Wys tans plasings met die etiket Barth. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Barth. Wys alle plasings

2019/06/03

Apologetiek volgens W.D. Jonker

Onderstaande is afkomstig uit klasnotas van prof. Roelof Maré, waar hy weer gebruik maak van die werk van wyle prof. Willie Jonker. Ek kon nie op die amptelike blad oor prof. Jonker se werke onderstaande stuk terugvind nie, en deel daarom hierdie juweel uit sy nadenke oor Apologetiek vanuit eie bronne.

1. Die doel van die Apologetiek moet altyd wees dat rekenskap daarvan gegee word dat ons glo en waarom ons glo.
2. Die Evangelie word as die waarheid verkondig. Daarvan word getuienis gegee, soos die dissipels van die Here Jesus gedoen het.
3. Geloof is nie iets wat niks met verstand en rede te doen het nie. So getuig Paulus dat hy woorde van waarheid en gesonde verstand spreek (Hand. 26:25-26).
4. Rede en ervaring beklee wel 'n plek in ons verantwoording van ons geloof, maar dit is nie twee groothede wat ongelowiges moet oortuig en die waarheid van die geloof moet of kan bewys nie. Dit is vir 'n gelowige nie absurd om te glo (soos Bonaventure gesê het: credo quia absurdum) nie. Apologetiek is die verantwoording van ons geloof oor die redes waarom ons glo en oor die konsekwensies van ons geloof.
5. Die gelowige voer self 'n stryd teen versoekinge en aanvegtinge tot die einde van sy lewe. Daarom is Apologetiek ook van groot nut vir die gelowige self.

2014/05/22

Oor ballingskap en Barth

Matthew Rose is 'n direkteur by die Berkeley Institute. Hy ken vir Karl Barth - nie van hoorsê nie, maar van grondig lees. Hy kan waarderend lees en weet ook presies waar hy punte wil gee: Barth se bydrae op die gebied van die Christologie en die Drie-eenheid. Hy het ook respek vir sy nougesette weergawe van die Protestantse skolastiek en vir die kwaliteit en nugterheid van Barth-geleerdes. Laat ons altyd toejuig wat toejuiging waardig is. Ek ken inderdaad meer as een persoon wat kan getuig dat Barth se woorde hul tot aanbidding voor die lewende God gebring het. 

Maar Rose is steeds van mening dat Barth ons nie uit die ballingskap van die modernisme uitgelei het nie. Die hoofoorsaak hiervoor vind Rose in die feit dat Barth nie die Christelike metafisika en in besonder die klassieke teïsme en gesofistikeerde uiteensettings van natuur teologie geëer het nie. Die gevolg was 'n metafisiese sloping wat beide die rede en die moraliteit van menswees in gedrang gebring het. 

Rose se skalpel sny diep. Hy is van mening dat Barth ons net so min kan help as wat die teologiese liberalisme ons sal kan help. As ons in ons land kyk na die gevolge van die verskuiwing vanaf Kuyper na Barth - iets wat die NG teoloë gretig en graag erken en selfs bely, lyk dit definitief dat Rose meer as 'n Katolieke kwaker is. Trou aan sy Rooms Katolieke tradisie, reken hy dat Pous Johannes Paulus baie beter rigting bied in sy uitspraak in Fides et Ratio. Daarin stel die voormalige Pous dat ons "krisis van betekenis" voortspruit uit die versuim om te erken dat  die rede die vermoë het om "die uiteindelike en oorkoepelende betekenis van die lewe" te ken en te verdedig. Wat ons ook al anders oor die Pous wil sê, hierin het die voormalige vegter teen kommunisme beslis iets beet. Ons sou dit miskien anders nuanseer en die sondeval sterker wou inbring, maar die Pous was beslis nie postmodern nie.

2011/07/22

Die komende Jock-fliek

Ek moet erken: Ek is baie nuuskierig oor hoe die eerste groot animasie-film van Suid Afrika gaan vaar. Jock of the Bushveld word beskou as 'n Afrika-klassiek en begin in Suid Afrika draai op 29 Julie 2011. Die animasie weergawe is blykbaar heelwat aangepas met selfs 'n Poedel wat ingebring is vir die liefie aspek. Dit stem ooreen met die onlangse blyspel sê my vriende wat weet. Die produksie beloop sowat R70 miljoen sê ander  bronne. Dit is 'n gaan-groot-of-gaan-huis-toe produksie. Die missie is internasionaal. Daarvoor is internasionale stemme ingebring soos Bryan Adams vir Jock se stem en Helen Hunt vir, nou-ja, ek is nie seker wie nie. Selfs Biskop Tutu is daar en vertolk die stem van die "geestelike leier."

"Geestelike leier" in hierdie produksie wat waarskynlik werk daarvan sal maak om die Afrika-geur deur te dra, is natuurlik 'n baie dubbelsinnige woord. Die siening van geestelike leier in die internasionale arena moet mos nou arche-tipe "spiritual, but not religious" wees. Dit  het ons lankal reeds in Lion King gesien. Boonop is Biskop Tutu bekend vir sy inklusiewe intergeloofsuitsprake.

Maar die bedoeling van hierdie skrywe is nie 'n anti-toon nie. Soos reeds vermeld - ek is geïnteresseerd, uiters geïntereseerd op verskillende vlakke. Ek dink "Staffies" is oulike honde. Die konsep van 'n "underdog" fassineer my nog altyd. Hei, ek skreeu van kleins af vir die Cheetahs! Boonop is daar die projek

2011/06/08

Wanneer ons ore oopgaan ...

