Wys tans plasings met die etiket Kersfees. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Kersfees. Wys alle plasings

2024/10/25

Heerlikheid en vrede vir gewone mense

Lees: Luk. 2:1-20

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus Christus het gekom om gewone mense te red.

Oorsig: Lukas, die geneesheer, het noukeurig ondersoek gedoen, heel waarskynlik ook by Maria (v.19), oor die lewe van die Here Jesus op aarde. Hier vertel hy ons van die tyd, die plek en die manier waarop Jesus Christus gebore is. Lukas vertel daarom van ’n bevel van keiser Augustus (31v.C.-14n.C.), die broerskind van Julius Caesar wat hom opgevolg het, en baie magtig en beroemd was. Die hele wêreld moes ingeskryf word (sensus), waarskynlik om belasting in te vorder (v.1). Dit was die eerste inskrywing toe Cirenius goewerneur van Sirië was. Almal moes ingeskryf word in hul geboortedorp. So het Josef vanaf Nasaret opgegaan na Betlehem in Judea, die stad van Dawid, omdat hy uit daardie nageslag was. Hy het Maria saamgeneem aan wie hy verloof was en wat swanger was (v.2-5).

Terwyl hulle daar was het sy haar eersgebore Seun gebaar en hom in doeke toegedraai en in die krip neergelê, omdat daar geen plek in die gastekamer/herberg was nie (v.6-7). In daardie tyd was die diere en krip dikwels onder die huis of langsaan die slaapkamer. Daar was ook herders in daardie selfde omtrek wat in die oop veld in die nag oor hul skape wag gehou het. (Betlehem word vandag as ’n minimum net vyf grade koud in die nag in Desember). Skielik staan daar toe ’n engel van die Here by hulle en die heerlikheid van die Here was rondom hulle. Hulle was baie bevrees, soos dit ook met elkeen van ons sal gaan as ons skielik in ons mensheid die heerlikheid van die Here moet beleef (v. 8-9). Die engel het egter vir hulle gesê om nie te vrees nie, want hy het ’n goeie tyding van groot blydskap gebring vir die hele volk. Dit is dat die Saligmaker (Redder) in Betlehem, die stad van Dawid, gebore is wat Christus (Messias/Gesalfde) die Here is (vgl. Luk. 1:32-33; Jes. 9:5). Die teken is dat hulle ’n Kindjie daar sal vind in doeke toegedraai in die krip (v.10-12). Skielik was daar toe saam met die engel baie van die hemelse leërskare wat God prys en sê: Eer aan God in die hoogste hemel en vrede op aarde, in die mense in wie God ’n welbehae het (v.13-14; 2020 en NAB).

Toe die engele weggaan na die hemel, het die herders besluit om na Betlehem te gaan en dit te gaan bevestig. Hulle het toe haastig gegaan en Maria en Josef gevind en die kindjie wat nog in die krip lê (v.15-16). Hulle het toe oral die woord bekend gemaak wat aan hulle oor die Kindjie vertel is. Almal wat gehoor het, was verwonderd. Maar Maria het al die woorde bewaar en in haar hart oordink. En die herders het teruggegaan en God verheerlik en geprys oor alles wat hulle gesien en gehoor het, net soos aan hulle gesê is (v.17-20).        

Besprekingsvraag: Wat kan ons leer uit die kontras tussen die Keiser en die Kind?

Insig: Kersfees konfronteer ons met kontraste. Ons hoor hier van die mees hooggeplaaste denkbaar, keiser Augustus, wat vrede en goeie nuus vir die ruwe wêreld van destyds beteken het. Midde oorloë en bendes en geweld was daar iemand wat darem bepaalde reg en orde kon handhaaf en vrede bring. Maar dan hoor ons van ’n kindjie in ’n nederige dorpie wat gebore word, ’n spesifiek dorp waaroor God groot beloftes gemaak het (vgl. Miga 5:1). Die grote keiser is hierin net maar instrument. Ons hoor in hierdie wêreldse gang van ’n keiser met ’n sensus iets verstommend: Die heerlikheid van die Here wat in die Ou Testament basies net by Sinai en die tabernakel en tempel beleef is (vgl. Ex. 24: 16-17), skyn hier om die engele, die dienende geeste van God wat om ons ontwil uitgestuur word eerste onder gewone herders (vgl. Hebr. 1:14). Die engele, so leer die Bybel ons, is begerig om in te kyk in dit wat God doen (1 Pt. 1:12), en Lukas se beginhofstukke laat ons iets hiervan duideliker besef. Die engele konfronteer ons ook met ’n bo-natuurlike wêreld. Sogenaamd sekulêre mense, ook vandag, moet kennis neem. Die engele en die heerlikheid van God wat hier in die nag skielik verskyn maak ons ook attent daarop dat hier iets gebeur wat baie groter is as aardse eer en heerlikheid, selfs van keiser (Oktavius) Augustus wat een van die vernaamste keisers ooit was.

