Wys tans plasings met die etiket begrafnis. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket begrafnis. Wys alle plasings

2025/04/12

In die land van die lewendes

Lees: Psalm 116

Gedagte vir kinders: Geniet jou lewe voor die aangesig van God en dank Hom vir Jesus Christus.

Oorsig: Ps. 116 vorm deel van die Hallel-Psalms (Lofpsalms: Ps. 113-118) wat gebruik was en steeds gebruik word by die viering van die jaarlikse Paasfees van Israel. Dit was deel van die laaste lofsange wat die Here Jesus saam met sy dissipels gesing het by die maaltyd waar Hy die Nagmaal ingestel het, net voor hulle na die tuin Getsemane gegaan het (vgl. Mt. 26:30). Die Here Jesus het hierdie lied oor verlossing van die dood dus reeds gesing terwyl Hy geweet het wat op Hom wag. Die Psalm bestaan uit twee basiese dele: vers 1-9 en vers 10-19. In die Spetuaginta (Griekse vertaling: LXX) en Vulgaat (Latynse vertaling) is dit twee afsonderlike Psalms, maar daar is geen rede om dit nie saam met die Hebreeuse Teks as een Psalm te waardeer nie.

In vers 1 stel die Psalmis dat hy liefhet, omdat die HERE sy smekinge gehoor het (vgl. Ps. 18:1). Die HERE het sy oor geneig en daarom sal hy Hom aanroep (v.1-2). Sy krisis was die dood en bande en angste van die doderyk het hom getref (vgl. Ps. 107:3,14). Maar Hy het toe die Naam van die HERE aangeroep: Ag, HERE, red my siel (v.3-4). Dan getuig Hy dat die Here genadig, regverdig en ’n ontfermer is (vgl. Ex 34:6). Ook dat hy die eenvoudiges bewaar. Hy het swak geword, maar die HERE het hom gehelp (v.5-6). Hy praat hierna met homself en gesê dat hy maar kan terugkeer tot rus om dat die HERE goed aan hom gedoen het. Hy praat daarna met die HERE (U) en loof Hom dat Hy sy siel gered het van die dood, sy oog van trane en sy voet van struikeling. Hy doen dan ’n belydenis dat hy sal wandel voor die aangesig van die HERE in die lande van die lewendes  (v.7-9).    

Die Psalmis stel dan dat hy geglo het, ten spyte daarvan dat hy gesê het dat hy diep neergebuig is oor sy omstandighede. Hy het in sy angs gesê dat alle mense leuenaars is (v.10-11). Maar dan gaan hy weer in lof oor en vra wat hy die HERE kan vergeld vir al sy weldade aan hom. Hy antwoord hierop en stel dat hy die beker van verlossing sal opneem en die Naam van die HERE sal aanroep. Hy gaan ook verder en stel dat die geloftes wat Hy aan die HERE gedoen sal betaal in die teenwoordige van sy totale volk (vgl. Num. 30:1-2; Deut. 23:21; 1 Sam. 1:11 ). Hierna stel hy dat die dood van sy gunsgenote kosbaar/duur is in die oë van die HERE. Die bedoeling is dat die HERE juis daarom nie sy kinders daarin oorgee nie (v.12-15). En dan doen hy weer ’n belydenis teenoor sy God: Ag HERE, sekerlik, ek is u kneg, die seun van u dienmeisie. Die rede wat hy gee is omdat die HERE sy bande wat hom aan die dood gebind het, losgemaak het. Hy volg dit dan daarmee op soos in vers 14 dat Hy sy geloftes aan die HERE sal betaal in die teenwoordigheid van sy ganse volk (v.16-18). Hy brei hierop uit en stel dat dit gebeur by die tempel – in die voorhowe van die huis van die HERE, ja binne in Jerusalem wat hy persoonlik aanspreek. En dan kom die groot woord van die Hallel-Psalms weer na vore: Halleluja! Dit beteken “Loof die HERE!” (v.19; vgl. Openb. 19:1,3,4,6).

Besprekingsvraag: Wat is die gepaste reaksie op God se genade?

Insig: Die lewe is ’n gawe van God. Soms is dit ’n naby-dood ervaring wat ons die lewe op ’n nuwe wyse laat smaak en proe en geniet – om weer ekstaties daaroor te mag wees om te lewe en dit nogal voor die aangesig van God. Maar die Psalm gaan nie net gaan oor ’n tydelike pouse in die teenstand teen die meedoënloos-naderende mag van die dood nie. Die Psalm spreek oor lewe op so ’n wyse dat dit net voluit waardeer kan word wanneer lewe altyd groter is as die dood. 

