Wys tans plasings met die etiket regverdiging. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket regverdiging. Wys alle plasings

2025/02/24

Verlos van gebondenheid en magte

Lees: Jesaja 52:7-12

Gedagte vir kinders: Die goeie nuus oor Jesus is dat Hy die Koning is wat ons red en bewaar.

Oorsig: Die profeet Jesaja het die volk gewaarsku dat hulle in ballingskap sou gaan en ons lees daarvan in die eerste gedeelte van die boek Jesaja in hoofstuk 1-39. Vanaf Hoofstuk 40 begin hy egter ook daarmee saam vertroosting te gee aan hulle wat in ballingskap gegaan het. Die Here sou hulle ook weer uit die ballingskap bevry en daar word onder andere besondere dinge oor Iemand gesê wat die Kneg van die Here genoem word. In hoofstuk 52 praat die profeet baie spesifiek oor die bevryding uit Babel wat sou plaasvind. Hierdie heerlike bevryding het daarmee saam ook gespreek van die grootste bevryding wat sou kom deur Jesus Christus.

In vers 7 roep die profeet uit oor (1) die hoe lieflik die voete is van hom wat die goeie boodskap bring. Hy brei uit en se dat (2) hierdie boodskap vrede laat hoor. Dit is (3) die goeie tyding (letterlik: goeie boodskap van goedheid) wat gebring word en wat (4) verlossing laat hoor. Die wese daarvan gaan daaroor dat aan Sion, die berg in Jerusalem waarop die tempel gebou is, gesê word: Jou God is Koning! Dan roep die profeet op om te let op die wagte (op die mure van Jerusalem). Hy stel dit so: Hoor! Jou wagte! Want die wagte (1) verhef die stem en (2) hulle jubel almal saam. Die rede is dat hulle vlak voor hulle oë sien hoe die HERE terugkeer na Sion (v.8). Dit het waarskynlik in die onmiddellike konteks gedui op die amptelike terugtog met die tempelgereedskap, geborg deur Koning Kores wat later plaasgevind het (vgl. Esra 1:5,7). 

Dan roep die profeet uit dat die vervalle puinhope van Jerusalem moet uitbreek en almal saam moet jubel, aangesien die HERE sy volk getroos en Jerusalem verlos het (v.9). Want die HERE het sy heilige arm ontbloot voor die oë van die nasies en dat al die eindes van die aarde die verlossing (heil) van onse God sal sien (v.10). Jesaja roep daarna die weggevoerde ballinge op met (1.1) die oproep, “Vertrek, vertrek!”’ In die proses moet hulle (2.1) nie aanraak wat onrein is nie. Hulle word weer opgeroep (1.2): “gaan uit hulle midde uit, en (2.2) reinig julle. Die rede is dat hulle draers is van die heilige voorwerpe van die HERE (v.11). Dit het gewys op die tempelgereedskap wat hulle sou terugbring na Jerusalem. Die profeet sê dan dat hulle nie baie haastig sal weggaan soos vlugtelinge (destyds uit Egipte) nie. Nee, die HERE sal voor hulle uittrek en ook hulle agterhoede wees soos vroeër met die wolkkolom en vuurkolom in die woestyn (v.12).         

Besprekingsvraag: Watte geestelike boodskap het die terugkeer uit die ballingskap steeds?

Insig: Dit is belangrik dat ons die letterlike en oorspronklike konteks goed in die oog kry, aangesien dit ons baie help om geloofwaardig die geestelike betekenis na ons toe deur te trek.  Hierdie gedeelte toon aan ons waar die Ou Testament alreeds van die goeie boodskap en goeie tyding praat wat later toegepas word op die evangelie (Rom. 10:15). 

2023/10/12

Kom, en trek jou bruilofskleed aan!

Lees: Mt. 22:1-14

Gedagte vir kinders: ’n Mens kan nie met jou vuil klere by God se fees opdaag nie.

