2011/06/29

God se werk en ons werk (1)

In die vorige pos is gewys op die wet/evangelie dinamiek in terme van indikatief en imperatief. Net weer 'n verfrisser vir die wat dalk die eerste keer met die i-woorde met tief-eindes te doene kry: Indikatief (vgl. die Engelse woord indicate) dui die stand van gebeure aan - in die evangelie spesifiek op dit wat God sonder ons gedoen het. Imperatief (vgl. die Engelse woord imperative) dui op 'n bevel. Dit gaan oor die verband tussen die aanduiding van gebeure wat buite ons en los van ons ons plaasgevind het enersyds, en die oproepe wat anderyds tot ons kom waarin onsself iets moet doen. Kortom: God se werk en ons werk. Soos op enige ander gebied is daar woorde wat mettertyd ingeburger raak as die jargon woorde en kortpad woorde om sake te beskrywe. Skuus as indikatief en imperatief  die indruk gee van snobisties neerbuigende woorde. Enige voorstelle vir ander woorde wat meer ligvoets en verstaanbaar vir Jan Alleman mag wees is altyd welkom, maar dan moet dit meer wees as jou eie euforiese stimulante. Dit moet ingeburger kan raak by almal. Verdra asseblief die woorde ter wille van die groter saak waarom dit hier gaan. Dit gaan hier om die wet/evangelie dinamiek wat seker op sy duidelikste na vore tree in Fil. 2:12-13:

... werk julle eie heil uit met vrees en bewing; want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.

Deur die geskiedenis het die verband tussen God se werk en ons werk Christene nog altyd geboei. Dit is een van die mees basiese sake waarmee ons telkens gekonfronteer word. Die twee afgronde van  wettisisme en wetteloosheid (nomisme en antinominanisme) wink voordurend op hierdie weg as ons die stuurwiel hieroor nie goed vashou nie.

Twee gewaardeerde jonger ortodokse teoloë en vriende, Tullian Tchividjian en Kevin DeYoung, het hierdie debat onlangs met nuwe gloed op die tafel geplaas Kyk gerus hier en hier en hier om die klanke van begaafde jonger teologiese turke op te vang. Hulle debat is 'n bewys daarvan dat elke geslag hierdie sake opnuut vir hulself moet toe-eien. Wat mooi is, om te sien hoe hulle aanleun op hul klassieke tradisie. Ek kan my nie indink dat enige predikant wat besorg is oor sy gemeente en (sy eie) padhouvermoë nie hiervan 'n studie wil maak nie. Wat ek hier gaan doen is om die bespreking hiervan in 'n paar posstukke op te deel. Ter wille van hulle wat godsdiens swaar in Engels verteer sal ek in 'n eerste posstuk die basiese argument van die twee deur middel van treffende kernaanhalings uitlig ten einde 'n jeuk te veroorsaak by die wat nog nie behoefte voel om te krap nie. Daarna sal die treffende beelde en aanhalings aan die woord kom wat die twee here gebruik en wat ons gerus maar in ons herkou-lêers kan plaas. Daarna sal 'n waarderende evaluering gedoen word met 'n paar eie stuiwers terwyl daar so heerlik by hul evangeliese debatsfees aangesit word. Jy word saamgenooi. Hier is werklik evangelie-voeding. En bring jou smaakkliere saam, want dit word nie met 'n drup toegedien nie.