Gedagte vir kinders: Niemand kan standhou wanneer die Here vir sy
kinders optree nie.
Oorsig: Psalm 68 gaan oor die oorwinning van die Here in
hierdie wêreld en beskryf met poëtiese taal die gang van God se volk in die
woestyn met die ark, vanaf Sinai tot dit uiteindelik onder Dawid in Jerusalem
geplaas is. Dit is ook profeties van wat later in Christus sou gebeur. Die
gedeelte begin met ’n inleiding wat God se dade opsom. In vers 1-7 hoor ons
eers ’n stelling/gebed/roep (vgl. KJV) teen God se vyande (v.2-3) en vir die
regverdiges (v.4). Wanneer God toetree tot die stryd is die vyande soos rook en
soos was voor God se aangesig. Hieroor is die regverdiges bly en juig en is
vrolik. Hulle word dan opgeroep om tot eer van God te sing wat soos ’n Koning
deur die woestynvlaktes/op die wolke ry (vgl. KJV; NAV en 2020-vertaling) en
dat Hy die swakkes versorg – die Vader van wese en die Regter van weduwees. Hy
laat eensames woon in ’n huisgesin en lei gevangenes na voorspoed, maar rebelle
woon in ’n dor land (v.5-7).
Dan volg ’n poëtiese
belydenis teenoor die Here van die reis van die ark vanaf Sinai tot Sion
(v.7-19). Daar word met God gepraat oor hoe hy uitgetrek het voor sy volk in
die duisternis en hoe die aarde gebewe het en die hemele reën gedrup het, soos
by die verskyning by Sinai. Hy het hulle deur die wildernis gelei (v.8-9) en
hulle gevestig het in Kanaän (v.10-11). Hy het hulle oorwinning gegee oor die
vyande (v.12-13). En hulle uit die hand van konings en onderdrukkers bevry
(v.14-15). Hy woon op ’n besondere wyse onder sy volk wat iets is waaroor
aansienlikes soos die aansienlike berg Basan, jaloers kan raak op Sion (v. 16-18).
Sy opgang na Sion word beskryf as dat Hy opgeklim het na die hoogte en
gevangenes weggevoer het en geskenke onder die mense geneem om daar tuiste te
vind. Paulus leer ons dat dit ’n tipe is wat heenwys na Christus en die hemelse
Sion, en pas dit toe op die Hemelvaart van Christus (Ef. 4:7-16). Sy Naam word
dan weer uitgeroep: O HERE, God!
Dan verneem ons van die
reaksie op en prosessie van die oorwinning (v.20-27). Die Here word geloof vir
sy verlossing wat hulle dra/oorlaai met guns (vgl. KJV) en uitkoms teen die
dood gee (v.20-21). Die volstrekte oorwinning tot die uiterste en die guns vir
God se volk en die optog van al die verteenwoordigers word dan beskrywe.
(v.22-28). En dan verneem ons van die verdere roepe tot God om sy krag te
openbaar en ’n oproep op die koninkryke van die aarde om te antwoord (v.28-35).
Die heidene bring erkenning (v.29-32). Die Psalmis sluit dan af met ’n oproep
aan die koninkryke van die aarde om lof te bring aan God en om sy heerlikheid
en glorie te erken wat deur Israel gekom het (v.33-35). Dit is ’n wonderlike
oorwinningslied waarin daar reeds in die Ou Testament gejuig word en daar ook vooruitgekyk word na
die oorwinning wat Jesus Christus sou bring.
Besprekingsvraag: Waarna wys die oorwinning en die gang van die ark
as tipe heen?
Insig: Psalm 68 getuig en juig oor die wonderbare en omvattende oorwinning van God. Dit het heel gepas ook ʼn strydlied geword van die Skotse Covenanters en Franse Hugenote. Ons begryp dit beter wanneer ons raaksien hoe Psalm 68 terugkyk op en vorentoe kyk na die groot dade van God.
Dit kyk terug na die oorwinning by die Rooisee (Ex. 15:13,17,20-21; vgl. v. 11-12),
die dra van die ark in die woestyn (Num. 10:35; vgl. v. 1) en die tyd van
Deborah toe hulle weer in die nood geraak en oorwin het (Rigt. 5:5,12,18,28-31;
vgl. v. 8,12,17-18,27). Dit kyk ook vorentoe na Jesus Christus se oorwinning
tydens die Hemelvaart en daarna (Ef. 4:7-16, spesifiek vers 8; vgl. v.18), en
na die aarde wat weer sal skud (Hebr. 12:26; vgl. v.8; vgl. Ex.19:18; Rigt.