Oorsig: Die Here Jesus het in die laaste week voor sy kruisiging, daar by die tempel, nadat Hy dit gereinig het, drie gelykenisse vertel. Daarin het Hy hulle geleer oor God se koninkryk en wie Hy daarin is. Na twee gelykenisse oor ’n wingerd het hy toe een vertel van die koninkryk wat is soos ’n koning wat ’n bruilof vir sy seun berei het (v.1-2). Hierdie koning het sy dienaars uitgestuur om die genooides na die bruilof te roep, maar hulle wou nie (let wel) kom nie. Die koning was egter so besonders dat hy weer ander dienaars uitgestuur het met ’n boodskap wat dit nog duideliker uitspel: “Kyk, my ete het ek berei en my beeste en vetgemaakte diere is geslag en alles is nou gereed. Kom na die bruilof.” (v.3-4; vgl. Jes. 25:6-10).

Maar die genooides het egter baie vreemd teenoor die koning se diensknegte opgetree. Hulle het hulle nie aan die boodskap gesteur nie en weggegaan, die een na sy eie stuk land en ’n ander na sy besigheid (handelsaak). Erger nog, die wat nie weggegaan het nie, het die diensknegte gegryp en mishandel en doodgemaak (v.5-6). Toe die koning dit hoor, het hy kwaad geword en sy manskappe gestuur en daardie moordenaars doodgemaak en hulle stad aan die brand gesteek (v.7). En toe het hy vir sy diensknegte gesê: Die bruilof is wel gereed, maar die genooides was dit nie werd nie. Gaan dan nou op die kruispaaie (waar baie mense verby beweeg) en nooi almal wat julle mag vind na die bruilof (v.8-9).       

Die dienaars het toe uitgegaan op die paaie en almal bymekaar gemaak wat hulle gevind het, die slegtes sowel as die goeies, en so het die saal van die bruilof vol gaste geword het (v.10). Maar ook daar het iets gebeur wat nie reg was nie. Want toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy een wat nie soos die ander gaste bruilofsklere aan het nie (v.11). Dit het glad nie gepas nie. Die koning het die man selfs toe eers vriend genoem en gevra wat fout is en hoe hy kon inkom by die saal sonder ’n bruilofskleed. Die man kon egter niks antwoord nie, want hy was skuldig. Toe het die koning vir sy dienaars gesê om sy hande en voete te bind en dat hy weggeneem moes word en in die buitenste donker (duisternis) gegooi moes word. Die Here Jesus het toe verder sy bekende waarskuwende woorde oor spyt wat te laat kom, hierby gevoeg: “Daar sal geween wees en gekners van die tande.” En toe het Hy ook ander woorde bygevoeg wat Hy al voorheen uitgespreek het om mense te vermaan om seker te maak dat hulle hoor, maar ook glo en doen: Baie is geroep, maar min is uitverkies (v.12-14).

Besprekingsvraag: Watter verskillende soorte afwysings van die Koninkryk vind ons hier?

Insig: Hierdie derde gelykenis sluit by die voriges aan om ons te leer oor die Koninkryk van God. Ons het reeds verneem dat dit werk in die wingerd en vrugdra beteken. Dit beteken hier ook feestelikheid by God se bruilof, en dat mense die diepste blydskap en innige gemeenskap met God en sy Seun deur sy Gees mag ken.

2023/02/27

Die fondasie van ware vreugde

Lees: Ps. 32

Gedagte vir kinders: Kinders van die Here is gelukkig omdat God hulle vergewe het.

Oorsig: Hierdie Psalm van Dawid word ’n onderwysing genoem (vgl. Ps. 42, 45). Ons hoor hier wat die diepste rede is vir ’n mens wat welgeluksalig is. Dit is een wie se oortreding teen God vergewe is. Die Psalmis verduidelik dan verder dat dit gaan oor iemand wie se sonde bedek is (v.1). Net daarna word dit verder verduidelik met ’n ander woord vir sonde en oortreding en dit is ongeregtigheid. Dit gaan oor iemand aan wie die HERE die ongeregtigheid nie toereken nie. Hier word ook bygevoeg dat dit iemand is in wie se gees geen bedrog is nie (v.2). Omdat dit hier oor vergifnis gaan, beteken “geen bedrog” hier in die eerste plek iemand wat geen sonde probeer toehou nie, maar dit eerlik na God se lig bring sodat Hy dit kan vergewe.

2021/10/15

Rus, roeping, en rykdom in die nuwe verbond

Lees: Hebr. 4:1-16         

Gedagte vir kinders: Glo en geniet God se rus deur Jesus Christus.   

