Wys tans plasings met die etiket boekbesprekings. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket boekbesprekings. Wys alle plasings

2021/06/11

Boekbespreking: Science, Politics and Gnosticism: Two Essays [1960] 2012, deur Eric Voegelin (2)


In die eerste aflewering is die klassieke publikasie van ’n politieke filosoof van die twintigste eeu, Eric Voegelin, bekend gestel. Volgens Voegelin is die Gnostisisme die essensie van modernisme en nuwe dinge is nie so nuut is soos wat ons dink nie. Hy is van mening dat daar duidelike motiewe, simbole en denkpatrone van die gnostiese bewegings tot in ons tyd geëien kan word. In hierdie aflewering kyk ons na sy tweede en laaste essay in sy publikasie met die titel Science, Politics and Gnosticism. 

Surrogaat-godsdiens: Gnostieke massabewegings

In sy tweede referaat, Ersatz Religion: The Gnostic Mass Movements of our Time,  hanteer Voegelin die gnostiese massabewegings en die intellektuele bewegings van sy tyd (en ons tyd) as minderwaardige plaasvervangende godsdienste. Insiggewend genoeg toon hy hiermee aan dat daar nie so ’n groot verskil is tussen massabewegings en intellektuele bewegings as wat sommige dink nie. Voegelin voer aan dat beide hul oorsprong het in bepaalde intellektuele en kleingroepe. Dit laat ’n mens dink aan die kleingroepe waaruit die Kerk ook gegroei het en versterk die vermoede van die nabootsing van godsdiens. Hierdie vermoede word ook verder bevestig wanneer Voegelin opmerk dat ons die woord altruïsme aan Auguste Comte te danke het, en dat dit die sekulêre plaasvervanger vir liefde is wat gebruik om word om die broederskap van mense sonder die Vaderskap van God te erken. Hieronder tel hy die progressiwisme, positivisme, Marxisme, vorme van psigoanalise, kommunisme, fascisme, en nasionale sosialisme.       

Voegelin identifiseer ’n gnostiese lyn vanaf die antieke Mediterreense gebied deur bewegings van die Hoë Middeleeue heen, tot by die Westerse Renaissance en Reformasie. Hy identifiseer ses kenmerke van die gnostiese houding. (1) Ontevredenheid met die eie situasie (nie so vreemd nie); (2) die geloof dat die situasie te wyte is aan swak organisasie van die wêreld (meer vreemd – dit is hiervolgens strukturele probleme eerder as sonde-probleme); (3) redding uit hierdie bose toestande/strukture is moontlik; (4) Die wese van die wêreld moet verander word in ’n geskiedkundige proses; (5) Die verandering moet geskied deur menslike aksie en die mens se eie pogings; (6) die ingeleides met kennis sal vir ons die metode wys hoe dit moet gebeur. Dus: ’n formule vir selfverlossing en wêreldverlossing.  

Tipiese simbole

Hierdie houding vind uitrukking, nie net in bepaalde denkpatrone nie, maar ook tipiese simbole. Die motiewe en simbole sal hier net kortliks genoem word, en dan sal daar veral na twee uitdrukkings daarvan gekyk word wat ligte tot in ons dag laat opgaan.

Boekbespreking: Science, Politics and Gnosticism: Two Essays [1960] 2012, deur Eric Voegelin (1)



Ons is almal nou Gnostieke. Dit is die vangfrase wat onlangs in 'n podsending gebruik is toe die metafisiese uitkyk van ons tyd ter sprake was. Een van die verwysings wat die stelling moes staaf, was hierdie kern-werk van Eric Voegelin wat nagenoeg 100 bladsye beslaan en wat dateer uit 1959-60.

By die herlees van hierdie werk kom die uitlokkend polities korrekte spot by 'n mens op. Dit is dat 'n blonde man drie keer vir 'n grap lag - wanneer hy dit hoor, wanneer hy dit oorvertel, en wanneer hy dit verstaan. Voegelin se werk maak van die meeste van ons, in elk geval van hierdie bekendsteller, blonde mans. Vergun my daarom om oor te vertel, sodat ook ek kan snap. Volgens Voegelin is Gnostisisme die essensie van modernisme. Die stelling behoort aandag te trek, aangesien hierdie bondige werk van Voegelin beskou word as ’n klassieke werk in moderne politieke teorie volgens Ellis Sandoz wat die voorwoord geskryf het. Sandoz wys daarop dat hierdie werk van Voegelin ongeveer agt jaar na sy publikasie, The New Science of Politics (1952), verskyn het en dat hierdie later werk die tweede gedeelte van die genoemde publikasie verdiep.

