2022/06/21

Wanneer die duiwels jou inhaal

Lees: Luk. 8:26-39

Gedagte vir kinders: Jesus Christus is baie sterker as baie duiwels.  

Oorsig: Nadat die Here Jesus die storm op die see van Galilea stilgemaak het, het hulle in die heidene se gebied, die Gadareners aan die Oostekant, oorkant Galilea, aangekom. Toe hulle daar aanland, het daar 'n man uit die stad na Jesus Christus gekom. Hy was al vir 'n hele tyd lank van duiwels besete, het geen klere aangehad nie, en ook nie in 'n huis gewoon nie. Hy het in die grafte gewoon wat in die rotse uitgekap was (v.26-27). Hierdie besete man se reaksie toe hy Jesus sien, was merkwaardig. (1) Hy het uitgeskreeu, (2) voor Jesus neergeval, en (3) met 'n groot stem uitgeroep: “Wat het ons met U te doen, Seun van die Allerhoogste God? Ek bid u om my nie te pynig nie.” Die rede waarom hy dit gesê het, is omdat die Here Jesus die onreine gees beveel het om uit die man te gaan. Lukas verduidelik dan wat hierdie bose gees met die man gedoen het. Hy het hom in besit geneem en saamgesleep  en mense wat hom met kettings en voetboeie wou bind om oor hom wag te hou, moes sien dat hy onder invloed van die bose gees die voetboeie uit mekaar geruk het. Die duiwel het hom dan in die woestyne (meervoud) gedrywe (v.28-29).

Die Here Jesus het hom gevra wat sy naam is en hy het geantwoord dat sy naam Legio is. Legio beteken 6000 soldate in die Romeinse weermag. Die naam dui daarop dat daar sommer baie duiwels in die man ingevaar het. Hierdie duiwels het Jesus toe gesmeek (let wel) om hulle nie te beveel (let wel) om in die onderwêreld (die hel) af te vaar nie (v.30-31). Hulle het hom toe gesmeek om eerder in die trop varke (omtrent 2000 volgens Markus 5:13) van die heidene te vaar wat op die berg gewei het. Die Here Jesus het hulle dit toegelaat (let wel). Die duiwels het toe uit die man gegaan en in die varke ingevaar, en die trop het van die krans af in die see gestorm en verdrink (v.32-33).

Die wagters wat dit gesien het, het toe gevlug en dit in die stad en buitewyke gaan vertel. Die mense het toe gekom om te sien wat gebeur het. En hulle by Jesus gekom, en die man gevind uit wie die duiwels uitgevaar het. Hy was (1) aan die voete van Jesus, (2) gekleed en (3) by sy verstand. Die mense het bevrees geword (v.34-35). Toe die ooggetuies vertel wat gebeur het, het die hele menigte van die heidene die Here Jesus gevra om uit hulle gebied weg te gaan, omdat ’n groot vrees oor hulle gekom het. Die Here Jesus het toe weer in die skuit geklim (v.36-37). Hy het dis net vir hierdie een doel na die heidengebied gekom. Toe vra die man uit wie die duiwels gevaar het om by Jesus te mag bly. Die Here Jesus het hom egter geantwoord dat hy terug na sy huis toe moet gaan en vertel watter groot dinge God aan hom gedoen het. Die man het toe gegaan en deur die hele stad verkondig (let wel) watter groot dinge Jesus (let wel) aan hom gedoen het (v.38-39).

Besprekingsvraag: Hoe antwoord mens moderniste wat reken duiwels net ’n primitiewe gedagte of konstruk is?

Insig: Ons leer in die Onse Vader om te bid om van die Bose verlos te word. Dit is 'n realiteit in hierdie gevalle wêreld. Dit was 'n duidelike dimensie in Christus se bediening op aarde (vgl. Luk. 4:31-36, 40-41, 6:18; 8:2). Diegene wat dit betwyfel moet maar net na die gru-verhale van plaasmoorde luister. Of kyk na 'n sogenaamde beskaafde Weste wat afvallig geraak het en nie eens meer kan onderskei tussen man en vrou nie. Ons gelese gedeelte wys watter afmetings dit kan aanneem, ja waartoe dit daal wanneer dit sy volle loop neem. Dit hang op een of ander wyse saam met iemand wat bewustelik hul hand teen God ophef en so, bewus of onbewus, hul siel aan die satan verkoop. Waar dit gebeur begin ons ’n idee kry van ontmensliking, die hel en van Godverlatenheid. Hoe skrikwekkend word dit nie hier geteken nie. Dit is insiggewend dat hierdie man juis teëgekom word in die heidengebied waarna oorgevaar is en met net hierdie een doel om dit aan ide lig te bring in watter waters hulle geswem het sonder om daarvan bewus te wees. Hier word die volle afmetings van die Bose duideliker gesien. Los van die lewende God is nie neutrale niemandsland nie. Nee, daar vier die Bose hoogty. Ons kan verwag om groter afmetings hiervan te begin waarneem waar 'n samelewing ontkersten en waar die Weste sogenaamd post-Christelik raak.  

