Wys tans plasings met die etiket Handelinge. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Handelinge. Wys alle plasings

2025/03/14

Meer aan God as aan mense-gebod

Lees: Hand. 5:27-42

Gedagte vir kinders: Gehoorsaamheid aan God is belangriker as enige menslike wet.

Oorsig: In Handelinge 5 lees ons van die voortgaande werk van die apostels in Jerusalem. Die hoëpriester en die Sadduseërs was afgunstig en het hulle in die tronk laat gooi, maar ’n engel van die Here het hulle uitgelei en gesê dat hulle in die tempel aan die volk die woorde oor Jesus Christus moes vertel (5:17-20). Die hoëpriester het hulle toe weer by die tempel laat haal en voor die Joodse Raad, die Sanhedrin, gestel. Die hoëpriester het gevra waarom hulle uitdruklik nie luister nie en steeds in die Naam van Jesus leer. Hulle het, inteendeel, die hele Jerusalem met hulle leer vervul (let wel) en die skuld vir Jesus se dood op die geestelike leiers geplaas (v.27-28).

Petrus en die apostels het toe geantwoord dat hulle aan God meer gehoorsaam moet wees as aan mense (v.29). Hulle het toe weer getuig dat die God van hulle vaders (let wel) Jesus opgewek het, die Een wat hulle (let wel) omgebring en aan ’n kruis(hout) laat hang het. Dit is Hy wat God as Leidsman en Verlosser deur sy regterhand verhoog het om sodoende aan Israel bekering (let wel) en vergifnis van sonde te skenk (ook hierdie leiers, v.30-31). Hulle was getuies van die dinge en ook die Heilige Gees wat God gegee het aan die wat Hom gehoorsaam is. Die lede van die Raad was egter woedend toe hulle dit hoor en wou hulle doodmaak (v.32-33). Toe het ’n Fariseër met die naam van Gamaliël, ’n leraar van die wet, ook van Paulus, en wat by die hele volk in aansien was, in die raad opgestaan  en gevra dat die apostels buitentoe geneem moes word (v.34).

Gamaliël het die Raad toe as “Israeliete” gewaarsku om op te pas wat hulle gaan doen. Hy het gewys op Theudas wat gesê het dat hy iets besonders was en op 400 mense wat by hom aangesluit het. Hy het ook gewys op Judas die Galileër in die dae van die inskrywing wat ’n aansienlike getal afvalllig gemaak het. Hulle het egter altwee omgekom en die wat na hulle geluister het is uit mekaar gejaag en verstrooi (v.35-37). Daarom het Gamaliël vir hulle gesê om die apostels uit te los omdat hulle leier ook mos reeds dood was. As die apostels se voorneme of werk uit mense is, sal dit soos die ander vernietig word (v.38).  As dit egter uit God was, sou hulle dit nie kon vernietig nie. Dan sou dit beteken dat hulle selfs teen God stry (v.39).  Hulle het toe na hom geluister maar tog die apostels ingeroep en hulle probeer afskrik deur hulle (1) te slaan en (2) te beveel om nie in die Naam van Jesus te preek nie en hulle toe laat gaan (v.40). Die apostels het toe weggegaan, (1) bly dat hulle waardig geag is om vir die Naam van Jesus Christus oneer te ly. Hulle het ook (2) nie opgehou om elke dag (2.1) in  die tempel en (2.2) van huis tot huis, (2.1.1 en 2.2.1) te leer nie, en (2.1.2 en 2.2.2) die evangelie te verkondig dat Jesus die Messias (Christus) is (v.41-42).   

Besprekingsvraag: Wat beteken dit vir ons lysies en kategorieë dat die Here onvergelyklik is?

Insig: Ons het hier een van vele gevalle in die Woord waar die Engelse uitdrukking, “speaking truth to power” na vore tree. Die waarheid wat hier gespreek word, gaan egter dieper, omdat dit wentel om die Naam van Hom wat die Weg die Waarheid en die Lewe is (vgl. Joh. 14:6). Dit gaan oor die sentrale punt van reddende waarheid waarin die God van Israel vir Jesus Christus opgewek het nadat Hy gekruisig is en deur sy regterhand verhoog het om aan Israel en aan die nasies bekering en vergifnis van sonde te skenk, en dat die Heilige Gees hierdie waarheid bevestig. Dit gaan dus oor die evangelie van die Drie-enige God wat hier voortbou op dit wat in die Ou Testament geopenbaar is. 

2024/05/16

Gesalfdes van die verheerlikte Christus

Lees: Hand. 1:1-11

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus wat opgeneem is in die hemel kom weer.