Moet ook nie die fout maak om te reken dat selfs hierdie stelling in vandag se post-wêreld agterhaald is nie. Ons is mos, so reken baie, darem nou lankal uit die modernisme uit en in die post-postmodernisme in. By die lees van Voegelin word dit egter duidelik dat Voegelin ook vaders van die post-gedagtes  - soos Nietzsche, soos Joachim van Fiore - insluit. Om die waarheid te sê, Voegelin sou vandag waarskynlik sê dat die skadu van Gnostiekeland bloot duideliker en donkerder geword het. En deel van die dilemma is, sê Voegelin oorgeklank, dat ons steeds met gnostiese konsepte probeer om uit te klim uit die gnostiese gat wat ons vir onsself gegrawe het. Wat moet dan gebeur?

2021/05/14

Boekbespreking: Gnostic America: A Reading of Contemporary American Culture & Religion according to Christianity’s Oldest Heresy, 2014, deur Peter Burfeind



 Waarom lyk dit deesdae of alles skielik intuimel? Waarom is daar sulke definitiewe optrede om alles wat voorheen aanvaarbaar was nou te bevraagteken en te vervang? Waarom kan ’n universiteit byvoorbeeld nou selfs begin reëlings tref dat studente nie eers meer as dames en here aangespreek behoort te word nie? Peter Burfeind, ’n leraar in die Lutherse tradisie, het ’n baie definitiewe antwoord. Soms kry ’n mens die gevoel dat hy ’n hamer gevind het en dat alle kwessies nou spykers is wat hy daarmee kan slaan. En tog, daar is net te veel spykers wat wel raakgeslaan word wanneer Burfeind die hamer optel.

Burfeind het jarelank (sedert die middel van die 1990’s) ondersoek ingestel na die ou dwaalleer van die Gnostisisme wat telkens nuwe gedaantes in die geskiedenis gekry het. Om die waarheid te sê, Burfeind wys daarop dat hierdie donker dwaalleer reeds in die Bybelse tye na vore getree het (vgl. 1 Johannes) en dat dit die Kerk soos ’n skaduwee deur die eeue heen volg. Burfeind reflekteer onlangs oor sy publikasie wat uiteindelik in 2014 verskyn het, Gnostic America, en noem die dwaling die duiwel se teologie. Hy stel dan dat hy geleidelik met sy navorsing begin besef het dat die probleem groter is as wat hy gedink het. Daarom wys hy uiteindelik in hierdie werk die invloed van die Gnostisisme in Amerika op godsdiens, kultuur en politiek. Sy toepassings toon egter duidelik aan dat dit nie net ’n probleem in Amerika is nie, maar ook in baie ander eertydse Westerse lande.

Waaroor gaan dit in die Gnostisisme en hoe is hierdie ou dwaling vandag steeds springlewendig?

2021/05/13

Boekbespreking: The Ascension of Christ: Recovering a Neglected Doctrine, 2020, deur Patrick Schreiner



Dit is weer tyd vir Christene se herdenking van die Hemelvaart. Dit is ook die Christelike vakansiedag wat in Suid-Afrika reeds gesneuwel het. In baie Europese lande word die dag verbasend genoeg nog steeds as vakansiedag herdenk, maar dikwels is die werklike betekenis daarvan reeds lankal verlore. Dit is daarom heel gepas om by die herdenking van die Hemelvaart weer te hoor hoe belangrik hierdie aspek van ons geloof is en waarom dit verdien om weer ingestel te word.

Patrick Schreiner, Professor in Nuwe Testament in Kansas City, Missouri in die VSA, het in 2020 ’n belangrike bydrae hieroor gelewer in die bondige Snapshot-reeks in teologie. Schreiner skryf in ’n behoorlik Bybelbelaaide publikasie oortuigend oor die belang van die Hemelvaart-gebeure vir ons lewe en ons teologie. Hy begin heel gepas met ’n aanhaling van die behoudende Douglas Farrow van Kanada, die teoloog wat in die onlangse tyd geweldig baie gedoen het om die belang van Hemelvaart weer op die agenda te plaas: “Dit is opmerklik hoe min die Hemelvaart deesdae genoem word. Eens was dit gesien as die hoogtepunt van die verborgenheid van Christus ... Vandag is dit 'n verleentheid.”