Wys tans plasings met die etiket geloofsdeelname. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket geloofsdeelname. Wys alle plasings

2024/08/03

Jou diepste honger, jou grootste dors

Lees: Joh. 6:22-35

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus kan ons diepste honger vir ewige versadig. 

Oorsig: In Johannes 6 hoor ons van Johannes se weergawe van die vermeerdering van die vyf e brode en twee vissies. Johannes noem die sewe wonders van die Here Jesus in sy evangeliebeskrywing baie spesifiek “tekens”. Almal moet verstaan dat sy wonderwerke tekens is van iets groter en heerliker: Die Koninkryk van God wat deur Jesus Christus deurbreek in hierdie wêreld. Daarom lees ons net na die vermeerdering van die brode, van die storm waar die Here Jesus op die see loop en net daarna van sy gesprek met die skare waarin Hy die teken van die broodvermeerdering se dieper betekenis vir hulle geleidelik uitlê.

Die skare kry Jesus aan die anderkant van die meer nadat hulle oorvaar met skuite vanaf die plek van broodvermeerdering, in die omgewing van Kapernaum. En toe wil hulle weet hoe Hy daar gekom het (v.22-25). Die Here antwoord hulle vrae egter baie ondersoekend. Hy wys hulle daarop dat hulle Hom eintlik net soek omdat hulle mae vol geword het. Hy roep hulle toe op om eerder te fokus op die voedsel (spys) wat bly tot in die ewige lewe. Dit is wat die Seun van God aan hulle sal gee, want Hy is deur die Vader bevestig (verseël) as die Een wat dit sal doen (v.26-27). Hulle vra toe wat hulle moet doen om God se werk deur te voer (volbring) en die Here Jesus het geantwoord dit daarin bestaan dat hulle sal fokus op wat God doen en dat hulle glo in die Een wat God gestuur het (v.28-29).

Hulle vra Hom toe ’n teken sodat hulle in Hom kon glo. Hulle het verwys na Moses se teken van manna in die woestyn (v.30-31). Manna uit die hemel was tog ’n groter werk as brood op aarde wat vermeerder. Die Here antwoord toe dat hulle moet besef dat dit nie Moses was die brood uit die hemel gegee het nie, maar sy Vader en dat Hy die ware brood gee. En die brood van God is hy wat uit die hemel neerdaal en aan die wêreld die lewe gee (v.32-33). Hulle vra toe om altyd aan hulle hierdie brood te gee (v.34). Dit is toe dat die Here antwoord met een van sy sewe “Ek is”-uitsprake in Johannes: “Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie” (v.35). Die volk in die woestyn het aanvanklik nie die manna herken toe dit aan hulle gegee is nie en hierdie mense herken nie die Here Jesus nie. Maar Hy verduidelik dat hulle Hom moet leer erken as die ware brood uit die hemel. Die manna en die broodvermeerdering het eintlik na Hom heengewys. Hyself, die brood van die lewe, die Here Jesus, kan ons geestelike honger en dors vir ewig versadig.   

Besprekingsvraag: Hoe leer ken ons die Here Jesus as die brood van die lewe?   

Insig: Hierdie skare doen iets voortreflik. Hulle soek na die Here Jesus. En hulle kry hom uiteindelik. En tog, in die vind van Christus, konfronteer Hy hulle oor hulle eintlike motiewe. Dit gaan meer vir hulle oor hulle versadiging deur die fisiese brood (v.26). Hulle wou hom aanvanklik alreeds by die vermeerdering van die brood met geweld Koning maak (v.15), maar waarom? Om ’n aardse koning te hê wat hulle kan versorg en bevry van Rome? Beide ’n teologie van patriotisme sowel as ’n teologie van bevryding kan verkeerde motiewe hê. Waarom is Christus nou eintlik vir jou belangrik? Wil jy Hom dalk ook eintlik net inspan vir een van jou begeertes of agendas?

2022/06/04

Bullinger oor geloof en deelname

Hier is sommer iets wat ek by Heinrich Bullinger oor geloof en deelname gekry het in art. 15 van die Tweede Helvetiese Konfessie:
"WE RECEIVE CHRIST BY FAITH. Moreover, the Lord abundantly shows that we receive Christ by faith, in John, ch. 6, where he puts eating for believing, and believing for eating. For as we receive food by eating, so we participate in Christ by believing."

Net 'n verdere opmerking of twee oor die Tweede Helvetiese Konfessie van Bullinger. Ek is in 'n eerste aftasting verras deur Bullinger se terugverwysings na Augustinus. Ook deur die wyse waarop hy die leer van die Uitverkiesing hanteer.