2014/02/07

Vertel, vertel

Hier is ’n opsomming van die Vertel, vertel reeks se model en benadering om aan kinders kategese te gee. Wat in hierdie model uitstaan is (1) die beklemtoning van die een groot ware verhaal van die hele Bybel, (2) kinders wat geleentheid kry om die verhaal terug te vertel, sowel as (3) beeldmateriaal wat aan die agterspeen suig. Ja, jy het reg gehoor. Ek het nie altyd vrede met hoe die verhaal dan in sy detail oorvertel word nie. Sekere invoegings - soms - kom vir my net te flagrant voor. Tog is die model stimulerend. Ek gee die hoofgedagtes van die model weer soos wat dit in die inleiding verduidelik word:

·        Die groot verhaal word in verskillende kleiner verhale vertel.

·         Noukeurig en beeldryk.

·         Vertrou die Bybelverhaal self om in die kinders te werk.

·         Die Oral Learning model wen baie veld. Dit is steeds die manier hoe meer as ⅔ van die wêreld se mense leer.

·         Die moderne wêreld het ’n versadigingspunt bereik met visuele beelde. Die vertel en oorvertel van die verhaal word weer een van die belangrikste wyses van leer.

·         Binne die groot verhaal van God speel ons eie lewensverhale af

·         Geloofsvorming by ons kinders vind plaas wanneer hul eie verhaal beleef word as deel van die groot verhaal van God se liefde vir ons.

·         Deur net die groot verhaal van God oor te vertel, toon ons dat ons alle vertroue in die verhaal het om sy kragtige werk aan kinders te doen.

·         Die kleiner verhale behoort kronologies op mekaar te volg en ook voortdurend ingebed te word in die groter verhaal. Die bedoeling is om lewenslesse nie los te maak van die groter verhaal nie.

·         Geen prente of aktiwiteite wat die aandag van die verhaal self aftrek nie.

·         Geen verwysings na die konteks vandag of toepassings vir vandag in die verhaal self nie. Die verhaal self word vertrou om die toepassings vir elkeen te bring.