Oorsig: Hebr. 3 het aan die hand van Psalm 95 reeds gewys op die voorbeeld van die Israeliete wat gered was uit Egipte, en tog nie die rus van Kanaän ingegaan het nie. Hoofstuk 4 bou hierop voort. Christene wat deel geword het van die nuwe verbond in Christus, moet met goddelike vrees seker maak dat hulle nie soos die Israeliete in die woestyn afvallig raak en die Here se beloftes van rus mis nie (v.1). Daar is ’n sin waarin die evangelie aan die Israeliete en aan ons verkondig is. Die rede is dat ook hulle die Here se beloftes gehad het. By hulle het hul wel die Woord van God gehoor, maar dit was nie met die geloof verenig nie (v.2). Die wat wel glo in die beloftes van God en daarom gehoorsaam, gaan sy rus in.

Die Hebreërskrywer gaan dan voort om te verduidelik wat hierdie rus, wat hy later ook sabbatsrus (v.9) noem, beteken. Daar is eintlik drie maniere waarop hierdie rus ter sprake is. Daar is (1) die rus waarvan ons by die skepping lees op die sewende dag (v.4). Daar is ook (2) die rus wat die volk voorlopig kon beleef met die intog onder Josua in die beloofde land Kanaän (v.8). Die Psalmskrywer maak ons bewus van (3) ’n verdere rus met ’n nuwe toepassing vir “vandag” ná Kanaan (v. 7-9). Kanaän is dus ’n tipe en heenwysing na ’n ander groter rus, want anders sou daar na Josua nie meer nodig wees om van ’n ander “vandag” te spreek nie (v.7-8). Dit is die sabbatsrus wat eenmaal in sy volheid waar sal wees op die nuwe hemele en die nuwe aarde (vgl. v. 9). Ons kan nou reeds in beginsel in die rus deel deur die geloof in God se beloftes wat in Christus ook ons deel is.

2019/03/07

Weggee-tekens van regverdiging

Die waarde van die groot ou geeste is dat hulle altyd nuwe toepassings vind. Dit is ook die geval met die bekende, dog onderwaardeerde lering van oom Luther. Die regverdiging deur die geloof in Christus word maklik abstrak herhaal, maar dit vind nuwe, lewende toepassings in 'n era van ongekende selfregverdiging. En waar sien ons dit deesdae uitspoel? Natuurlik nêrens anders nie as op die nimlike "fake books en flash books" van die lewe. Want sien, so dui meer as een teoloog aan, dit is daar waar mense deesdae dikwels regverdiging soek. Dit gebeur veral wanneer die regverdiging voor God, vertikaal, vergete raak. Die ignorering daarvan keer egter met weerwraak terug. Nou word die volle gewig op horisontale verhoudings, dikwels virtueel, geplaas om daardie regverdiging te bied waarna ons as mense nou eenmaal dors. Die "hou van" op vuisboek en fris-lyk-boek beteken dan oneindig baie, want sien, so word ek nou geregverdig deur ander. 

Die omgekeerde is ook waar. Op min ander plekke kan die val van held tot hel so vinnig registreer. En om "lady" Gagga in haar onlangse oomblik van waarheid aan te haal: sosiale media kan maklik die toilet van die internet wees.

2013/08/23

Skuld, skaamte, vrees

Wat in my en jou hart aangaan, gaan dikwels ook in die harte van baie ander aan. Ons steek gewoon ons begeertes en denke en emosies by mekaar aan. En, soos vroeër reeds genoem, ons dryf maklik soos bootjies rond op die dalende of stygende watervlak van ons kultuur. Daarom is dit baie belangrik om nie net te vra wat in die roersele van my en jou binneste aangaan nie, maar ook: Wat gaan in die hart van ons tyd en ons land en ons kultuur aan?
Kom ons neem voorbeelde van huidige nuusmakers. Hoe uiteenlopend die sake van Oscar Pistorius en Egipte mag wees, hulle het ook baie te make met die ratwerk van Oscar en die Egiptenare se omgewings. Daardeur word onreg deur individue nie verskoon nie, en ons kan steeds dankbaar wees dat daar instellings is wat, hoe gebroke ook al, in Egipte en in Suid-Afrika nog poog om deur ’n regstelsel persoonlike verantwoordelikheid te toets. Dit gaan nou nie hier oor ’n poging om regter te probeer speel nie. Ons laat dit oor aan diegene wat daarvoor geroep is. Die fokus hier is om te vra wat gaan aan in die hart van gemeenskappe wat deur hierdie dinge gekenmerk word. Hierdie vraag kan maklik op twee wyses die punt ignoreer. Danie Goosen het onlangs daarop gewys dat ’n liberale idee van vryheid op twee wyses hieroor kan mistas. Jy kan of die verband van 'n gemeenskap met die individu te veelseggend of te niksseggend maak. Bewus van hierdie skeeftrekkkings, kom ons probeer die roeringe van gemeenskappe peil deur te fokus op die invloed van drie groot werklikhede: skuld, skaamte, en vrees.

