Wys tans plasings met die etiket demonologie. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket demonologie. Wys alle plasings

2022/06/21

Wanneer die duiwels jou inhaal

Lees: Luk. 8:26-39

Gedagte vir kinders: Jesus Christus is baie sterker as baie duiwels.  

Oorsig: Nadat die Here Jesus die storm op die see van Galilea stilgemaak het, het hulle in die heidene se gebied, die Gadareners aan die Oostekant, oorkant Galilea, aangekom. Toe hulle daar aanland, het daar 'n man uit die stad na Jesus Christus gekom. Hy was al vir 'n hele tyd lank van duiwels besete, het geen klere aangehad nie, en ook nie in 'n huis gewoon nie. Hy het in die grafte gewoon wat in die rotse uitgekap was (v.26-27). Hierdie besete man se reaksie toe hy Jesus sien, was merkwaardig. (1) Hy het uitgeskreeu, (2) voor Jesus neergeval, en (3) met 'n groot stem uitgeroep: “Wat het ons met U te doen, Seun van die Allerhoogste God? Ek bid u om my nie te pynig nie.” Die rede waarom hy dit gesê het, is omdat die Here Jesus die onreine gees beveel het om uit die man te gaan. Lukas verduidelik dan wat hierdie bose gees met die man gedoen het. Hy het hom in besit geneem en saamgesleep  en mense wat hom met kettings en voetboeie wou bind om oor hom wag te hou, moes sien dat hy onder invloed van die bose gees die voetboeie uit mekaar geruk het. Die duiwel het hom dan in die woestyne (meervoud) gedrywe (v.28-29).

Die Here Jesus het hom gevra wat sy naam is en hy het geantwoord dat sy naam Legio is. Legio beteken 6000 soldate in die Romeinse weermag. Die naam dui daarop dat daar sommer baie duiwels in die man ingevaar het. Hierdie duiwels het Jesus toe gesmeek (let wel) om hulle nie te beveel (let wel) om in die onderwêreld (die hel) af te vaar nie (v.30-31). Hulle het hom toe gesmeek om eerder in die trop varke (omtrent 2000 volgens Markus 5:13) van die heidene te vaar wat op die berg gewei het. Die Here Jesus het hulle dit toegelaat (let wel). Die duiwels het toe uit die man gegaan en in die varke ingevaar, en die trop het van die krans af in die see gestorm en verdrink (v.32-33).