2019/06/03

Apologetiek volgens W.D. Jonker

Onderstaande is afkomstig uit klasnotas van prof. Roelof Maré, waar hy weer gebruik maak van die werk van wyle prof. Willie Jonker. Ek kon nie op die amptelike blad oor prof. Jonker se werke onderstaande stuk terugvind nie, en deel daarom hierdie juweel uit sy nadenke oor Apologetiek vanuit eie bronne.

1. Die doel van die Apologetiek moet altyd wees dat rekenskap daarvan gegee word dat ons glo en waarom ons glo.
2. Die Evangelie word as die waarheid verkondig. Daarvan word getuienis gegee, soos die dissipels van die Here Jesus gedoen het.
3. Geloof is nie iets wat niks met verstand en rede te doen het nie. So getuig Paulus dat hy woorde van waarheid en gesonde verstand spreek (Hand. 26:25-26).
4. Rede en ervaring beklee wel 'n plek in ons verantwoording van ons geloof, maar dit is nie twee groothede wat ongelowiges moet oortuig en die waarheid van die geloof moet of kan bewys nie. Dit is vir 'n gelowige nie absurd om te glo (soos Bonaventure gesê het: credo quia absurdum) nie. Apologetiek is die verantwoording van ons geloof oor die redes waarom ons glo en oor die konsekwensies van ons geloof.
5. Die gelowige voer self 'n stryd teen versoekinge en aanvegtinge tot die einde van sy lewe. Daarom is Apologetiek ook van groot nut vir die gelowige self.
Ons is mense, sondaars. Ons ken ook vertwyfelinge. Die volmaaktheid kom eers eenmaal. Vrae wat in die gelowige se hart leef, moet deur die Apologetiek indringend en sistematies deurgedink en nagevors word.
6. Apologetiek bied ook dieselfde verantwoording, versekering/bevestiging/ bemoediging wat dit vir die gelowige self inhou, aan die ongelowige met sy vraagtekens oor die geloof. Ons beleef solidariteit met die ongelowiges – ons is mede-sondaars. Al verskil is dat ons genade ontvang het. Daarom kan ons hulle nie verag nie. Ons kan hul probleme begryp, omdat ons ons eie daarin herken. Ons getuig teenoor hulle van die waarheid van die Evangelie. Net soos hulle sien ons ook waarom die geloof vir die natuurlike mens dwaasheid is, maar (dit getuig ons) ons is teen onsself in oortuig van die wysheid van die Evangelie. So trag ons nie om die Evangelie vir hulle aanvaarbaar te maak deur dit by innerlike kwaliteite van die mens te laat aansluit nie, maar ons getuig slegs van die openbaring van God waardeur Hy beslag op ons gelê het.
7. Ons tas nie die Evangelie af tot een of meer kernwaarhede wat kan inpas by bepaalde behoeftes of ervarings van die ongelowige nie – ons kom onbevange met die volle Evangelie. "Ons konfronteer die totale mens met die totale Evangelie" (Jonker:28). God open harte vir sy Woord, deur sy Gees, waar dit Hom behaag.
8. Die Apologetiek moet natuurlik kennis neem van die ongelowige tot wie hy hom in die proses van rekenskap rig. Barth se reaksie teen die inagneming van die ongelowige, is te ver gevoer. Die apologeet se kennisname van die situasie en denke, ens. van die ongelowige mag nie lei tot aanpassing van die Evangelie nie. Te midde van kennisname van watter bedenkinge ook al teen die geloof, gee die Here krag om ons in die geloof te bewaar. Ons hoef nie noodwendig self ongelowig te word, soos Barth te kenne gee nie. Het ons dan nie self sóveel van die bedenkinge teen die geloof in ons eie harte beleef en hulle in die krag van die Heilige Gees oorwin nie? Daarom kan ons juis van die Evangelie getuig en die oortuigingswerk aan die Here oorlaat. Barth se waarskuwing dat die Evangelie nie aangepas moet word nie, moet ons deeglik ter harte neem. Ons misken die Apologetiek as afsonderlike vakgebied egter nie (anders as wat Barth wel doen).
9. Die apologeet gaan nie te werk met 'n krampagtigheid omdat hy met sy argumente geloof moet bewerkstellig of die geloof 'n staanplek moet gee nie. Hy werk as iemand wat die sekerheid van die geloof ken. Hierdie sekerheid val nie weg by die aanhoor van aanvalle op die geloof nie. Die geopenbaarde waarheid is groter en sterker as enige moontlike argument wat teen die geloof ingebring kan word. God laat Homself nie onbetuig in hierdie wêreld nie (Rom. 1:18 e.v.). God is ons ook voor! Voordat ek met ‘n ongelowige wat Hy uitverkies het, in gesprek tree, was God reeds met hom besig.
10. So gesien, is ons Apologetiek nie net verdediging van die geloof nie, maar tegelyk aanval op die ongeloof. Die geloof vra ook vrae aan die ongeloof! Hoe het Christus self nie soms vraestellers se vrae omgedraai om hulle te konfronteer nie. Die ongelowige moet homself verantwoord oor wat hy gedoen het met die Evangelie wat ons aan hom gebring het. (Dit is 'n metode wat Thielicke as die juiste metode vir die Apologetiek voorhou.) Die apologeet mag nie vreesagtig en verskonend wees nie.