Wys tans plasings met die etiket Leksionarium B. Pelgrim. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Leksionarium B. Pelgrim. Wys alle plasings

2021/10/22

Vreugde deur herinnering, gebed, en belofte

Lees: Psalm 126            

Gedagte vir kinders: Saai, al is dit met trane, want deur Jesus Christus sal jy oes met vreugde.

Oorsig: Psalm 126 is deel van die bedevaartsliedere. Dit is moontlik gesing wanneer die Israeliete opgetrek het vir hulle jaarlikse feeste in Jerusalem. Ons sing dit steeds op pad na die nuwe Jerusalem. Die Psalm het duidelik twee dele. Ons hoor eers van ’n wonderbaarlike bevryding toe die Here die lot van Sion verander het (v.1-3) en dan van ’n nuwe gebed en profesie (v.4-6). Sion was die berg waarop die tempel gebou is en staan hier vir die kinders van God wie se versoening met Hom op sy  geopenbaarde weg van versoening gebou is. Die lot van Sion gaan dus oor die omstandighede van sulke mense wat wonderlik verander het.

Die spesifieke omstandighede hier verwys waarskynlik na die terugkeer uit die ballingskap. Die volk se ontrou aan die Here het veroorsaak dat die tien stamme van Israel deur Assirië (721 v.C.) weggevoer is, en Juda en Benjamin later deur Babilonië (598-587 v.C.). Uiteindelik, na 70 jaar (vgl. Jer. 25:11; 29:10; Dan. 9:2; 2 Kr. 36:22; Esra 1:2) in Babel en omstreke,  het koning Kores, wonder bo wonder, ’n bevel uitgevaardig en die volk kon terugkeer na hulle eie land en hulle kon God weer in vryheid aanbid.

Die volk het beleef dat die Here hulle lot verander het en dit was asof hulle droom (v.1) Wat ‘n vreugde het hulle nie hieroor beleef nie! Lag en jubel was in hulle mond en op hulle tong. (v.2). Selfs die heidene het daaroor gepraat. Dit was so groot dat die heidene nie anders kon as om raak te sien dat God groot dinge aan sy volk gedoen het nie (v. 2). Die Psalmis bevestig dan dat die Here wel groot dinge aan hulle gedoen het en dat hulle bly was (v.3).

Net hierna verander die herinnering aan die verlede na ’n gebed in die hede. Daar is nuwe uitdagings.  Indien dit die volk was wat teruggekeer het, was daar soveel nuwe hindernisse in die land wat hulle weer moes opbou. Die Psalmis vra dat iets sal gebeur soos die waterstrome in rivierbeddings wat in die droë Suidland skielik kon opdaag vanuit die hoërliggende gebiede en lewe gebring het in die woestyngebied (v.4). Ná die gebed word daar ook ’n profesie uitgespreek. Die wat bly saai, al is dit met trane, sal tog later jubel wanneer daar geoes word. (v.5).  Die Psalmis brei dan verder hierop uit in beskrywende taal. Die saaier mag selfs heeltyd loop en huil as hy die saadkoring dra wat hy uitsaai. Tog sal hy sekerlik, en die woord sekerlik word beklemtoon, met gejubel later kom en die gerwe van sy oes dra (v.6).         

Besprekingsvraag:  Pas die faktore wat die saaier kan verhinder om te saai, op ons toe. 

Insig: Wanneer die Here ons lot werklik verander, gebeur dit bokant die verwagting. Dit is part en deel van die evangelie en beeld presies uit wat evangelie beteken.