Die goeie nuus van die evangelie is dat die mag en goedheid en redding van Jesus Christus soveel groter is. In Lukas 8 sien ons Hom as die Een wat mag het oor die elemente en magte van die natuur toe Hy die storm laat bedaar en ook oor die duiwels wat voor Hom sidder. Hierna hoor ons ook van mag oor siekte en die dood (v.40-56). Die dissipels vra ná die storm: Wie is Hy tog? Die demone weet reeds: Die Seun van die Allerhoogste God. 'n Mens kry die indruk dat Christus reeds met die man gepraat het toe die duiwels begin uitroep. Hulle weet dat die oordeel op pad is, en hulle sidder. Hier is geen teken van 'n gelyke stryd nie. Dit is die heerlike visie op Christus teenoor die Bose. Dit is ook die geheim van die krag van die kerk in ’n stukkende wêreld. Dit is hierdie Jesus wat ons kom loskoop het met sy bloed. In watter gevangenskap iemand ook gehou word deur die Bose, Christus is groter. Ons moet raaksien hoe Hy so ook ’n hele kultuur kan bevry en vernuwe.

En so ons word ons tot geloofsreaksie geroep. Ons lees hier van drie reaksies: die reaksie van die demone, die dorpsbewoners, en die besete man. 1. Let op: Selfs die duiwels kan nie ateïste wees nie. Hulle glo, maar kan net sidder (Jak. 2:19). 2. Die heidense dorpsbewoners voel net bedreig en bevrees in hul gemaksones. Hulle sien nie watter ontsettende werklikheid die Bose is nie. Hulle sien ook nie hoe kosbaar een mens voor God is nie. Hy sal varke daarvoor prysgee en uiteindelik selfs sy eie Seun. Maar hulle is (nog) nie bereid nie. 3. Maar daar is een wat agtergebly het en getuig het en ’n gestuurde onder sy eie heindemense geword het. En later sou sommige glo. Hierdie man was die ergste, maar nou gekleed en by sy volle verstand. Waar begin dit? Kontak met Christus. Dit het te make met erkenning, wat so dikwels die groot stap in die regte rigting is, in hierdie geval erkenning dat die Bose oorgeneem het. En dan kom die bevryding deur Hom wat ook sou uitroep aan die kruis vir ons, ook naak sou word vir ons, sou sterwe, vir ons, om daaruit op te staan sodat ons verlos van die Bose kan lewe. Sodat ons naby Christus mag bly deur sy Gees. Om te getuig van die groot dade van God aan ons. Sodat kerke hul regmatige outoriteit in Christus kan inneem en stasies van die hemel kan wees wat as liggaam van Christus die bevryding ken en verder bedien.

Werke geraadpleeg:

Darrell Bock. Luke: NIV Application Commentary.

R.C. Sproul. Luke: An Expositional Commentary.

R. T. France: Luke: Teach the Text Commentary Series.

Matthew Henry

Tracy Groot: Madman (Historiese novelle gepubliseer in 2017 waarin ’n moontlike agtergrond gekonstrueer word oor hoe die besete so geword het en waarna R.T. France verwys.)

V. Lampert. Exorcism: The Battle Against Satan and his Demons (Hoewel hierdie publikasie nie in die boodskap gebruik is nie, word dit hier gelys vir toekomstige verwysing).

Opmerking oor die duiwel in rooi en drietandvurk: Het onlangs verneem dat die uitbeelding van die duiwel as koddig en met drietandvurk in die Middeleeue meer berekend was as wat ons dink. Dit was blykbaar ’n berekende spot-karikatuur. Dit het uitgegaan van die standpunt dat die satan hoogmoedig is en spot nie kan verdra nie, en dat hy daarom satiries so uitgebeeld is.   

Moontlike preekskema:

1. Die realiteit van die Bose.

2. Die groter realiteit v.d. verlossing in Christus.

3. Drie reaksies op hierdie realiteite.