Oorsig: Die Here het deur Lukas, die geneesheer, vir ons twee kosbare Godgeïnspireerde getuienisse in sy Woord gegee. Die eerste boek gaan oor alles wat die Here Jesus begin doen en leer het (v.1). Die tweede boek, Handelinge, gaan oor alles wat die Here Jesus voortgegaan het om te doen deur sy liggaam, die Kerk, in die krag van die Heilige Gees. Lukas skryf, soos in sy eerste boek, aan Theofilus, wat een of ander belangrike persoon was, maar wat hy nou op sy Naam noem. Theofilus beteken geliefde van God of Godliefhebber en beide betekenisse is hier van toepassing, ook op elke gelowige en die bedoeling is dat sommige wat lees ook so kan word. Lees Lukas en Handelinge daarom met jou hart.

In sy eerste boek het Lukas vertel van Jesus Christus tot by die punt van sy hemelvaart nadat Hy aan die apostel wat Hy uitverkies het, deur die Heilige Gees bevele gegee het (v. 2). Hy het homself aan hulle as lewend na sy dood vertoon deur baie kentekens en gedurende 40 dae aan hulle verskyn en oor die dinge van die koninkryk gespreek (v.3). Hy het hulle toe ook bevel gegee om nie van Jerusalem weg te gaan nie, maar om te wag op die belofte van die Vader wat hulle van hom gehoor het (v.4). Hy het hulle toe gewys op die bediening van Johannes die Doper wat met water gedoop het (vgl. Mat.3:11), maar dat hulle nou binnekort met die Heilige Gees gedoop sou word (v.5). Die wat bymekaargekom het vra die here toe of Hy in daardie tyd die koninkryk vir Israel weer gaan oprig (v.6). Die Here Jesus het hulle geantwoord dat die tyd en geleentheid daarvoor hulle nie toekom om te weet nie, omdat die Vader dit deur sy eie mag bepaal het (v.7). Hulle moes eerder moes fokus op wat hulle taak was en hoe die koninkryk van God ’n werklikheid sou word op aarde. Wat hulle kon weet is dat hulle krag sou ontvang wanneer die  Heilige gees oor hulle kom. So sou hulle getuies wees in Jerusalem, die stad van god in die Ou testament. Maar dit sou ook gelyktydig (sowel as) uitkring na die hele Judea en Samaria en verder tot aan die uiterste van die aarde (v.8).

Daarna is die Here Jesus opgeneem in die hemel terwyl hulle dit sien. ’n Wolk het Hom voor hulle oë weggeneem (v.9). toe die dissipels nog so stip na die hemel kyk terwyl Hy weggaan het daar twee manne in wit klere by hulle gestaan en gesê: manne van Galilea, waarom staan julle en kyk na die hemele. Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het (v.11).    

Besprekingsvraag: Hoe wys Dawid as koning hier heen na Christus as opgestane Koning?

Insig: Die Here Jesus se voortgaande werk na sy opstanding was enersyds nuut , maar kan andersyds net deur die lense van die Ou Testament na waarde begryp word. Ons verneem hier van die Een uit die nageslag van Dawid wie se ryk geen einde sal hê nie (Luk. 1:32-33). Hy vertoon Homself vir 40 dae lank na sy opstanding aan sy dissipels en eet en drink saam met hulle (Hand. 10:41). Om saam te eet dui op innige gemeenskap en verbondenheid, maar hier ook dat die Koninkryk in beginsel reeds gekom het (vgl. Luk. 22:16,18). Die 40 dae herinner ook aan die motief van toetsing en gereedmaking (vgl. Moses, Israeliete, Elia, Christus). Die dissipels se vraag oor die heroprigting van die koninkryk vir Israel was daarom uit fokus, maar nie ongegrond nie (v. 6). Hier is sprake van die Koning wat sy troon gaan bestyg met die hemelvaart en daarmee die troonbestyging waarvan die Psalms praat vervul (vgl. Ps. 2; 110; Dan. 7:13,14). En die proklamasie hiervan kring ook uit vanaf die stad van Dawid, Jerusalem, waar die Messias verwag is. Dit kring in konsentriese sirkels uit soos met Dawid destyds, vanuit Jerusalem, na sy stam en dan sy volk en bondgenote. Maar hier word dit nou vervul tot aan die eindes van die aarde. Rome wou graag met hulle paaie die Romeinse vrede na die verste gebiede bring. Hier hoor ons hoe dit eerder sou gebeur.

2023/05/25

Pinkster en Kerk in die nuwe verbond

Lees: Hand. 2:1-21

Gedagte vir kinders: Pinksterdag herinner ons dat die Heilige Gees gegee is vir God se kinders.

