Gedagte vir kinders: Mooi en lelike dinge begin in jou hart.
Oorsig: Tydens die Here Jesus se
bediening het sy woorde en dade bekend geword aan die godsdienstige leiers in
die hoofstad van Jerusalem. Hy het egter dikwels daar in Galilea in die noorde
waar Hy grootgeword het, bedien, en daarom kon hulle nie in alles vanuit
Jerusalem ’n oog oor Hom hou nie. Op ’n stadium het hulle lede van die
strengste godsdienstige party, die Fariseërs, asook sommige Skrifgeleerdes wat
die wet ywerig saam met hulle eie mondelinge tradisie daaroor gehou het, Hom
kom besoek.
Hulle sien toe dat die dissipels nie water op hulle hande gegiet het voor
ete nie en daarom volgens hul rituele onrein was. Hulle het dit afgekeur (v.2).
In die Ou Testament sien ons dat net die priesters onder sommige omstandighede
sulke voorskrifte gehad het (Ex. 30:17-21; Num. 18:11-13). Maar in daardie tyd het die Fariseërs en die al die Jode nie geëet as
hulle nie deeglik hande gewas het nie, omdat hulle vasgehou het aan die
gewoontes (oorlewering/tradisie) van die ou mense (v.3). So wou hulle kontak
met die heidenwêreld beperk. Nadat die Here Jesus hulle persoonlik geantwoord
het (v. 4-13), het Hy die hele skare na Hom geroep om sy antwoord vir almal te
verduidelik (v.14): Geen kos wat van buite af in mense ingaan, maak onrein nie,
maar eerder die dinge wat van iemand se hart uitgaan. Elkeen wat ore het, moes
hoor (v. 15-16).
Toe Hy weg van die skare in ’n huis gekom het, het sy dissipels oor sy
gelykenis gevra (v.17). Hy het toe gevra of hulle ook so sonder verstand was.
Hulle moes begryp dat alles wat van buite af in die mens ingaan, nie ingaan in
die hart nie, maar in die maag en heimlik uitgaan en al die voedsel rein maak
(v. 18-19). Hy het toe verduidelik dat net dit wat uit die mens se hart
uitgaan, ’n mens onrein maak (v.20). Hy het toe op 12 kenmerke gewys wat van
binne kom, uit die hart, en mense onrein maak: Slegte gedagtes, egbreuke
(owerspelle), hoererye (porneia),
moorde, diefstalle, hebsug (slegte begeertes/bedrog), boosheid, losbandigheid,
afguns (bose oog), lastering, hoogmoed, dwaasheid (ligsinnigheid). Daarmee het
die Here Jesus nie net die oorlewering van die ou mense oor allerhande wassinge
vir gewone mense wat nie in die Bybel was, verwerp nie, maar het Hy ook
duidelik gemaak dat ook sekere seremoniële wette uit die Ou Testament wat na
Hom heengewys het, na sy kruis nie meer sou geld nie.
Besprekingsvraag: Waarom was daar eksterne rituele en seremonies in die Ou Verbond?
Insig: Die Here Jesus maak dit hier duidelik dat Hy gesag het om ’n nuwe bedeling aan te kondig. Dit gaan nie daaroor dat Hy maar bloot, soos mense ook vandag, die Ou Testament bevraagteken en daarmee sanksie gee aan elke rebel wat elke heersende orde uitdaag nie. Nee, Christus eer en bevestig juis die diepste bedoeling van die wet, maar maak ook duidelik dat die koninkryk van God in Hom werklik naby gekom het. Ja, ’n nuwe era sou deur Hom aanbreek. Soos wat Noag en sy nageslag na die sondvloed toegelaat is om, anders as Adam en Eva (vgl. Gen. 1:29-30), die vleis van diere te eet (vgl. Gen. 9:3), so sou mense, nadat Jesus Christus gekom het, toegelaat word om voortaan enigiets met danksegging te kon eet (1 Tim. 4:1-4). Daarom moet ons sy saamroep van die skare verstaan as ’n verklaring wat tot vandag toe in ons ore weerklink: Hy openbaar die diepste bedoeling van die wet, wys die vervulling in Hom aan en toon ook aan waar onreinheid eintlik setel.
Dit bring dan die vraag na vore
waarom die Ou Testamentiese rituele dan gegeld het in die Ou verbond. Dink
byvoorbeeld dat hulle nie aan lyke en aas kon raak en sekere diere nie kon eet
nie (vgl. Lev. 11). Die antwoord is dat dit tydelike en voorbereidende
maatreëls was solank die Messias nog nie gekom het nie om die volk te herinner
dat hulle afgesonder is, dat die toegang tot die Allerheiligste nie oop is nie,
en dat onreinheid jou van toegang weerhou en in verband staan met dood, stank, grilligheid
en onsmaaklikheid. Dit was seremoniële en simboliese handelinge wat hulle
sensitief moes hou dat hulle afgesonder voor God moes lewe in afwagting op die Messias.
