Wys tans plasings met die etiket kultuur. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket kultuur. Wys alle plasings

2013/08/23

Skuld, skaamte, vrees

Wat in my en jou hart aangaan, gaan dikwels ook in die harte van baie ander aan. Ons steek gewoon ons begeertes en denke en emosies by mekaar aan. En, soos vroeër reeds genoem, ons dryf maklik soos bootjies rond op die dalende of stygende watervlak van ons kultuur. Daarom is dit baie belangrik om nie net te vra wat in die roersele van my en jou binneste aangaan nie, maar ook: Wat gaan in die hart van ons tyd en ons land en ons kultuur aan?
Kom ons neem voorbeelde van huidige nuusmakers. Hoe uiteenlopend die sake van Oscar Pistorius en Egipte mag wees, hulle het ook baie te make met die ratwerk van Oscar en die Egiptenare se omgewings. Daardeur word onreg deur individue nie verskoon nie, en ons kan steeds dankbaar wees dat daar instellings is wat, hoe gebroke ook al, in Egipte en in Suid-Afrika nog poog om deur ’n regstelsel persoonlike verantwoordelikheid te toets. Dit gaan nou nie hier oor ’n poging om regter te probeer speel nie. Ons laat dit oor aan diegene wat daarvoor geroep is. Die fokus hier is om te vra wat gaan aan in die hart van gemeenskappe wat deur hierdie dinge gekenmerk word. Hierdie vraag kan maklik op twee wyses die punt ignoreer. Danie Goosen het onlangs daarop gewys dat ’n liberale idee van vryheid op twee wyses hieroor kan mistas. Jy kan of die verband van 'n gemeenskap met die individu te veelseggend of te niksseggend maak. Bewus van hierdie skeeftrekkkings, kom ons probeer die roeringe van gemeenskappe peil deur te fokus op die invloed van drie groot werklikhede: skuld, skaamte, en vrees.

2013/07/08

Subversiewe revolusie


Douglas Wilson gee hier 'n resensie van Iain Murray se The Undercover Revolution. Ek som sy hoofpunte kortliks op:

1. Diegene wat dit hul missie geag het in die verlede om die skynheiligheid van Christene aan die kaak te stel, was self gewoonlik, soos Wilson dit stel, veertien karaat hipokriete. Ek het al self gewonder oor die vlak van skynheiligheid van menige joernalis/skrywer wat so gloeiend kan skryf oor die val van helde, veral Christene.

2. Moenie die mag van stories/verhale/narratiewe onderskat nie. Ook nie die mag van ongeloof in 'n skrywer wat, hoe langer hoe meer, uiting daaraan sal gee in hul stories nie. Die mag van 'n ongelowige verbeelding met storievlerke is beslis iets om mee rekening te hou in enige kultuur.

3. Ongelowigheid en afvalligheid is net aanvanklik vars. Soos  Wilson dit stel, die eerste drie partytjies van die verlore seun was waarskynlik die aangenaamste. Realiteit het mos 'n manier om terug te skop. Dit dring my om weereens te wys op Danie Goosen se onlangse artikel oor swaargewig vernuwing. Egte vernuwing kan net plaasvind vanuit 'n outentieke tradisie. Dit maak die tyd waarin ons leef so opwindend. Wanneer die muwwe reuk begin toesak op die "bevrydes," sal die lewende geloof van die dooies hulle inhaal om die romanse van ortodoksie in stereo te laat herleef.

2011/10/11

Kan entrepreneurs soms gevaarlik wees?

’n Samelewing wat algemeenheid kultiveer, wat suspisieus is oor genialiteit, wat meer agting het vir die entrepreneur wat die smaak van die massas bedien as die visionêr wat die geeste van net 'n handjievol uitdaag – so ’n samelewing loop altyd die gevaar om waarde te definieer in terme van onmiddellike aanvraag, eerder as ewigheidsbetekenis.
Ken Myers, in All God’s Children and Blue Suede Shoes. p. 22, 23.

2011/08/28

Om iets met iets te beveg

'n Mens kan nie iets met niks beveg nie. Dit is 'n oer-reformatoriese waarheid. Anders gestel: Christene doen nie ander dinge as ander mense nie. Hulle doen dieselfde dinge wel anders. Dit beteken hulle vul dieselfde dinge met ander inhoud - of dit nou gaan oor politiek, prokureurs of partytjie; en of dit nou gaan oor vissermanne, vrolikwees of visie.  

Vergun my 'n paar woorde oor visie. Ons is seker almal al redelik voos gevisie en gemissie by die organisasies waarby ons betrokke is - werksgewys, kultuurgewys en selfs kerkgewys. Maar soos reeds gesê: Jy kan nie iets met niks beveg nie. As ons nie visie vir iets het nie, beteken dit bloot dat iemand anders wat wel (moontlik verwronge) visie het, die leiding gaan gee. Laat my toe om iets oor die oorkoepelende visie van ons lewens te deel waarop jy kan gaan verbeter as jy kan. Canon Press, die plaaslike Christelike uitgewers waar ek tans is, verwoord hulle visie so:
1. Om produkte te skep en te voorsien wat die visie van 'n vol lewe voorhou: 'n lewe vol van skoonheid, tradisie, samesyn, opvoeding, lag en feesviering.
2. Onbeskaamd vir Christus en skerp gekant teen die waardes van moderniteit.
3. 'n Volwasse kultuur met die kerk in die sentrum daarvan, terwyl die goeie lewe uitgeleef word - een huisgesin op 'n slag.  

Die groot vraag is natuurlik nog steeds hoe die visie ingekleur word. Kom ons volstaan vir nou met die buitelyne. Wat sou jy hierop wou byvoeg of aftrek, vermenigvuldig of deel? Hier is weer geleentheid vir 'n meningspeiling in die kolom aan die regterkant. Vul nege uit tien in as jy nie hierop kan verbeter nie, agt as jy reken jy kan 'n ekwivalent bied, sewe as jy dink jy kan hierop verbeter en ses as jy reken die visie is maar karig. Deel dan jou visie met jou vriende en laat hulle besluit of jou puntetoekenning geloofwaardig was.