Lees: Luk.
2:1-20
Gedagte vir kinders: Die Here Jesus Christus het gekom om gewone mense
te red.
Oorsig: Lukas, die geneesheer, het noukeurig ondersoek gedoen, heel waarskynlik ook
by Maria (v.19), oor die lewe van die Here Jesus op aarde. Hier vertel hy ons
van die tyd, die plek en die manier waarop Jesus Christus gebore is. Lukas
vertel daarom van ’n bevel van keiser Augustus (31v.C.-14n.C.), die broerskind
van Julius Caesar wat hom opgevolg het, en baie magtig en beroemd was. Die hele
wêreld moes ingeskryf word (sensus), waarskynlik om belasting in te vorder
(v.1). Dit was die eerste inskrywing toe Cirenius goewerneur van Sirië was. Almal
moes ingeskryf word in hul geboortedorp. So het Josef vanaf Nasaret opgegaan na
Betlehem in Judea, die stad van Dawid, omdat hy uit daardie nageslag was. Hy
het Maria saamgeneem aan wie hy verloof was en wat swanger was (v.2-5).
Terwyl hulle daar was het sy haar eersgebore Seun gebaar
en hom in doeke toegedraai en in die krip neergelê, omdat daar geen plek in die
gastekamer/herberg was nie (v.6-7). In daardie tyd was die diere en krip
dikwels onder die huis of langsaan die slaapkamer. Daar was ook herders in daardie
selfde omtrek wat in die oop veld in die nag oor hul skape wag gehou het. (Betlehem
word vandag as ’n minimum net vyf grade koud in die nag in Desember). Skielik
staan daar toe ’n engel van die Here by hulle en die heerlikheid van die Here
was rondom hulle. Hulle was baie bevrees, soos dit ook met elkeen van ons sal
gaan as ons skielik in ons mensheid die heerlikheid van die Here moet beleef
(v. 8-9). Die engel het egter vir hulle gesê om nie te vrees nie, want hy het
’n goeie tyding van groot blydskap gebring vir die hele volk. Dit is dat die Saligmaker
(Redder) in Betlehem, die stad van Dawid, gebore is wat Christus
(Messias/Gesalfde) die Here is (vgl. Luk. 1:32-33; Jes. 9:5). Die teken
is dat hulle ’n Kindjie daar sal vind in doeke toegedraai in die krip (v.10-12).
Skielik was daar toe saam met die engel baie van die hemelse leërskare wat God
prys en sê: Eer aan God in die hoogste hemel en vrede op aarde, in die mense in
wie God ’n welbehae het (v.13-14; 2020 en NAB).
Toe die engele weggaan na die hemel, het die herders
besluit om na Betlehem te gaan en dit te gaan bevestig. Hulle het toe haastig
gegaan en Maria en Josef gevind en die kindjie wat nog in die krip lê
(v.15-16). Hulle het toe oral die woord bekend gemaak wat aan hulle oor die
Kindjie vertel is. Almal wat gehoor het, was verwonderd. Maar Maria het al die
woorde bewaar en in haar hart oordink. En die herders het teruggegaan en God
verheerlik en geprys oor alles wat hulle gesien en gehoor het, net soos aan hulle
gesê is (v.17-20).
Besprekingsvraag: Wat kan ons leer uit die kontras tussen die Keiser
en die Kind?
Insig: Kersfees konfronteer ons met kontraste. Ons hoor hier van die mees hooggeplaaste denkbaar, keiser Augustus, wat vrede en goeie nuus vir die ruwe wêreld van destyds beteken het. Midde oorloë en bendes en geweld was daar iemand wat darem bepaalde reg en orde kon handhaaf en vrede bring. Maar dan hoor ons van ’n kindjie in ’n nederige dorpie wat gebore word, ’n spesifiek dorp waaroor God groot beloftes gemaak het (vgl. Miga 5:1). Die grote keiser is hierin net maar instrument. Ons hoor in hierdie wêreldse gang van ’n keiser met ’n sensus iets verstommend: Die heerlikheid van die Here wat in die Ou Testament basies net by Sinai en die tabernakel en tempel beleef is (vgl. Ex. 24: 16-17), skyn hier om die engele, die dienende geeste van God wat om ons ontwil uitgestuur word eerste onder gewone herders (vgl. Hebr. 1:14). Die engele, so leer die Bybel ons, is begerig om in te kyk in dit wat God doen (1 Pt. 1:12), en Lukas se beginhofstukke laat ons iets hiervan duideliker besef. Die engele konfronteer ons ook met ’n bo-natuurlike wêreld. Sogenaamd sekulêre mense, ook vandag, moet kennis neem. Die engele en die heerlikheid van God wat hier in die nag skielik verskyn maak ons ook attent daarop dat hier iets gebeur wat baie groter is as aardse eer en heerlikheid, selfs van keiser (Oktavius) Augustus wat een van die vernaamste keisers ooit was.