Hierdie skets is baie bekend, die verhaal dalk minder. Dit is die bekende skildery wat later gebruik is as logo vir die bekende maatskappy, His Master’s Voice. Dit is gemaak deur Francis Barraud wat sy hondjie Nipper geteken het wat na ’n opwenbare grammofoon luister. In die oorspronklike skets het die hondjie geluister na ’n fonograaf silinder. Hy het op ’n kis gesit wat gesuggereer het dat sy baas binne- in was. Barraud het Nipper aangeneem toe sy broer te sterwe gekom het. Hy is aangegryp toe hy eendag gesien het hoe aandagtig Nipper na die fonograaf geluister het toe hy die stem van sy oorlede baas herken het. Barraud het die skets gemaak het en later die kopiereg aan Gramophone Company verkoop. Dit het uitgegroei tot een van die suksesvolste logo’s ooit en die handelsmerk word vandag deur verskillende maatskappye wêreldwyd gedeel.

His Master’s Voice se prentjie praat met jou hart en die beeld is lank voor die skildery reeds deur teoloë gebruik om ons verhouding met die Here te beskrywe. Calvyn het reeds gesê: ’n Hond blaf as sy baas aangeval word. Ek sal ’n lafaard wees as ek sien dat God se waarheid aangeval word en dan stilbly (Inst. 4.16.21). Kohlbrugge het die beeld van ’n baas en sy hond ook op ’n ander treffende manier gebruik. In sy verduideliking van die Heidelbergse Kategismus gee hy onder meer die volgende vrae en antwoorde:

Vraag: Wat is die dankbaarste skepsel wat God gemaak het?
Antwoord: Die hond.
Vraag: Waarin sal dan u dankbaarheid bestaan?
Antwoord: Daarin, dat ek by die genade bly, soos wat die hond by sy meester bly en my altyd weer opnuut tot hierdie genade begeef...die hond kruip juis dan die meeste na sy meester toe, wanneer hy slae van hom kry.

Karl Barth het in hierdie verband by geleentheid gesê dat die hond by Calvyn nie slegs deemoedig na sy baas toe kruip nie, maar dat hy ook wanneer sy baas hom roep en kommandeer, kan en moet opspring, blaf en byt.

Die skildery van Barraud herinner ons dat ware interpretasie begin, wanneer jóú Meester werklik gehoor word. Juis daarom kan Protestante die Reformasie vier as die tyd toe die Woord van God weer helder en duidelik gehóór is. Die lewende stem van die evangelie (viva vox evangelii) weerklink steeds, ook in ons land. Wie se ore geopen is om die Skrif waarlik te hoor, word vry, ook om hul eie leefwêreld en ander mense werklik te hoor. Effektiewe mense in God se koninkryk, hoor God nie net in sy Woord nie, maar leer ook om hierdie wêreld reg te hóór en te interpreteer sodat die regte salf vir die wonde gebring kan word. Ook om effektief te blaf en te byt as dit nodig is.
Om waarlik te hoor is baie meer ingewikkeld as wat dit dalk met die eerste oogopslag mag lyk. Die gaan oor wat die sogenaamde slim mense ons hermeneutiese probleem noem. Dit beteken in eenvoudige taal, ons probleem om te verstaan en te interpreteer. Oor die hele spektrum van menswees heen, word ons hiermee gekonfronteer. Hierdie probleem is dié gonswoord in sovele kringe. Ons het probleme om God se Woord reg te interpreteer. As wetenskaplikes het ons probleme om ons gegewens en statisitiek reg te interpreteer (omdat ons selektief is met die kritieria wat ons gebruik). Man en vrou sukkel om mekaar in die huwelik reg te interpreteer. Ouers en kinders sukkel om mekaar te verstaan. Die gemeente sukkel dikwels om die dominee te verstaan, en so kan ons aangaan.

Daar is ’n sug by ons almal dat ander ons sal verstáán vir wat ons werklik wil sê. Toegegee, Daar is dikwels verskillende interpretasies moontlik – vra maar die rugbyskeidsregters van die noordelike en suidelike halfrond! Die punt is net dat daar, soos by rubyskeidsregters, net soveel interpretasies is wat wel verdedigbaar is. Dit is juis waarom ons telkens met mekaar in gesprek moet tree. Ons het mekaar nodig om nie in ons eie wêreldjies te versmoor nie. Ons het mekaar nodig om die volheid van ’n saak te interpreteer. Die woorde, “jy hoor nie wat ek sê nie”, daag ons uit om nie op die bootjie na die kammaland van my eie wereldjie en sy interpretasies te klim nie. Daar is God en my naaste wat gehoor wil word, en so gehoor wil word dat ek reg laat geskied aan wat hulle sê.

En tog, juis dit is ons getuienis en heerlike belewenis in God se wêreld - dat ons mekaar tóg, al is dit met gestoei en genadiglik ook humor, wel kan hóór en daarom sinvoller werk en leef. Laat ons dan moeite maak met deugde soos eerlikheid, opregtheid, deursigtigheid, en werklik strewe om God en ons naaste beter te hóór. Nipper van His Master’s Voice-faam herinner ons dat dit begin by die luister na die Meester se stem. En, as ons so na sy effens skewe kop kyk, dat ernstig luister reflekteer in jou liggaamstaal.  

Hierdie pos is 'n verwerking van 'n artikel wat in Die Boodskapper van Oktober 2009 verskyn het.