Dit is vervul deur Jesus Christus wat alleen die ware reinheid gebring het deur
sy soenoffer. Soos wat padtekens nie meer nodig is wanneer ’n mens jou
bestemming bereik het nie, so was die seremoniële handelinge nie meer nodig
nadat Christus gekom het nie. Weliswaar het dit die Kerk ’n tyd lank geneem om
die nuwe bedeling in Christus en die toegang van die heidene beter te begin
verstaan (vgl. Hand. 10,15, Rom. 9-11, 14, Gal. 2). Maar uiteindelik het God
deur sy Woord en Gees dit al hoe duideliker gemaak dat die seremoniële wette
van die ou verbond na Christus wegval en dat die weg na alle heidene toe oop is
en dat die padtekens nie meer nodig is noudat Hy gekom het nie.
Dit beteken egter nie dat die
wet ontbind is nie, maar eerder dat dit vervul is. Dit beteken dat dit in vervulde gestalte steeds geld en selfs
dieper sny (vgl. Mt. 5-7). Ons moet besef dat ons diepste onreinheid nie
bestaan in eksterne handelinge nie. Uiterlike deugpronkery deur bepaalde rituele,
afkoms of selfs uiterlik polities korrekte handelinge, dui nie werklik reinheid
aan nie. Ware reinheid of onreinheid kom uit die hart. Daarom maak die Here ons
hier bewus van 12-13 (afhangende van die vertaling) soorte handelinge/bose
gedagtes. Dit is duidelik dat dade (let op meervoud van eerste klomp woorde) en
gesindhede hier verweef is en beide dui op ’n slegte oriëntasie vanuit die hart.
Wat gaan in jóú hart aan (vgl. Jak. 3:11)?. Dit
is of lewende water of riool wat daar opborrel. Die goeie nuus is dat Jesus
Christus die Groot Geneesheer is en ons harte deur sy offer kan reinig en aan
ons lewende water kan gee. Dit word reeds aan ons by ons doop toegesê (Hebr.
10:22). Sy bloed reinig ons voortdurend van alle sonde (1 Joh. 1:7), maar ons
word ook geroep om ons sonde te bely soos wat ons van iets bewus word (1 Joh.
1:9). Hier word ons opgeroep om een vir een stil te staan by die genoemde
soorte bose dade en gedagtes wat uit die hart kom. Dit verteenwoordig die
dieptekant van die 10 gebooie soos dit ook duidelik word in die Bergpredikasie.
Is daar iets wat jy koester en voor die Here moet neerlê en Hom moet vra om jou
daarvan te reinig? Doen dit dan.
Ons moet besef waar die
booshede begin en daarom moet ons ons hart in sy krag bewaak meer as enigiets
wat bewaak moet word (Spr. 4:23). Reeds in die ou verbond was die bedoeling dat
die uiterlike seremonies moes heenwys na die innerlike ingesteldheid en dat
onreinheid uiteindelik gebeur deur bose harte wat oorgaan in bose dade (vgl. Ps. 51:1-4; 19-21; Es. 36:17). Die Fariseërs was veronderstel om die swaarste die swaarste
te laat weeg (vgl. Mat. 23:23) en nie die uiterlike tekens nie. Andersins is
dit ’n resep vir skynheiligheid. Dit is altyd makliker om op uiterlike sake te
fokus as op daardie dinge wat diep in die hart gewortel is, te hanteer. Maar
innerlike en die uiterlike behoort mekaar ook te veronderstel, en dit moet
hierdie geslag hoor wat net van die innerlike wil praat, maar dan die wet van
God loslaat en daarmee saam Christus se diepte-toepassings op die hart.
Uiteindelik kan net Jesus Christus die onreinheid en die sonde in ons hart van
harte effektief hanteer. Laat ons dan na Hom toe gaan vir ware reiniging wat in
die dieptes van ons siele deur Hom bewerk is. Ons het Jesus Christus en sy
offer daarvoor nodig en die Heilige Gees om dit aan ons toe te pas.
Werke
geraadpleeg:
John
Bergsma, The Word of the Lord. Year B.
Mary
Healy, The Gospel of Mark.
Ben
Witherington, The Gospel of Mark.
Michael
Card, The Gospel of Passion.