Wys tans plasings met die etiket Quadriga. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Quadriga. Wys alle plasings

2024/11/19

Die vierperdewa: uitgebrei

Hierdie artikel het oorspronklik by Standpunte verskyn, wat intussen ophou bestaan het. Dit is 'n uitbreiding van 'n vroeëre plasing alhier.

Sekere debatte hoef net lank genoeg aan te hou om by die binêre sis-geluide uit te kom: “Liberalis!” “Fundamentalis!” ’n Bekende werkswyse by die FAK is egter om nie te maklik by hierdie lis-tige brandmerke ingetrek te word nie. Die rede hiervoor, so voer alternatiewe modernes aan, is dat ons dalk te maklik die onderliggende probleem miskyk. Dit kan so maklik gebeur dat die twee pole ten diepste net teenoorstaande gevalle van dieselfde verdagte uitgangspunt is. Die bekendste voorbeeld hiervan is seker die holrug onderwerp van apartheid. Toenemend vra mense vandag daarom of grondiger besinning oor iets soos gemeenskapsfederalisme nie dalk die pro en anti-retoriek in nuwe bane kan stuur nie. Hierdie gesonde soeke na dieper sake wat polarisering moontlik kan ontsluit, is verfrissend en dring ons terselfdertyd ook om die bronne van ons gevestigde tradisies met nuwe moed op te soek. 

Half-gehoor
By die opsoek van tradisies wat die toets van die tyd deurstaan het, word dit egter ook duidelik dat ’n aansluitende saak ons aandag vra. Dit is dat ons eerlik genoeg moet wees om na te gaan of ons reg laat geskied aan hoe ’n bepaalde tradisie intern sy eie vraagstukke en probleme probeer uitsorteer het. Uiteindelik sou ’n mens wel die harde vraag moes vra of ’n hele tradisie nie dalk op sand bou nie, maar dit kan eers gedoen word nadat daar deeglik geluister is. Gebeur dit nie, is ons gewoon in strooipop-land waar die opponente van ’n ander tradisie hulself eenvoudig nie herken in die karikatuur wat ons van hulle oprig nie. N.P. Van Wyk Louw se woorde aan diegene wat streng en omvattend wil dink, kan gerus maar weer afgestof word: “Streng dink is: logies dink met gebruikmaking van begrippe wat behoorlik krities ondersoek is. ... min mense besef hoe verward die begrippe is waarmee hulle hul hele lewe werk - hoe vol van hul eie vooroordele, hoe half-gehoor en hoe verweef met verkeerde assosiasies; 'n mens kan sê: hoe besoedel met emosionaliteit.”


Dink byvoorbeeld aan iets soos die klassieke liberale tradisie. Vanweë die lading wat die woord liberaal in Afrikaans dra, kan diegene wat grondig vanuit hierdie tradisie werk hulself enersyds nie herken in dit wat sekere regse Afrikaners aan hulle toedig nie, maar andersyds ook nie in dit wat sekere linkse Afrikaners van hulle maak nie. Die verskil tussen denotasie en konnotasie speel ’n baie belangrike rol as jy nugterheid wil behou in sulke gesprekke. Ons gaan nie nou verder ingaan op die verskil tussen die klassieke liberale tradisie en die glibberalisme nie. Daarvoor is daar baie meer bekwames wat die woord kan voer. Ons gaan wel in op daardie ander gewraakte woord wat die teenparty graag gebruik om diegene wat nog aan substansie en permanente dinge glo, te brandmerk en te bevraagteken: fundamentalisme. Vanweë my eie agtergrond en belangstelling gaan ek dit benader met betrekking tot hoe die saak vandag dikwels in geloof en teologie hanteer word.

Ook wanneer ons die saak van fundamentalisme in die teologie van naderby beskou, is dit belangrik om eers te onderskei tussen bepaalde tradisies en die nabootsers daarvan. Doen ons dit nie, is een van die gevolge dat groot name soos Augustinus, Thomas Aquinas, Johannes Calvyn, en soveel ander figure betrek word in ’n f-tipering wat nie reg laat geskied aan die groot erfenis wat ons van hulle ontvang het nie. As jy jou vereenselwig met die belydenis van postmoderne vloeibaarheid sal jy miskien verplig wees om die groot geeste hierbo genoem, wel so te beskou, want hulle daag inderdaad diegene uit wat meen dat realisme net in jou kop en in konvensies bestaan. Hulle doen dit egter vanuit ’n ryk metafisiese onderbou en diegene wat te gemaklik met die woord “fundamentalisme” smeertogte onderneem, behoort eerder te vra of een van die gewilde mantras van vandag nie dalk toegepas moet word met drie vingers wat terugwys nie: Jou benoeming sê dalk meer van jouself as van dit wat jy probeer herbenoem. Want om die saak vir permanente dinge onbeskaamd op die tafel te plaas, beteken nog glad nie dat jy jou oog vir verskeidenheid hoef te verloor nie. Genoemde figure was deel van ’n ryk tradisie waar daar juis gevra is hoe vastheid en variasie lieflike danse kan uitvoer asook hoe konstansie en dinamiek saam met mekaar op reis mag gaan. 

Gelaagde misterie
Om egter meer spesifiek te raak: Hoe het die groot geeste die Bybel gelees as dit dan nie as fundamentalisties beskrywe moet word nie? En hoe is dit in gesprek met die wetenskap van die dag gebring? Ons gaan vir eers net aandag gee aan hoe die Bybel gelees is, aangesien dit die eerste plek van misverstand is. Karikature begin alreeds hier en indien daar nie insig is in hoe die Skrif, die tradisie, die rede en ervaring deur die eeue ingespan is om raamwerke en interne kontroles vir geloofwaardige Bybellees te ontwikkel nie, is dit sinneloos om verder te vra hoe die gesprek van die teologie met die vakwetenskappe (let wel, nie “die wetenskap” nie) behoort te verloop. Die feit is dat die sogenaamde fundamentalistiese en primitiewe Skrifuitleg van die kerkvaders glad nie so eendimensioneel plaasgevind het as wat dit vandag soms voorgehou word nie. Inteendeel, dit was tot oorbodens toe vol van simboliese lading, dramatiese samehang, en van ontvouende en gelaagde betekenis en misterie. Die uitnemende voorbeeld hiervan is sekerlik die Middeleeuse Quadriga, 'n teologiese metode van Bybelverstaan wat vandag nog baie peste en plae binne en buite die kerk kan uitroei.