2011/10/30

Oor spieëls, etes en die evangelie

Ons het hierdie afgelope Sondag die Reformasie herdenk en gevier. Daaroor miskien later meer. Hier en hier is solank twee kragtige gedagtes oor die Reformasie se implikasies vir Christene se regverdiging en heiliging. Moenie dat die taal jou afsit nie. Analiseer dit, bedink dit, verwerk dit. Jy sal seën ontvang. Ek en jy het hierdie vermanings nodiger as ons volgende ete.

2011/06/29

God se werk en ons werk (1)

In die vorige pos is gewys op die wet/evangelie dinamiek in terme van indikatief en imperatief. Net weer 'n verfrisser vir die wat dalk die eerste keer met die i-woorde met tief-eindes te doene kry: Indikatief (vgl. die Engelse woord indicate) dui die stand van gebeure aan - in die evangelie spesifiek op dit wat God sonder ons gedoen het. Imperatief (vgl. die Engelse woord imperative) dui op 'n bevel. Dit gaan oor die verband tussen die aanduiding van gebeure wat buite ons en los van ons ons plaasgevind het enersyds, en die oproepe wat anderyds tot ons kom waarin onsself iets moet doen. Kortom: God se werk en ons werk. Soos op enige ander gebied is daar woorde wat mettertyd ingeburger raak as die jargon woorde en kortpad woorde om sake te beskrywe. Skuus as indikatief en imperatief  die indruk gee van snobisties neerbuigende woorde. Enige voorstelle vir ander woorde wat meer ligvoets en verstaanbaar vir Jan Alleman mag wees is altyd welkom, maar dan moet dit meer wees as jou eie euforiese stimulante. Dit moet ingeburger kan raak by almal. Verdra asseblief die woorde ter wille van die groter saak waarom dit hier gaan. Dit gaan hier om die wet/evangelie dinamiek wat seker op sy duidelikste na vore tree in Fil. 2:12-13:

... werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.

Deur die geskiedenis het die verband tussen God se werk en ons werk Christene nog altyd geboei. Dit is een van die mees basiese sake waarmee ons telkens gekonfronteer word. Die twee afgronde van  wettisisme en wetteloosheid (nomisme en antinominanisme) wink voordurend op hierdie weg as ons die stuurwiel hieroor nie goed vashou nie.

Twee gewaardeerde jonger ortodokse teoloë en vriende, Tullian Tchividjian en Kevin DeYoung, het hierdie debat onlangs met nuwe gloed op die tafel geplaas Kyk gerus hier en hier en hier om die klanke van begaafde jonger teologiese turke op te vang. Hulle debat is 'n bewys daarvan dat elke geslag hierdie sake opnuut vir hulself moet toe-eien. Wat mooi is, om te sien hoe hulle aanleun op hul klassieke tradisie. Ek kan my nie indink dat enige predikant wat besorg is oor sy gemeente en (sy eie) padhouvermoë nie hiervan 'n studie wil maak nie. Wat ek hier gaan doen is om die bespreking hiervan in 'n paar posstukke op te deel. Ter wille van hulle wat godsdiens swaar in Engels verteer sal ek in 'n eerste posstuk die basiese argument van die twee deur middel van treffende kernaanhalings uitlig ten einde 'n jeuk te veroorsaak by die wat nog nie behoefte voel om te krap nie. Daarna sal die treffende beelde en aanhalings aan die woord kom wat die twee here gebruik en wat ons gerus maar in ons herkou-lêers kan plaas. Daarna sal 'n waarderende evaluering gedoen word met 'n paar eie stuiwers terwyl daar so heerlik by hul evangeliese debatsfees aangesit word. Jy word saamgenooi. Hier is werklik evangelie-voeding. En bring jou smaakkliere saam, want dit word nie met 'n drup toegedien nie.