Oorsig: Op die dag van Pinksterfees in Jerusalem, tien dae nadat die Here Jesus opgevaar het na die hemel, was die dissipels eendragtig bymekaar. Skielik het uit die hemel ’n geluid gekom soos ’n geweldige rukwind en dit het die hele huis gevul waar hulle was. Toe het hulle tonge van vuur gesien wat verdeel en op elkeen gaan sit. (v.1-3). Hulle is toe almal vervul met die Heilige Gees en het in ander tale begin spreek soos wat die Gees dit aan hulle gegee het om uit te spreek. Dit het in Jerusalem gebeur waar Jode gewoon het wat afkomstig was uit elke nasie waarheen hulle sedert die ballingskap verstrooi is (v.4-5).

En toe hierdie geluid van die rukwind kom, het baie mense saamgestroom en was verward, omdat hulle elkeen gehoor het hoe hulle in die taal spreek van die plekke waar hulle gebore is. Dit het hulle baie verbaas en verwonderd gemaak en hulle het vir mekaar daarop gewys dat dit dan Galileërs uit die Noorde was wat toe so gepraat het in die tale waarin hulle gebore is (v.6-8). Die tale word dan gegee soos wat dit van wes na oos rondom Jerusalem gevind is: Parthers en Meders en Elamiete, en die inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadocië, Pontus en Asië, Frigië en Pamfilië, Egipte en die streke van Libië by Cirene. Dit was die tale van Romeine wat in Jerusalem vertoef het, en ook tale waarin sommige Jode grootgeword het asook heidene wat die Jode en hulle God goedgesind was (Jodegenote), tesame met Kretense en Arabiere. Hulle het elkeen in hul eie taal gehoor hoe daar oor die groot dade van God gespreek word (v. 9-11). Dit het hulle verbaas en radeloos gemaak omdat hulle nie geweet het wat om daarvan te maak nie. Ander weer, het gespot en gesê dat die mense vol soetwyn is (v.12-13).

Petrus het toe opgestaan en hulle met ’n groot stem toegespreek. Hy het eerste daarop gewys dat die mense nie dronk was nie, aangesien dit nie sommer om 9:00 (die derde uur) moontlik was nie (v.14-15). Hy het dit toe verklaar deur te wys op die woorde van Joel 2:28-32 (v.16-21). Dit is dat die Here in die laaste dae sy Gees sal uitstort op alle vlees - seuns en dogters (profeteer), jongmense (gesigte) en oumense (drome droom), en selfs die laagste stande, diensknegte en diensmaagde, sal profeteer. Die Here sou ook wonders in die hemel en op aarde gee voordat die Here se groot dag kom. En elkeen wat in sulke toestande die Naam van die lewende God, die HERE, aanroep, sal gered word. En dan gaan Petrus aan om vir hulle uit die Skrifte te wys dat die Naam van hierdie HERE, die gekruisigde en opgestane en gekroonde Jesus Christus is.

Besprekingsvraag: Watter verbande is daar oor Pinkster tussen die Ou en Nuwe Testament?

Insig: Pinksterdag kan net waardeer word as ons die agtergrondmusiek van die Ou Testament onthou. Dink aan Babel, aan Sinai, aan die oes-eerstelinge en aan die Israeliete se verstrooiing in die ballingskap. 

2023/05/24

Geloofwaardige getuies in sy diens

Lees: Hand. 1:12-26

Gedagte vir kinders: Daar is niks wat die Here se werk kan keer nie.

Oorsig: Na die Here Jesus se Hemelvaart, het sy dissipels vanaf die Olyfberg omgedraai na Jerusalem wat omtrent ’n sabbatsreis (ongeveer 1 km) ver was (v.12). Daar het hulle na die bovertrek gegaan waar hulle gewoonlik gebly het. Hierdie 11 apostels (sonder Judas Iskariot) se name was Petrus en Jakobus en Johannes, en Andreas, Filippus en Thomas, en Bartholomeüs (Natanael) en Mattheus, en Jakobus, die seun van Alfeus, en Simon die Yweraar (Seloot), en Judas, die seun van Jakobus. (v.12-13). Hulle het almal in dieselfde gesindheid (eendragtig) aangehou met bid en smeking, saam met hulle ’n aantal vroue asook Maria die moeder van Jesus en sy broers (v.14).

