Gedagte vir kinders: Die Here Jesus wil ons harte in die eerste plek hê.
Oorsig: Tydens die Here Jesus se bediening het sy woorde
en dade bekend geword aan die godsdienstige leiers in die hoofstad van
Jerusalem. Hy het egter dikwels daar in Galilea in die noorde waar Hy
grootgeword het, bedien en daarom kon hulle nie in alles vanuit Jerusalem ’n
oog oor Hom hou nie. Op ’n stadium het hulle lede van die strengste
godsdienstige party, die Fariseërs, asook sommige Skrifgeleerdes wat die wet
ywerig saam met hoe hulle eie mondelinge tradisie daaroor, Hom kom besoek.
Hulle sien toe dat die dissipels nie water op
hulle hande gegiet het voor ete nie en daarom volgens hul rituele onrein was.
Hulle het dit afgekeur (v.2). In die Ou Testament sien ons egter dat net die
priesters onder sommige omstandighede sulke voorskrifte gehad het (Ex. 30:17-21; Num. 18:11-13). Maar
in daardie tyd het die Fariseërs en die al die Jode nie geëet as hulle nie
deeglik hande gewas het nie, omdat hulle vasgehou het aan die gewoontes
(oorlewering/tradisie) van die ou mense (v.3). Wanneer hulle van die mark af
kom waar hulle sake gedoen het met onreine heidene, eet hulle nie as hulle nie eers
gewas het nie. So het hulle ook baie ander gewoontes gehad soos die wassery van
bekers en kanne en kopergoed en bedde (v.4).Die Fariseërs en Skrifgeleerdes het
die Here toe gevra waarom sy dissipels nie maak soos die tradisie was nie, maar
met ongewaste hande geëet het (v.5).
Die Here Jesus het toe uit Jes. 29:13 aangehaal
en gesê dat dit profeteer oor hulle skynheiligheid. Jesaja het gesê dat die
volk met hulle mond en lippe die Here eer, maar dat hulle hart ver van Hom is
(v. 6). Dit is egter tevergeefs om leringe te leer wat net gebooie van mense is
(v. 7; vgl. HK antw. 91). In hulle geval het hulle die gebod van God nagelaat
om aan tradisies vas te hou. Hier was dit tradisies oor wassery van kanne en
bekers en ander dergelike dinge van dieselfde soort (v.8). Hy het dit toe
herhaal dat hulle dit goed verstaan om die gebod van God opsy te sit en so
eerder hul tradisies te onderhou (v.9). Hy gee toe ’n voorbeeld. Moses leer in
die tien gebooie om jou vader en moeder te eer (Ex. 20:12) en later selfs dat
hy wat vader of moeder vloek sekerlik moet sterwe (vgl. Ex. 21:15,17). Hulle
het egter gesê dat as jy sekere geld bedoel vir die ouers, as offer vir die tempel
belowe, jy nie iets vir vader of moeder hoef te doen nie (v.10-12). Dit kom dan
daarop neer dat jy God se wet eintlik kragteloos maak deur jou byvoegings.
Hulle het ook baie ander dinge op dieselfde manier gedoen. Daarna het Hy ook
die skare saamgeroep om dit vir almal verder te verduidelik (v.14).
Besprekingsvraag: Presies wanneer en hoe raak ons moderne Fariseërs?
Insig: Ons moet hier probeer om eers in die skoene van die Fariseërs te kom sodat die krag van Christus se vermaning ons dieper kan tref. Die Fariseërs was deel van ’n vernwuwingsbegewing onder die Jode wat seker wou maak dat God se volk weer sal uitstaan op aarde. Hulle het hulself beskou as dissipels van Moses wat sedert Josua die opdragte van die wet hou, ook soos dit mondeling voortgesit is (in die sg. halakah). Die doel was om mense te help om God se wet te onderhou. Wanneer dit weer suiwer gevolg sou word, sou die wêreld dan sien hoe God vir Israel seën. Hul basiese uitgangspunte was: (1) wees prontuit oor wat God se wil is, (2) maak baie dissipels, en (3) bou ’n heining van beskerming rondom die wet. In kontak met ’n heidenwêreld, het hulle toe bepaalde gebruike aangeneem wat aanvanklik net vir priesters by die offers en die eet van offers nodig was (vgl. Ex. 30:17-21; Num. 18:11-13). Hulle het dus ’n soort priesterskap van alle gelowiges, sonder Christus, reeds in die ou verbond begin voorstaan. Die feit is egter dat God se Woord dit nie so beveel het nie. Boonop mis hulle die feit dat seremoniële seremonies hul vervulling vind in die koms van Christus. Daarom moet ons die vermaning hoor: (1) Ons kan deur byvoegings aan die Woord van God die gang en trajekte van die Bybel in Christus mis. (2) Ons kan deur die fokus op uiterlike kenmerke die punt mis oor wie waarlik rein is voor God.