5:4; Mat. 27:51; Hand. 4:31) en dat die oorwinning en heerlikheid eenmaal vir
almal duidelik sal wees (2 Thes. 1:10; vgl. v. 35).
In die lig hiervan help dit ons daarom om te
besef dat soos die ark midde Israel was as simbool van God se teenwoordigheid,
so is Christus nou na die Hemelvaart midde sy gemeente deur sy Gees. As daar dan
gebid en gesing word dat die Here sal opstaan in die stryd, wys dit op alles wat Hy reeds in die woestyn gedoen het, maar nou veral op
Christus wat uit die dood opgestaan het nadat Hy ons sonde gedra het en
opgevaar het na die hemel. Vandaar onderhou Hy sy Kerk en aanskou verder sy
oorwinning, totdat die Here sy vyande gemaak het ’n voetbank van sy voete (vgl.
Psalm 110). Daar is vanuit hierdie punt ook ’n sin waarin Hy opstaan en skyn in
mense se harte (Ef. 5:14) en telkens gebeur dit ook weer wanneer Hy aktief
toetree om sy Kerk te red of te herstel. Onthou in hierdie verband ook sy gawes
wat Hy aan sy Kerkvolk gee om hulle toe te rus (v. 18-19 – vgl. KJV; Ef. 4:8). Eenmaal sal Hy opstaan om finaal te oordeel.
Dit is opvallend om hier te merk hoe volkome die
oorwinning is teen God se teenstanders. Hulle is soos rook en soos was en ons verneem
van die skedel wat verbrysel word en honde wat die bloed oplek soos wat dit
destyds gebeur het (v. 3,22,24). Neem hier in ag dat dit daaroor gaan om die
oorwinning te beskryf in konkrete terme soos wat dit in oorloë gebeur het en
steeds gebeur het, met die verdere realiteit dat dit hier gaan oor oorwinning
oor sataniese magte wat werk met verminking en slagting. Die heerlike ander
kant moet ook gemerk word. Die regverdiges se lof en blydskap en juiging en
prosessies en vrolikheid, word net so konkreet beskryf (v. 4,5,20,25,-27). Die
wonderlike hiervan is dat dit deel mag wees van hulle wat slawe was en dat wees
en weduwees en eensames hier saam met die hele verenigde volk van God hulle
plek mag kry (v.6-7, 27-28). Dit is duidelik dat hier ’n totale verskil is
tussen lig en duisternis. So toornig as wat God is teen hulle wat sy werk
teenstaan, so barmhartig is Hy teenoor almal wat deel van sy verbond is, ook
wederstrewiges wat tot hul sinne kom (vgl. v. 19). Daarom het Jesus Christus
mens geword om die getroue lewe in ons plek te leef wat ons moes, en toe al ons
sonde gedra, sodat ons effektief met God versoen kan word. Die swakkes en
eensames mag hierin deel, want hierdie verlossing hang nie af van hulle krag of
dinamika nie, maar van die krag van Christus. En vandag mag ons Hom steeds
aanskou aan die regterhand van die Vader wat ook ons Verlosser en Oorwinnaar is
en aan ons gawes vanuit sy oorwinning gee. Daarom mag ons Hom aanroep in tye
van nood en verflouing. En daarom word ons ook opgeroep om in sy krag toe te tee
tot die goeie stryd in ons eie tyd.
Werke geraadpleeg:
Brueggemann, W & Bellinger, W.
Psalms, New Cambridge Bible Commentary.
Grogan, G. Psalms (Two Horozons Old
Testament Commentary – THOTC).
Ash, C. Psalms: A Christ-Centered
Commentary, Volume 4. (Ash maak in ’n voetnoot die belangrike stelling dat die
kompleksiteit in die Psalm wat deur baie erken word, minder van ’n probleem was
by vorige geslagte wat die Psalm in Christus kon lees en waardeer).
Donner, JH. De Psalmen, Psalm 1-72.
Reardon, PH, Christ in the Psalms.
Matthew Henry.
Wilson, D. Homiletiese kommentaar by https://christkirk.com/sermon/