Vanaf Betlehem vir die wêreld

Lees: Miga 5:1-6

Gedagte vir kinders: Die HERE het vanuit Betlehem Jesus Christus vir die wêreld gegee.

Oorsig: Die profeet Miga tree op in dieselfde tyd as Jesaja (vgl. Jes. 2 en Miga 4). Soos Jesaja kondig Miga ook die oordeel oor Israel en hulle leiers aan (Miga 3), maar ons hoor ook hier dat alles nie vir altyd verlore is nie. Vanuit Betlehem Éfrata, daardie klein dorpie in Juda wat aanvanklik nie eens genoem is in Joshua se tyd onder die dorpe van Juda nie (vgl. Jos.15:20-63), sal daar vir die Here iemand uitgaan. Hy sal ’n Heerser wees. Nou moet ons onthou dat Betlehem die plek was waar Boas, en Isai en Dawid gebly het (Gen. Rut 4:11; 1 Sam. 16:1). Daarvandaan het die Here Dawid as koning oor Israel geroep. Nou sê die profeet dat daar weer iemand uit hierdie geslag van Dawid aan wie die belofte gemaak is dat sy troon vir ewig sal staan, sal kom om redding te bring. Miga sê ook dat hierdie Heerser se “uitgange” (let wel, nie blote begin nie. Vgl. die geloofsbelydenis van Nicea) uit die voortyd is, en as hy dit verder verduidelik, uit die ewigheid (v.1). Dit kan uiteindelik net op een Iemand dui: Jesus Christus. In hulle tyd het hulle dit moontlik verstaan as dat die verbond met Dawid al van Abraham af kom en dalk gedink dat dit toe op Hiskia dui. Maar uiteindelik kon dit net vervul word in Jesus Christus.

Die Here verduidelik dan dat hy die volk sal oorgee (prysgee) aan heidene totdat ’n vrou geboorte geskenk het (barende gebaar het; vgl. Jes. 7:14; 9:1-7). Nadat hierdie gesalfde gebore is, sal daar weer ’n terugkeer wees in die hele Israel en hulle een word (v. 2). Hierdie gesalfde sal optree (staan) en hulle laat wei in die krag (sterkte) van die HERE. Dit sal wees in die Naam van die majesteit van die HERE. Die gevolg is dat hulle rustig sal woon, aangesien hierdie gesalfde groot sal wees tot aan die eindes van die aarde (v.3). Hierdie gesalfde sal nie net vrede bring nie, maar vrede wees. En daarom, wanneer die vyand, Assur, in die land kom en die paleise wil inval, sal die volk teenoor hom sewe leiers (herders), ja agt koninklikes (vorste) aanstel (v.4) - volmaakte getalle van geroepenes wat genoeg en effektief sal stry.

Die volk sal dan die wrede vyand, Assur, met die swaard afwei. Dit is die land van die geweldenaar Nimrod (Gen. 10:8), se ingang wat ingeneem sal word. Hierdie gesalfde sal die volk bevry van Assur wanneer hy in die land kom (v.5). Die gevolg sal wees dat die oorblyfsel van die volk van die HERE onder baie volke sal wees soos die dou van die HERE. Ja, hulle sal wees soos reënbuie op die plante wat op geen mens wag of vertoef nie (v.6).   

Besprekingsvraag: Wat behoort ons vandag te doen as ons soos Hiskia bedreiginge beleef?

Insig: Wanneer ons die woord as ’n eenheid lees, soos wat ons vaders en moeders dit gedoen het, is ons verstaan van die Bybel soveel ryker. Dan kan ons die lyne begin trek tussen die beloftes aan Dawid, die herder-koning, en die Messias wat uiteindelik uit sy nageslag gebore is (vgl. 2 Sam. 7:1-16; Lk. 1:52; Ps. 2; Jes. 11). Wanneer ons dus hier hoor van weiding en daarmee van die herder-koning (2 Sam. 5:2), heerskappy tot aan die eindes van die aarde en vrede (v.3-4), weet ons dat dit gaan oor beloftes aan Dawid wat uiteindelik in Jesus Christus vervul is. Die Here beskik dit dan ook so dat die Here Jesus se moeder uiteindelik onopsigtelik vanaf Nasaret kom om in Betlehem, letterlik die stad van brood, gebore te word, net soos koning Dawid. Betlehem was werklik klein onder die geslagte van Juda, nie eens genoem in Josua se tyd nie (Jos. 15:20-63). En tog, God gee waarde en daarom mag elke geringe, dorpie of instelling of mens, weet dat hulle waarde deur verbondenheid aan Jesus Christus eindeloos groot is. Hy maak van elke niemand ’n iemand voor God. Dit is ook die onvergelyklike heerlike bediening van die Kerk.