Wanneer is selfs
goedbedoelde byvoegings by die Woord sleg? Wanneer ons God se wet kragteloos maak
deur tradisies en oorlewering wat strenger/reiner wil wees as die wet self,
maar dan die Bybel op bepaalde dele afswak en so die teenoorgestelde in praktyk bewerk. Let daarop dat nie alle tradisie/oorlewering in die Bybel noodwendig sleg is nie (vgl. 2 Tes. 2:15; 1 Kor. 11:23), maar as die gees en
bedoeling van God se wet in die proses van tradisie tot niet gemaak word, is
dit ’n belangrike teken dat alles nie pluis is nie. Die erns van die vyfde gebod
blyk duidelik daaruit dat dit deel van die tydlose tien gebooie is. Dit word ook verder verduidelik in die gedeelte net na die wet - die deel wat die
Here Jesus ook aanhaal (vgl. Ex. 20:12; 21:17). Dit roep ons ook vandag op om te
vra of ons ons ouers na behore eer - deur geldelike ondersteuning, deur vir
hulle te bid vir hul unieke stryde en uitdagings, deur hulle te help met
lewensin, deur te bemoedig en aan hulle blydskap te bring. Om nou hierdie belangrike
gebod niksseggend te maak en daarvan los te kom deur ’n eed aan die tempel waarvan die betaling boonop uitgestel is, was flagrante ondermyning van die bedoeling van die vyfde gebod. Dit het
beteken dat die Gees en bedoeling van die wet van God heeltemal gemis is. Ons kan gees en bedoeling
mis in mense se woorde, in menslike statute en kontrakte, maar ook in God se Woord
en sy verbond. Daarom is dit belangrik om agter ons Here Jesus aan en in Hom, altyd
ook te vra na wat daar ook geskrywe staan wat ons interpretasie uitdaag. Ons het nodig om die deugde van nederigheid en onderwerping aan Christus en liefde tot God en ons naaste nodig as die Skrifte wil verstaan. Ja, ons het ook nodig om die Woord biddend te lees (vgl. Mat.4:7; Mat. 11:28-30; 22:34-40).
Dit laat ons ook vra hoe
ware vernuwing dan werk en hoe ware reinheid lyk. Ons kan steeds allerhande
gedragskodes en optredes en allerhande uiterlike kenmerke die eintlike vereiste maak van wat in is, aanvaarbaar, vlekkeloos, en waarlik rein is. Alle godsdienste en bewegings gee een of
ander antwoord hierop. Die Here Jesus maak hier duidelik dat Hy hulle tradisie
wat nie strook met God se Woord nie, hieroor verwerp. Hy begin ook om deur sy
bediening duidelik maak dat sekere seremoniële handelinge in die Ou Testament met
sy koms hulle doel bereik het. Die bedoeling word vervul in sy koms. Hy is
die Gehoorsame wat beter weet as die leermeesters (vgl. Ps. 119:99-100). Rituele
reinigingshandelinge maak nie op sigself sin nie, maar eerder wanneer ons
insien dat dit na Hom heenwys, die Een wat ons waarlik kan reinig (1 Joh.
1:7,9). Wie Hom mis, kan die uiterlike wel probeer verfraai, maar sonder rein
harte in die eerste plek, is dit gedoem. Uiterlike offers het alleen sin wanneer
dit sprekend is van wat in die innerlike gebeur het (vgl. Ps. 51:1-4;19-21). Daarvoor
moet ons na Jesus Christus gaan.
Werke geraadpleeg:
John Bergsma, The Word of the Lord. Year B.
Mary Healy, The Gospel of Mark.
Ben Witherington, The Gospel of
Mark.
Michael Card, The Gospel of Passion.
Matthew Henry