Gedagte vir kinders: Die Here Jesus kan ons diepste honger vir ewige
versadig.
Oorsig: In Johannes 6 hoor ons van Johannes se weergawe
van die vermeerdering van die vyf e brode en twee vissies. Johannes noem die
sewe wonders van die Here Jesus in sy evangeliebeskrywing baie spesifiek “tekens”.
Almal moet verstaan dat sy wonderwerke tekens is van iets groter en heerliker:
Die Koninkryk van God wat deur Jesus Christus deurbreek in hierdie wêreld. Daarom
lees ons net na die vermeerdering van die brode, van die storm waar die Here
Jesus op die see loop en net daarna van sy gesprek met die skare waarin Hy die
teken van die broodvermeerdering se dieper betekenis vir hulle geleidelik uitlê.
Die skare kry Jesus aan die anderkant van die
meer nadat hulle oorvaar met skuite vanaf die plek van broodvermeerdering, in
die omgewing van Kapernaum. En toe wil hulle weet hoe Hy daar gekom het
(v.22-25). Die Here antwoord hulle vrae egter baie ondersoekend. Hy wys hulle
daarop dat hulle Hom eintlik net soek omdat hulle mae vol geword het. Hy roep
hulle toe op om eerder te fokus op die voedsel (spys) wat bly tot in die ewige
lewe. Dit is wat die Seun van God aan hulle sal gee, want Hy is deur die Vader
bevestig (verseël) as die Een wat dit sal doen (v.26-27). Hulle vra toe wat
hulle moet doen om God se werk deur te voer (volbring) en die Here Jesus het
geantwoord dit daarin bestaan dat hulle sal fokus op wat God doen en dat hulle
glo in die Een wat God gestuur het (v.28-29).
Hulle vra Hom toe ’n teken sodat hulle in Hom kon
glo. Hulle het verwys na Moses se teken van manna in die woestyn (v.30-31).
Manna uit die hemel was tog ’n groter werk as brood op aarde wat vermeerder.
Die Here antwoord toe dat hulle moet besef dat dit nie Moses was die brood uit
die hemel gegee het nie, maar sy Vader en dat Hy die ware brood gee. En die
brood van God is hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld die lewe gee
(v.32-33). Hulle vra toe om altyd aan hulle hierdie brood te gee (v.34). Dit is
toe dat die Here antwoord met een van sy sewe “Ek is”-uitsprake in Johannes:
“Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en
wie in My glo, sal nooit dors kry nie” (v.35). Die volk in die woestyn het aanvanklik
nie die manna herken toe dit aan hulle gegee is nie en hierdie mense herken nie
die Here Jesus nie. Maar Hy verduidelik dat hulle Hom moet leer erken as die
ware brood uit die hemel. Die manna en die broodvermeerdering het eintlik na Hom
heengewys. Hyself, die brood van die lewe, die Here Jesus, kan ons geestelike
honger en dors vir ewig versadig.
Besprekingsvraag: Hoe leer ken ons die Here Jesus as die brood van
die lewe?
Insig: Hierdie skare doen iets voortreflik. Hulle soek na die Here Jesus. En hulle kry hom uiteindelik. En tog, in die vind van Christus, konfronteer Hy hulle oor hulle eintlike motiewe. Dit gaan meer vir hulle oor hulle versadiging deur die fisiese brood (v.26). Hulle wou hom aanvanklik alreeds by die vermeerdering van die brood met geweld Koning maak (v.15), maar waarom? Om ’n aardse koning te hê wat hulle kan versorg en bevry van Rome? Beide ’n teologie van patriotisme sowel as ’n teologie van bevryding kan verkeerde motiewe hê. Waarom is Christus nou eintlik vir jou belangrik? Wil jy Hom dalk ook eintlik net inspan vir een van jou begeertes of agendas?