2023/11/29

Ontvang jou Koning bly

Lees: Mk. 11:1-11

Gedagte vir kinders: Ons Koning, die Here Jesus, is sterk en nederig.

Oorsig: Die Here Jesus was op pad na Jerusalem waar Hy vir ons sonde sou sterf. In daardie laaste week in Jerusalem sou daar baie gebeur wat uiteindelik sou lei tot sy kruisiging. Hier lees ons van die besondere manier hoe Hy in Jerusalem ingekom het. Hulle het vanaf Jerigo se kant opgekom na Jerusalem langs ’n baie steil en opdraande pad. So het hulle naby Jerusalem gekom by Betfage en Betanie wat by die Olyfberg geleë was (v. 1; vgl. Sag. 9:9; 14:4-9). Daar het Hy vir hulle gesê om na die dorp reg voor hulle te gaan (Betfage of Betanie), en dat hulle daar dadelik as hulle inkom, ’n eselsvul sal vind wat vasgemaak is en waarop niemand nog gesit het nie (vgl. Num. 19:2; Dt. 21:3; 1 Sam. 6:7; Gen. 49:10-11). Hulle moes die eselsvul dan losmaak en hom bring, en as iemand vra waarom hulle dit doen, moes hulle antwoord: Die Here het hom nodig. Dan sou die persoon dadelik die eselsvul stuur (v.2-3).

Hulle het toe gegaan en die vul net so by ’n deur buite op die straat gevind en hom losgemaak. Sommige het toe gevra wat hulle maak en hulle het toe geantwoord soos Jesus beveel het en hulle het hulle toegelaat (v.4-6). So het hulle toe die vul na die Here Jesus gebring en hulle klere daarop gelê en Hy het toe op die vul gaan sit. Toe het baie mense hulle klere op die pad gegooi en ander het takke afgekap van die bome af en dit op die pad gestrooi (v.7-8). Dit was ’n bekende gebruik wanneer mense erkenning wou gee aan ’n koning wat op pad was (vgl. 2 Kon. 9:13). Die wat voor geloop het en die wat agter gevolg het, het uitgeroep: Hosanna! (Here red ons nou). Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Geseënd is die koninkryk wat kom in die Naam van die Here, die koninkryk van ons vader Dawid! Hosanna in die hoogste hemele! Dit is woorde wat kom uit Ps. 118:25-26 en wat die mense ook gesing het tydens Paastyd om die Here se verlossing te herdenk. Hulle het hiermee ook uitgesien na die finale Koning uit Dawid se nageslag wat die verlossing sou inbring.

En so het die Here Jesus in Jerusalem gekom by die tempel. Daar het God bepaal dat mense Hom sou ontmoet der offers volgens sy voorskrifte. Later het die profete uitgesien na die dag wat die aanbidding in Jerusalem herstel sou wees en al die nasies daar sou aanbid. Nadat die Here Jesus alles rondom die tempel bekyk het (Net Markus vertel hiervan, iets wat Petrus blykbaar duidelik bygebly het) en omdat dit al aand was, het Hy met die twaalf uitgegaan na Betanie.

Besprekingsvraag: Waarom ry die Here Jesus op ’n eselsvul en nie op ’n mooi perd nie?

Insig: Tydens sy aardse bediening wou die Here Jesus nie dat mense Hom voortydig as Messias of Christus verkondig nie (Mk. 8:29-30). Mense sou te maklik net aan ’n aardse koning en oorwinning dink. Hier, op pad na sy kruisiging, maak Hy Homself nou as die Messias-koning uit Juda bekend (Gen. 49:10-11), uit die geslag van Dawid (v.10). Die dier wat niemand nog gebruik het nie, dui op die heilige doel, hier vir ’n vrede-koning groter as Salomo (vgl. 1 Kon. 1:32-34). Sagaria 9:9 gee ooglopend hier die betekenis: