2022/06/07

Juigende en profetiese optrede

Lees: Hand. 2:14a, 22-36

Gedagte vir kinders: Omdat Jesus terug was by God, is die Heilige Gees nou by ons.   

Oorsig: Petrus bring hierdie boodskap op Pinksterdag toe die Heilige Gees uitgestort is, en ons fokus in besonder op die tweede deel van sy preek. In die eerste gedeelte verdedig Petrus die gebeure by Pinkster toe die gelowiges in allerhande tale oor die groot dade van God deur Jesus getuig het. Dit was die vervulling van dit waaroor die profeet Joel geprofeteer het – God se Gees op al sy kinders. Daarna verduidelik Petrus wat dit met Jesus te make het (v.22 e.v.).

Petrus wys daarop dat Jesus die Nasarener, ’n man was wat deur God aangewys is deur kragte en wonders en tekens en wat niemand kon ontken nie. Deur God se raad en voorkennis is Jesus toe oorgelewer en deur heidene, goddelose manne, het die Jode hom laat kruisig en ombring (v.22-23). God het Hom egter opgewek, nadat Hy die smarte van die dood ontbind het (let wel, “nadat”), want dit was onmoontlik dat Jesus daardeur vasgehou sou word (v.24). Petrus wys dan op Ps. 16:8-11 waar Dawid reeds profeties hiervan getuig het. Daar getuig Dawid van Christus dat Hy die Here altyddeur voor hom sien en dat God by Hom was dat Hy nie sou wankel nie. Daarom was Jesus Christus se hart bly en sy tong het gejuig en kon sy vlees rus in hoop. Hy het ook geweet dat God sy siel nie aan die doderyk sou oorlaat of sy Heilige oorgee om verderwing te sien nie. Die Here sou eerder aan Hom die paaie van die lewe bekend maak en Hom vervul met vreugde by sy aangesig (v.25-28).             

Petrus wys dan daarop dat die Psalm nie van Dawid waar kon wees nie, aangesien Dawid se graf nog steeds by hulle is. Dawid was egter ’n profeet en het geweet dat God vir hom gesweer het dat die Christus uit hom gebore sou word om op sy troon te sit (vgl. Ps. 132:11; Luk. 1:32). Dawid het dus vooruit gesien en profeties gespreek van die opstanding van Christus en dat sy siel nie in die doderyk verlaat is en sy vlees ook nie verderwing gesien het nie (v.29-31).

Petrus verklaar dan dat hulle getuies daarvan is dat God hierdie Jesus opgewek het. En nadat Christus deur die regterhand van God verhoog is (deur sy opstanding en Hemelvaart), en van die Vader die belofte van die Heilige Gees ontvang het, het Hy dit uitgestort wat almal op Pinksterdag kon sien en hoor (v.32-33). Dan haal Petrus ook uit Ps. 110 aan en wys dat Dawid ook daar nie van homself spreek nie, maar spreek van sy Here wat aan die regterhand van God gaan sit het totdat sy vyande onderwerp is. Petrus sluit dan af en stel dat die hele Israel moet weet dat die Jesus wat hulle gekruisig het, deur God Here en Christus gemaak is (v. 34-36).        

Besprekingsvraag: Waarom kan ons sê dat Pinksterdag dui op die werk van God Drie-enig?

Insig: Die uitstorting van die Heilige Gees help ons om waarlik profete onder die leiding van die Woord en Gees te wees. Petrus is die sprekende voorbeeld hiervan. Sy preek onder leiding van die Gees is ’n kragtige en besonder keurige boodskap vol dimensies, en in die sentrum daarvan staan Jesus Christus. Hy weerlê die lawwe praatjies deur basiese logika, maar hy doen ook baie meer. Hy gebruik die Woord van God om perspektief te bring. Hy wys op ’n gedeelte uit die profete (Joël) om sin te maak van wat gebeur. En dan bring hy dit verband met die woorde en dade van Jesus Christus waarvan ons in die Nuwe Testament hoor. En dan verwys hy weer terug na Skrifgedeeltes uit die Ou Testament (Ps. 16 en 110) om te bevestig hoe dit alles net in en deur Christus waar kon word. En natuurlik hoe Christus se heilswerk die verklaring bied van wat geprofeteer is en van wat op Pinksterdag gebeur het. Petrus wys in die proses ook hoe die Bybel ’n eenheid in Christus vorm. Hy is ook onbeskaamd saam met die ander apostels getuie van dit wat hulle gesien het. Hy skroom ook nie om daarop te wys dat die Jode moet besef het wat hulle gedoen het, al is dit ook so in die raad van God bepaal.

Wat is die implikasies van Petrus se woorde op Pinksterdag vir ons? Pinkster bevestig dat die eskatologiese eindtyd waarvan Joel reeds getuig het, aangebreek het. Ons leef in die laaste dae, maar Bybels gesproke is dit die hele tyd vanaf Hemelvaart en Pinkster tot en met die voleinding - die “groot en deurlugtige Dag van die Here” (v.20). Dit is ’n tydperk waarin alle gelowiges vervuld deur die Gees van God mag lewe te midde van uitdagings. Let op: Petrus bring die werk van die Gees direk in verband met Christus wat terug is by die Vader. Net Christus se versoening kon dit bewerk dat die toegang tot die Allerheiligste oop is en dat God deur sy Gees nou kragtig onder al sy kinders werksaam is. Dit is daarom die Drie-enige God se werk en ons het die ontsaglike voorreg om steeds uit die werklikheid van sy verlossing te leef.

Daar is ’n sekere ironie in die liggewig interpretasie van Pinkster dat die gelowiges vol soetwyn (of nuwe wyn – vgl. KJV) is. Daar is wel sprake van die nuwe wyn van die nuwe verbond, maar dit lei nie tot belaglike optrede nie. Dit lei eerder tot juigende en profetiese optrede soos die van Petrus. Ons mag nou dronk wees met die nugter invloed van die Gees wat sonde doodmaak en lewe aan die hart gee (Cyrillus van Jerusalem). “Hy wat dronk word van wyn, wankel, maar hy wat dronk word van die Heilige Gees is gewortel in Christus. Hoe uitstekend is hierdie dronkenskap nie wat die nugterheid van die siel voortbring!” (Ambrosius).  

Geraadpleegde werke:

John Bergsma. The Word of the Lord. Year C.

William. S Kurtz. Acts of the Apostles: Catholic Commentary on Sacred Scripture.

Jaroslav Pelikan. Acts: Brazos Theological Commentary.

Ben Witherington III. The Acts of the Apostles: A Socio-Rhetorical Commentary.  

êïëó Óáúêëé