wanneer die drie uitdruklike aankondigings van die Here Jesus oor sy sterwe en opstanding voor sy kruisiging gemaak word. Wanneer Hy die eerste aankondiging doen, wil Petrus Hom eerder vermaan (vgl. 8:31-33). Wanneer Hy sy derde aankondiging doen, wil sommige sekerheid hê oor hul posisie op trone langsaan Hom (vgl. 10:32-37). En hier na sy tweede aankondiging, verneem ons dat hulle eerder op die pad praat oor wie die grootste is (vgl. v. 31-34). Hulle verwag ’n troon, ’n kroon, sonder die kruis. Ons moet nie maar dink dat dit bloot die dissipels voor die kruis is nie, maar eerder ons elkeen se geneigdheid. So maklik gaan dit steeds om kroon sonder die kruis, en om eerste te wees en die grootste te wees. En so verval ons maklik in jaloerse kompetisie en hoogmoed en magstryde. Dit is waarom nasies teen nasies uiteindelik oorlog voer, en dit is ook maklik die rede vir interne politiek in enige besigheid of maatskappy. Ja, selfs wanneer ons hoor van Jesus Christus en sy kruis, kan ons steeds soos die dissipels beheer word deur vleeslike kategorieë. Dit skreeu veral wanneer ons soos Diotrefes eerste probeer wees in die Kerk (3 Joh. 1:9). Daarom moet ons luister as die Here Jesus hier reeds Koninklik vanuit sittende posisie ook ons met gesag leer. 

Ons word opgeroep om anders as die wêreld oor die grootsheid van die lewe te dink en te doen (vgl. 1 Joh. 2:16). Die wat eerste wil wees, moet bereid wees om die laaste van almal en almal se dienaar te wees. Is dit jou gesindheid waar jy kom en wanneer jy in enige vertrek instap? In die Aramees is die woord vir slaaf en kind dieselfde (talya), en daarom is dit maklik te verstane dat die Here oorgaan in sy betoog van slaaf na kind. Dit gaan oor hulle wat nie enige aansien het nie. Dit gaan daarom ook oor onaansienlikes, gebrokenes en randfigure. Die wat deur God geag word, is bereid om letterlik die laaste van almal en almal se dienaar te wees. Die Here Jesus praat nie net hieroor nie. Hy doen dit soos geen ander nie, vir ons. Hy is bereid om die laaste te wees, soos een wat deur God vervloek is, om ons te red. Ja, so word ons gered van oordeel, maar ook van ons sonde, ons hardheid van hart vir die Goddelike logika van die kruis, ons sug na erkenning, na mag, na die drang om eerste te wees en daarom ook na die drang van verraad. Daarom moet ons nie soos dissipels stilbly as daar oor die kruis gepraat word en ons visie van sukses en die goeie lewe deur die gekruisigde Messias uitgedaag word nie. Hy keer ons visie op wat belangrik is op sy kop en konfronteer ons met Homself wat die laaste van almal geword het, hoewel Hy God is. Laat dit ook op jou inwerk oor daardie saak waaroor jy dalk in jou lewe wil uitroep: Alles maak sin in my lewe, maar nie hierdie saak nie.        

Ons word hier gehelp deur lering wat ander kategorieë oor sukses aan ons denke bedien. Ons woird ook gehelp deur die baie konkrete beeld van ’n kind met Christus se hande rondom Hom. Laat ons in ons geestesoog aanskou en indrink hoe die Heiland sy arms om die kind slaan. ’n Kind kan nie voorgee om onder grootmense onafhanklik en groot te wees nie, want hy is dit eenvoudig nie. Die kind kan maar net sy plek inneem as teenwoordig, in daar-wees, maar allermins die een wat die toon aangee. Maar juis daarom kan die kind ook net wees – daar-wees, kind-wees. Om so elkeen in die Naam van Jesus te ontvang en te hanteer wat net maar daar is, is om Hom te ontvang. Dit beteken ook om die Vader te ontvang wat Christus gestuur het. Reeds in die Ou Testament verneem ons van God se sorg vir die skynbaar onbelangrikes (vgl. Deut. 16:18; Ps. 146:9; Jes. 29:19) en hier word dit bevestig. Ons het hier te make met belangrike implikasies vir die evangelie oor Hom wat vir ons oorgelewer is. Wees bereid om ook oorgelewer te word, maar dan omdat jy bereid is om laaste te wees en diensbaar aan die geringstes. Hierdie Goddelike logika mag deur die Seun en deur die Gees, nou kenmerkend in ons lewe word. En so mag ons anders begin dink en doen oor wat nou eintlik belangrik en groot is in die lewe.

Werke geraadpleeg:

Mary Healy, The Gospel of Mark.

Ben Witherington, The Gospel of Mark.  

Michael Card, The Gospel of Passion.

John Bergsma, The Word of the Lord. Year B.