In daardie tyd het Petrus in hulle midde opgestaan toe hulle omtrent 120 was. Hy het toe vir hulle gesê dat die Skrif vervul moes word wat die Heilige Gees alreeds deur die mond van Dawid gesê het aangaande Judas wat die leier was van die wat Jesus gevange geneem het (v.15-16). Daarom het Judas die lot van hierdie bediening van verraad verkry en ’n stuk grond gekoop met sy loon van onreg en vooroor geval en oopgebars sodat al sy ingewande uitgestort het. Dit het bekend geword aan al die mense van Jerusalem en die grond is in hul eie taal Akeldama genoem wat Bloedgrond beteken (v.17-19). So staan deur reeds in Ps. 69:25 dat sy woonplek woes moet word en daar geen inwoner sal wees nie (vgl. ook Joh. 2:17 wat Ps. 69:4 aanhaal). Ook dat ’n ander een sy opsienersamp moet neem (v. 20; vgl. ook Ps. 109:8).

Petrus het toe gesê dat daar onder die manne iemand gekies moet word wat saam met hulle rondgegaan het vanaf die tyd wat die Here Jesus sy openbare bediening begin het – vanaf die doop van Johannes die Doper af tot en met die Hemelvaart. So een moes dan saam met hulle getuie wees van die Here Jesus se opstanding (v.21-22). Daar is toe twee voorgestel: Josef wat Barsabas genoem is en die bynaam Justus (betekenis: geregtigheid) gehad het, en Matthias (v. 23). Saam met sommige kerkvaders kry ons die indruk uit die name dat Matthias met net een naam wat tweede genoem word, moontlik ’n bietjie minder in aansien was. Hulle het toe gebid en gevra dat die Here wat die harte van almal ken, moes wys wie Hy uitverkies het om die dienswerk (bediening) van apostel te verkry waarvan Judas afgewyk het en na sy eie plek gegaan het. Daarna het hulle die lot gewerp en die lot het op Matthias geval. En hy is toe gekies en aangewys om saam met die elf apostels te wees (v.24-26).      

Besprekingsvraag: Is die vertelling oor Judas hier in stryd met Mat. 27:3-10?

Insig: Hoe presies is Judas Iskariot dood? Verskil dit nie met Mat. 27:3-10 nie? Die eenvoudigste verklaring is dat die Skrifgedeeltes mekaar aanvul en ons so ’n voller prentjie kry. Ons hoor so eggo’s van ’n verraderlike Absalom wat hang (Mattheus), sowel as van ’n trouelose Agab met bloedbevlekte grond (Handelinge); van selfpynigende wroeging (Mattheus; vgl. Joh. 17:12) en verbondswraak (Handelinge; vgl. Ps. 69;109). 

2023/05/11

Vry van drogbeelde oor God

Lees: Hand. 17:16-34

Gedagte vir kinders: Jesus het die dood oorwin en sal die wêreld eendag oordeel.

Oorsig: Paulus het op sy tweede sendingreis vir Silas en Timotheüs in Berea agtergelaat en solank na Athene gegaan. Terwyl Paulus vir hulle wag in Athene, het sy gees opstandig geword oor die stad vol afgodsbeelde was (v.16). Hy het toe in die sinagoge met die Jode en godsdienstige mense gespreek en ook elke dag op die mark met die mense wat hom teëgekom het. Onder hulle was Epikuriese en Stoïsynse filosowe. Die Epikureërs het geglo die lewe gaan oor genot en materialisme en net hier en nou en toevalligheid. Die Stoïsyne was het geglo aan plig en ’n lewe van vasbyt en nooit te bly of te hartseer te wees nie. Hulle wou probeer om die goddelike beginsel (logos) van die wêreld te verstaan. Al hierdie mense het met Paulus gestry en gesê dat hy ’n praatjiesmaker en verkondiger van vreemde gode is. Dit was in reaksie op Paulus se boodskap van die evangelie van Jesus en die opstanding (v.17-18).

2023/05/04

Prioriteite, strukture en wysheid

Lees: Hand. 6:1-7

Gedagte vir kinders: Die Heilige Gees bring wysheid en omgee in ons harte in.

Oorsig: Ons lees in Handelinge 4-5 dat die eerste gemeente se harte oop was vir mekaar se behoeftes. Die satan het egter selfs dit gebruik om sommige mense (Annanias en Saffira) skynheilig te laat en die Here het sterk hierteen opgetree deur sy apostels. Soos wat die gemeente in Jerusalem gegroei het, het daar ook nuwe probleme ontstaan. Daar was Aramees-Hebreeussprekende Jode in Jerusalem, maar ook Griekssprekende Jode wat ver buite Jerusalem grootgeword het. Hulle het hul Joodse geloof behou en hul later tot Jesus Christus bekeer en in Jerusalem gewoon. Soos wat die gemeente uitgebrei het, het sommige Griekssprekende weduwees egter nie aandag gekry soos die ander nie en dit het spanning veroorsaak (v.1).