Daarom herinner Christus
hier dat daar die tydelike is en dan die ewige sake. Daar is in die mens ’n
geestelike honger wat net deur God self versadig kan word. Ons kan daardie
honger deur allerhande aardse dinge probeer vul, maar dit werk nie langtermyn
nie. Die mens is nou eenmaal na die beeld van God geskape en vind net
vervulling wanneer daardie beeld in hom of haar herstel en vernuwe word. Die
ewigheid is in ons harte geplaas en daarom is daar ’n diep geestelike honger en
dors wat ons nie kan ontwyk nie en wat die dood as finale einde afskuwelik maak.
As die skare vra wat hulle dan moet doen, antwoord die Here Jesus dat hulle
moet let op God se werk en daarby moet inval (v.28-29). Die Vader het sy Seun
gegee, ja Hy het Hom verseël (v.27) om die werk te kom doen wat ons sou bevry van
die dood en ons diepste honger en dors vir altyd te hanteer.
Hoe is Christus deur die Vader God verseël? By die begin van sy openbare bediening het die Vader sy stem oor sy geliefde Seun uit die hemel laat hoor en aan Hom die Gees nie met mate nie, gegee (Mk. 1:10-11; Joh. 3:34). Sy wonders, tekens in Johannes, het verder daarvan getuig; dit wat hulle sopas beleef het. Maar soos Israel in die woestyn, het wonders nie lank by hierdie skare in dankbare herinnering en verwondering gebly nie. Sien ons nog al se God se goeie dade teenoor ons raak? Hulle wil die Here Jesus bloot met Moses vergelyk (vgl. Hebr. 3:3-8). Moses het mos darem 40 jaar lank uit die hemel vir hulle manna gegee. Dit was tog baie meer as ’n namiddag se vermeerdering van brood. Maar tussen hulle staan die grootste wonder – die Seun van die mens (v.27). As Seun van die mens is Hy uiteindelik op die grootste wyse denkbaar deur die Vader verseël. Dit sou duidelik word dat Hy die Kneg van die Here is wat ons sonde op Hom sou neem (Jes. 53), en die Een wat die dood vir ons sou oorwin en na sy hemelvaart die troon en heerskappy ontvang oor al die nasies (Dan. 7:13-14).
Jesus Christus dui vir hulle
en ons die eenvoudige weg na ewige versadiging aan. Sy eerste van sewe Ek is – uitsprake
word nou geopenbaar. Dit sinspeel op die groot EK IS wat Homself aan Moses
geopenbaar het (Ex. 3:14). Hy is of waansinnig of die waarheid as Hy sê: “Ek is
die brood van die lewe.”
Die bedoeling van hierdie
uitspraak word uitgespel: Dat ons sal kom en sal glo (v.35) – weer en weer. Elke keer wanneer ons bid,
wanneer ons Kerk toe kom, wanneer ons in ons huisgesin of in die kleingroep tot
Hom nader en Hom aanroep, kom ons. En elke keer wanneer ons Hom aanroep, glo
ons, want hoe kan iemand Hom aanroep as hulle nie glo nie (vgl. Rom. 10:14). En
natuurlik, elke keer wat ons die nagmaal gebruik en die brood eet en die beker
drink, kom ons en glo ons en word versterk. Die versekering wat Hy gee is
heerlik: Ons sal nooit weer honger of dors kry nie. Hy versadig dus ons diepste
geestelike honger en dors en borg ons ewige bestemming. Net Hy kan dit doen.
Daarom het die manna in die woestyn en die vermeerdering van die brood eintlik na
Hom heengewys. Hy is die Brood van die lewe wat ons oproep om te kom en in Hom
voeding en versadiging, ja gemeenskap met God te smaak. Om Hom te ken is om nou reeds te lewe en die antwoord op
die dood te ken.
Werke geraadpleeg:
John Bergsma, The Word of
the Lord, Year B.
Frederik Dale Bruner, Kommentaar op Johannes (Ek leen weer eens sterk aan op Bruner in
die insig-gedeelte).
Thomas Aquinas, Johannes.
Matthew Henry, Johannes.