2022/06/28

Kerkwees en dissipelskap

Lees: Luk. 10:1-20

Gedagte vir kinders: In die Naam van Jesus Christus hoef ons nie te vrees vir die Bose nie.

Oorsig: Die Here Jesus was bewustelik op pad na Jerusalem om gekruisig te word en op te staan uit die dode (Luk. 9:51). Hy het reeds sy 12 apostels voor Hom uitgestuur, maar hier lees ons ook van 70 ander wat Hy twee-twee voor Hom uitgestuur het na elke plek waar Hy sou kom (v.1). Hy het ook vir hulle gesê dat die oes groot en die arbeiders min is en dat hulle die Here van die oes moes bid vir arbeiders (v.2). Die gestuurdes sou dus later nog meer word.

Hulle moes dan gaan soos lammers tussen wolwe, en hulle moes niks ekstra saamneem soos ’n beursie of reissak of skoene nie. Dit was dringend en hulle moes hulself nie eens ophou met allerhande groetery op die pad nie (v.3-4). Hulle moes vrede oor die huis uitspreek waar hulle ingaan en as dit aanvaar is, sou die vrede daarop rus. Andersins sou dit na hulle terugkeer (v.5-6). Hulle moes in daardie stad dan daar bly en vrymoedig eet en drink wat vir hulle gegee word vanweë hulle werk, en nie kieskeurig in huise rondgaan nie. Hulle moes ook nie huiwer om enige kos (moontlik onrein) van sekere stede te eet wat voorgesit word nie (v.8). Hulle moes daar die siekes gesond maak en daarop wys dat dit in verband staan met die koninkryk van God wat naby hulle gekom het. Indien ’n gemeenskap hulle nie wou ontvang nie, moes hulle uitgaan op die strate en sê dat selfs die stof uit die stad afgevee word, maar dat hulle steeds moes weet dat die Koninkryk naby hulle gekom het. Vir die veroordeelde stad Sodom sou dit dan beter wees in die oordeelsdag as vir daardie stad (v.9-12).

Hierna het die Here Jesus dorpe soos Gorasin en Betsaida verwyt dat heidense stede vol boosheid soos Tirus en Sidon hul lankal hartgrondig sou bekeer het as daar in hulle sulke kragtige dade plaasgevind het. Vir sulkes sou dit in die oordeel verdraagliker wees. Veral Kapernaum moes hoor dat dit tot die doderyk (hades) toe neergestoot sou word. Die Here Jesus het hulle toe daarop gewys dat wie luister of verwerp eintlik na Hom luister of Hom verwerp, sowel as die Een wat Hom gestuur het (v.13-16). Ons hoor dan dat die 70 met blydskap teruggekom het en vir die Here vertel het dat selfs die duiwels hulself onderwerp het in sy Naam. Die Here het toe vir hulle verduidelik dat dit is omdat die Satan soos ’n bliksemstraal uit die hemel geval het deur sy bediening. Hy het hulle ook verseker dat Hy hulle mag gee oor die Bose en al die krag van die vyand en dat niks hulle sal skade doen nie. En tog het Hy hulle daarop gewys dat hulle eerder moes bly wees dat hulle name in die hemel opgeskrywe is (v.17-20).                

Besprekingsvraag: Waarom sal dit vir Sodom verdraagliker sal wees in die oordeel?  

Insig: Dit is insiggewend dat hierdie gedeelte vertel word net nadat ware dissipelskap van Christus aan die orde was. Ons kan die 70 ware dissipels hier sien as verteenwoordigers van gesante aan die 70 nasies van Genesis 10. Hulle kan ook verbind word aan die 70 oudstes van Israel op wie die Gees van die Here gekom het. Moses het gewens dat die hele volk soos hulle profete sou wees (Num. 11:16-29). Dit het op Pinksterdag waar geword toe die Gees op alles soorte gelowiges gekom het. Dit is ook insiggewend dat Christus die 70 oproep om te bid vir verdere arbeid. Ons kan hierdie gebeure daarom sien as ’n inleiding tot die werk van die Kerk van Christus en die missie van die Kerk as koninklike en gestuurde gesante van die Here. Ons kan daarom ook afleidings maak oor dissipelskap en kerkwees. Die Kerk as liggaam van Christus kan eenvoudig nie afsydig staan teenoor haar roeping as koninklike gestuurdes in hierdie wêreld nie.

Dit is ook opwindend om te hoor van die oes wat groot is. Die resultate is nie klein nie. Maar die arbeiders is min. Die dinamika is duidelik een van koninklike gesante wat hoor, opdragte van heling  en vrede bring uitvoer, verder bid, fokus en baie ligte reistasse vir die reis. Die oesinsameling is vol avontuur en hang noodwendig saam met donker realiteite van mense wat groot nood het, van die  werklikheid van die Bose wat dit teenstaan, en van God se oordeel. Dit is nie bloot ’n geval van oes wat ryp lê en rustig en ingesamel word nie. Daar is definitiewe gevare  van wolwe en van die Bose en van  mense wat die boodskap midde God se dreigende oordeel verwerp. Ons moet ook Christus se wee-uitspraak oor hulle wat die voorreg gehad het om Hom te beleef nie lig taks nie. Ons moet dit in verband bring met die Ou Testament se oordeel oor heidenstede (vgl. Gen. 19, Jes. 23, Jer. 25:22; 47:4; Es. 26:3-28:24; Joel 3:4-8; Amos 1:9-10) en hoor hoe Christus dit nou verdiep. Dit gaan te maklik by ons verby dat dit vir Sodom verdraagliker sal wees as hulle wat die tasbare openbaring van die Messias verwerp. Hoe meer lig ons ontvang, hoe groter is ons verantwoordelikheid. Wee ons as ons die lig wat ons ontvang het, klakkeloos afmaak.

Hierdie lig gaan oor die Naam wat ware bevryding bring. Dit is hierdie Naam wat toegang tot die Vader gee (v. 22 vgl. Joh. 14:6) en deur wie die dissipels en die Kerk vandag nog oorwinning het oor duiwels. Die dissipels was verwonderd hieroor, maar Christus help hulle en ons reg op twee vlakke. (1) Dit is alleen deur Christus se bediening dat die satan en die Bose neergevel is en dat die Kerk mag het. (2) Ons moenie fokus op uiterlike mag en tekens nie. Ons blydskap ("wees liewer bly" - voortdurende teenwoordige tyd) is eerder geleë in die feit dat ons kinders van God is (v.21-24) wie se name in die hemel opgeskrywe is. Die res is voetnotas. Christus is daar, sy Naam is daar en in Hom is ons name daar. In Hóm is ons geseënd met alle geestelike seëninge (Ef. 1:3,12).     

Werke geraadpleeg:

Bergsma, J. The Word of the Lord. Year C.

Bock, D.L. Luke: NIV Application Commentary.

France, R.T. Luke: Teach the Text Series.

Sproul, R.C. Luke: An Expositional Commentary.