2013/08/23

Skuld, skaamte, vrees

Wat in my en jou hart aangaan, gaan dikwels ook in die harte van baie ander aan. Ons steek gewoon ons begeertes en denke en emosies by mekaar aan. En, soos vroeër reeds genoem, ons dryf maklik soos bootjies rond op die dalende of stygende watervlak van ons kultuur. Daarom is dit baie belangrik om nie net te vra wat in die roersele van my en jou binneste aangaan nie, maar ook: Wat gaan in die hart van ons tyd en ons land en ons kultuur aan?
Kom ons neem voorbeelde van huidige nuusmakers. Hoe uiteenlopend die sake van Oscar Pistorius en Egipte mag wees, hulle het ook baie te make met die ratwerk van Oscar en die Egiptenare se omgewings. Daardeur word onreg deur individue nie verskoon nie, en ons kan steeds dankbaar wees dat daar instellings is wat, hoe gebroke ook al, in Egipte en in Suid-Afrika nog poog om deur ’n regstelsel persoonlike verantwoordelikheid te toets. Dit gaan nou nie hier oor ’n poging om regter te probeer speel nie. Ons laat dit oor aan diegene wat daarvoor geroep is. Die fokus hier is om te vra wat gaan aan in die hart van gemeenskappe wat deur hierdie dinge gekenmerk word. Hierdie vraag kan maklik op twee wyses die punt ignoreer. Danie Goosen het onlangs daarop gewys dat ’n liberale idee van vryheid op twee wyses hieroor kan mistas. Jy kan of die verband van 'n gemeenskap met die individu te veelseggend of te niksseggend maak. Bewus van hierdie skeeftrekkkings, kom ons probeer die roeringe van gemeenskappe peil deur te fokus op die invloed van drie groot werklikhede: skuld, skaamte, en vrees.

Die Moslem broederskap in Egipte poog om deur mag, die mag van tereur, vrees te saai. Die hele saak verstaan jy beter as jy begryp watter rol eer en skaamte in daardie kultuur speel. Oscar het beweer dat hy a.g.v. vrees en die werklikheid van terreur in ons samelewing verkeerd opgetree het, en as die reg hom skuldig gaan bevind, gaan die ondersoek waarskynlik definitief ook aan die invloed van jaloesie en eer en skaamte aandag gee.
Maar dit gaan nie oor vingers wys hier nie. Skuld, skaamte en vrees is groot werklikhede, nie net by Oscar of in Egipte nie, maar in óns eie lewens. Die gedugte driemanskap loop gewoonlik hand aan hand, maar in elkeen van ons se lewens het een van die drie die geneigdheid om voorop te staan, veral wanneer die dood dreig of as jy ander met die dood dreig. En omdat ons deel uitmaak van bepaalde omgewings, het sekere omgewings die geneigdheid om een van hierdie sake ook voorop te stel. In die Weste is ons maklik geneig om die skuld-aspek voorop te stel. Daarom is dit vir ons so verbasend as ons verneem dat vir mense in die Midde-Ooste, skaamte so swaar weeg. Ons kyk soms ook so bietjie neer op diegene wat na ons mening in ander kulture so ’n groot vrees vir allerhande magte het. Maar as jy mooi daaroor dink, het skuldig wees, skaam wees en bang wees, baie met mekaar te make.
Die skrikwekkende is dat ons skuld en skaamte en vrees kan gebruik om ander mense, ja selfs ons geliefdes, te manipuleer. Diegene wat dit doen het dan ook dikwels ’n heimlike vrees dat die situasie dalk iewers kan omkeer. Ander staan aan die ontvangkant, kan nie vry lewe nie, en die ergste van alles, wag soms net die kans af dat hulle aan die uitdeelkant kan kom. Dit is nie moeilik om in te sien hoe al die kleur uit die lewe verdwyn as jou omgewing vol word van hierdie sake nie.
Dit is presies wat gebeur as enige omgewing nie hul verlossing vind in die Een wat gekom het om ons van skuld, skaamte en vrees vry te maak nie. Jesus Christus was veroordeel aan die kruis, sonde vir ons gemaak, lees ons in 2 Kor. 5:21. Hy het die die kruis verdra en die skande verag, lees ons in Hebr. 12.2. Hy het die magte aan die kruis uitgeklee, lees ons Kol. 2:15. Hy dit alles gedoen om ons skuld, skaamte en vrees weg te dra – die dood in. En Hy het opgestaan uit die dood sodat ons nou in Hom nuwe lewens mag leef, lewens waarin daar fundamenteel met skuld, skaamte en vrees gehandel is. Die toevlug in Christus is die enigste manier hoe ons as individue vry word, hoe gemeenskappe vry word, ja selfs hoe ’n land vry word van die doodsdruk van skuld, skaamte en vrees.
Laat ons dit maar erken: Ons omgewing het  ’n invloed op ons. Ons kan dit nie ontken dat die situasie in Suid-Afrika ons beïnvloed nie. Maar, ek en jy kan ook die die bordjies verhang wanneer ons by Christus uitgekom het, en weer en weer uitkom. Ons kan in Christus geloof, hoop en liefde saai in ons omgewings. Ons kan ons omgewing daardeur begin verander. Die Christene in Egipte vertel dat daar te midde van die tereur ook wel sommige Moslems was wat jou aan Cornelius in die Bybel herinner. Sommige Moslems het uitgegaan om kerke te beskerm toe die kerke deur die Moslem broederskap se brandstigting bedreig is. En die Christene het op hulle beurt weer boodskappe aan hierdie Moslem burgers gestuur: "Geboue kan weer opgebou word, maar julle is kosbaar en moet veilig bly. Moenie bekommerd wees oor die kerke nie. Ons is die kerk.”
Kan jy dink watter eerlike gesprekke oor Christus hieruit kan voortvloei? Daardie Moslems kan dalk, net soos Cornelius, Christus begin aanbid as hulle besef wie Hy regtig is. Daar is verder ook geluide dat die Egiptiese regering  in God se algemene genade onderneem om van die kerke weer op hul onkoste op te bou. Wie mooi kyk sal selfs in Egipte sien dat God werksaam is in sy algemene en besondere genade. Christus is nie met Egipte klaar nie. In Jes 19 lees ons dat Egipte nog die Here se volk genoem gaan word. Laat ons vir hulle bid.

Christus is ook nie met Suid-Afrika klaar nie. Nog lank nie. Laat ons dan die lig van geloof, hoop en liefde uitdra. Dit mag dalk sommige onder ons se lewens vra. Maar wanneer Christus ons vrymaak is ons mos waarlik vry om te lewe en te sterwe in sy Naam. En terwyl ons dan lewe, beteken dit mos vir ons vrugbare arbeid. Kyk gerus weer na die aanhaling van generaal Stonewall Jackson. En as ek en jy dan niks anders doen nie, kom ons saai saam met dapperheid en standvastige optrede wat gegrond is in die Here Jesus se oorwinning oor die dood, ook ons vriendelikheid. Jy en ek hoef nie uitgelewer wees aan die sentimente van ons omgewing nie. In Christus kan ons die skuld-, skaam- en vreesmeters van ons omgewings begin reguleer. Ons kan dalk net iemand, of selfs ’n stam of volk of nasie vanuit ’n donderbui in die son van geregtigheid help inlei. Moet nooit warmhartigheid en die skoenlapper-effek onderskat wanneer Christus daarin betrokke is nie.