Die 12 apostels het die mense bymekaar geroep en hulle daarop gewys dat hulle ’n bepaalde prioriteit moet behou, anders gaan die bediening van die Woord van God en gebed skade ly as hulle aandag ingesluk word deur die kos-behoeftes op tafel vir al die mense (v.2). Hulle oplossing was om vir sewe manne uit te kyk wat (1) goeie getuienis by mense gehad het oor die algemeen, en (2) vol was van die Heilige Gees en wysheid en wat spesifiek aangestel kon word om aan die probleem aandag te gee (v.3). Die apostels het onderneem om by hulle grootste prioriteit te hou: (1) Volharding in die gebed en (2) die bediening van die Woord (v.4).

Die menigte het hierdie werkswyse goed gevind en die volgende mense gekies wat insiggewend genoeg almal Griekse name gehad het: Stefanus, wat spesifiek beskryf word as vol van geloof en die Heilige Gees (vgl. Hand. 6 en 7), en Filippus (vgl. Hand 8). Dan was daar ook Prochorus en Nikanor en Timon en Parmenas en Nikolaus (v.5). Nikolaus, word beskryf as ’n Jodegenoot uit Antiochië (vgl. Hand. 2:10 en 13). Dit beteken dat hy ’n Griekssprekende heiden was wat die God van Israel aanvaar het (Jodegenoot) en later ook tot geloof in Jesus Christus gekom het. Hierdie sewe manne is voor die apostels gestel en die apostels het toe gebid en hulle die hande opgelê en so is hulle aangestel (v. 6; vgl. Num. 8:10; Dt. 34:9; 1 Tim. 4:14). Later lees ons dat Stefanus saam met die tafeldiens ook die Woord kragtig verkondig en verdedig het. Die Woord van God het deur hierdie aksie net verder toegeneem en die getal dissipels in Jerusalem het baie vermeerder. Selfs baie priesters van die Jode het gehoorsaam geword aan die geloof (v.7).    

Besprekingsvraag: Het die werk van die Heilige Gees ook te make met administrasie? 

Insig: Die Kerk van Jesus Christus het altyd nuwe seëninge, maar ook uitdagings.

2022/06/07

Juigende en profetiese optrede

Lees: Hand. 2:14a, 22-36

Gedagte vir kinders: Omdat Jesus terug was by God, is die Heilige Gees nou by ons.   

Oorsig: Petrus bring hierdie boodskap op Pinksterdag toe die Heilige Gees uitgestort is, en ons fokus in besonder op die tweede deel van sy preek. In die eerste gedeelte verdedig Petrus die gebeure by Pinkster toe die gelowiges in allerhande tale oor die groot dade van God deur Jesus getuig het. Dit was die vervulling van dit waaroor die profeet Joel geprofeteer het – God se Gees op al sy kinders. Daarna verduidelik Petrus wat dit met Jesus te make het (v.22 e.v.).

Petrus wys daarop dat Jesus die Nasarener, ’n man was wat deur God aangewys is deur kragte en wonders en tekens en wat niemand kon ontken nie. Deur God se raad en voorkennis is Jesus toe oorgelewer en deur heidene, goddelose manne, het die Jode hom laat kruisig en ombring (v.22-23). God het Hom egter opgewek, nadat Hy die smarte van die dood ontbind het (let wel, “nadat”), want dit was onmoontlik dat Jesus daardeur vasgehou sou word (v.24). Petrus wys dan op Ps. 16:8-11 waar Dawid reeds profeties hiervan getuig het. Daar getuig Dawid van Christus dat Hy die Here altyddeur voor hom sien en dat God by Hom was dat Hy nie sou wankel nie. Daarom was Jesus Christus se hart bly en sy tong het gejuig en kon sy vlees rus in hoop. Hy het ook geweet dat God sy siel nie aan die doderyk sou oorlaat of sy Heilige oorgee om verderwing te sien nie. Die Here sou eerder aan Hom die paaie van die lewe bekend maak en Hom vervul met vreugde by sy aangesig (v.25-28).             

Petrus wys dan daarop dat die Psalm nie van Dawid waar kon wees nie, aangesien Dawid se graf nog steeds by hulle is. Dawid was egter ’n profeet en het geweet dat God vir hom gesweer het dat die Christus uit hom gebore sou word om op sy troon te sit (vgl. Ps. 132:11; Luk. 1:32). Dawid het dus vooruit gesien en profeties gespreek van die opstanding van Christus en dat sy siel nie in die doderyk verlaat is en sy vlees ook nie verderwing gesien het nie (v.29-31).