2024/08/08

Om Jesus Christus te eet en te drink

Lees: Joh. 6:36-59

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus roep ons op om in Hom te glo en by Hom te woon.  

Oorsig: Die Here Jesus het sopas in sy gesprek met die skare die groot uitspraak gemaak dat Hy die brood van die lewe is. Wie na Hom toe kom en in Hom glo, sal nooit honger of dors kry nie. Nou gaan Hy voort om dit te verduidelik. Hy wys hulle daarop dat iemand Hom miskien wel kan sien, mar Hom tog nie glo nie (v.36). Tog sal die Vader diegene aan Hom gee wat wel na Hom sal kom en Hy sal sulke mense wat kom, nooit uitwerp nie (v.37). Die Here Jesus verduidelik dan dat Hy uit die hemel neergedaal het om God se wil te doen wat Hom gestuur het. En God se wil is dat Jesus niemand sal verloor wat aan Hom gegee is nie en dat Hy hulle sal opwek in die laaste dag (v.38-39). Die Here Jesus verduidelik toe verder dat dit die Vader se wil is dat elkeen wat in die Seun glo, die ewige lewe mag hê. So iemand sal eendag in die laaste dag opgewek word (v.40).

Die Jode het toe hieroor gemurmureer omdat Hy Homself die brood genoem het wat uit die hemel neergedaal het. Hulle het mos geweet Josef is sy pa (v. 41-42). Die Here Jesus het egter geantwoord dat niemand na Hom sal kom as die Vader nie iemand trek nie. Sulke mense sal Hy wel opwek in die laaste dag. Hy haal toe uit Jes. 54:13 aan om te wys dat sulke mense deur God self geleer sal wees. Elkeen wat dit by die Vader geleer het, kom na Hom toe, maar net Jesus het die Vader self gesien (v.42-46). Toe verklaar Hy weer plegtig dat elkeen wat in Hom glo, reeds die ewige het en dat Hy die brood van die lewe is (v.47-48).

Hy het toe na hulle vaders, die Israeliete in die woestyn, gewys wat die manna geëet en tog gesterwe het. By Hom is egter die brood waardeur iemand nie sterwe nie (v.49-50).  Hy is die lewende brood wat uit die hemel neergedaal het waardeur iemand lewe tot in ewigheid. Die brood wat Hy gee is sy liggaam (vlees) wat Hy vir die lewe van die wêreld sou gee. Die Jode het toe met mekaar hieroor gestry en nie verstaan nie (v.51-52). Die Here Jesus het toe nog duideliker vir hulle gesê dat as hulle nie die liggaam van die Seun van die mens eet en sy bloed drink nie, hulle geen lewe in hulself het nie. Net sulke mense het die ewige lewe en Hy sal sulkes opwek in die laaste dag. Want net sy vlees is waarlik spys en net sy bloed waarlik drank (v.53-55). Iemand wat dit doen, bly in Hom en lewe in Hom soos wat Hy deur die Vader lewe (v.56-57). Hy is die brood wat anders as die manna  van destyds is, boord waardeur iemand tot in ewigheid lewe. Dit alles het Hy in die sinagoge in Kapernaum geleer (v.58-59) .   

Besprekingsvraag: Van Ou Testament gedeeltes is die brood van die lewe die vervulling?  

Insig: Wanneer die Here Jesus ons leer dat Hy die Brood van die lewe is, moet ons dit teen die agtergrond van die Ou Testament verstaan. Die boom van die lewe in die paradys was bedoel om tot die ewige lewe te voed. Hier openbaar Christus nou dat Hy self die brood van die lewe is. Daarmee sê Hy terselfdertyd ook aan die Israeliete wat reken dat Hy eers moet bewys dat Hy groter as Moses is, dat Hy soveel meer Moses en as manna doen. Die manna het na een dag sleg geword (Ex. 16:19-20), maar Jesus Christus gee lewe tot in ewigheid. Wie deur Hom gevoed word, sal ook opgewek word op die laaste dag. Uiteindelik bly die dood ’n verskrikking vir elke sterfling. Maar hier openbaar ons Here hoe die dood in en deur Hom getroef word. Hy is die voedsel en drank van die ewige lewe (nagmaalsformulier). Hy bied soveel meer as hemelse manna van die Ou Testament.