2023/05/25

Pinkster en Kerk in die nuwe verbond

Lees: Hand. 2:1-21

Gedagte vir kinders: Pinksterdag herinner ons dat die Heilige Gees gegee is vir God se kinders.

Oorsig: Op die dag van Pinksterfees in Jerusalem, tien dae nadat die Here Jesus opgevaar het na die hemel, was die dissipels eendragtig bymekaar. Skielik het uit die hemel ’n geluid gekom soos ’n geweldige rukwind en dit het die hele huis gevul waar hulle was. Toe het hulle tonge van vuur gesien wat verdeel en op elkeen gaan sit. (v.1-3). Hulle is toe almal vervul met die Heilige Gees en het in ander tale begin spreek soos wat die Gees dit aan hulle gegee het om uit te spreek. Dit het in Jerusalem gebeur waar Jode gewoon het wat afkomstig was uit elke nasie waarheen hulle sedert die ballingskap verstrooi is (v.4-5).

En toe hierdie geluid van die rukwind kom, het baie mense saamgestroom en was verward, omdat hulle elkeen gehoor het hoe hulle in die taal spreek van die plekke waar hulle gebore is. Dit het hulle baie verbaas en verwonderd gemaak en hulle het vir mekaar daarop gewys dat dit dan Galileërs uit die Noorde was wat toe so gepraat het in die tale waarin hulle gebore is (v.6-8). Die tale word dan gegee soos wat dit van wes na oos rondom Jerusalem gevind is: Parthers en Meders en Elamiete, en die inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadocië, Pontus en Asië, Frigië en Pamfilië, Egipte en die streke van Libië by Cirene. Dit was die tale van Romeine wat in Jerusalem vertoef het, en ook tale waarin sommige Jode grootgeword het asook heidene wat die Jode en hulle God goedgesind was (Jodegenote), tesame met Kretense en Arabiere. Hulle het elkeen in hul eie taal gehoor hoe daar oor die groot dade van God gespreek word (v. 9-11). Dit het hulle verbaas en radeloos gemaak omdat hulle nie geweet het wat om daarvan te maak nie. Ander weer, het gespot en gesê dat die mense vol soetwyn is (v.12-13).

Petrus het toe opgestaan en hulle met ’n groot stem toegespreek. Hy het eerste daarop gewys dat die mense nie dronk was nie, aangesien dit nie sommer om 9:00 (die derde uur) moontlik was nie (v.14-15). Hy het dit toe verklaar deur te wys op die woorde van Joel 2:28-32 (v.16-21). Dit is dat die Here in die laaste dae sy Gees sal uitstort op alle vlees - seuns en dogters (profeteer), jongmense (gesigte) en oumense (drome droom), en selfs die laagste stande, diensknegte en diensmaagde, sal profeteer. Die Here sou ook wonders in die hemel en op aarde gee voordat die Here se groot dag kom. En elkeen wat in sulke toestande die Naam van die lewende God, die HERE, aanroep, sal gered word. En dan gaan Petrus aan om vir hulle uit die Skrifte te wys dat die Naam van hierdie HERE, die gekruisigde en opgestane en gekroonde Jesus Christus is.

Besprekingsvraag: Watter verbande is daar oor Pinkster tussen die Ou en Nuwe Testament?

Insig: Pinksterdag kan net waardeer word as ons die agtergrondmusiek van die Ou Testament onthou. Dink aan Babel, aan Sinai, aan die oes-eerstelinge en aan die Israeliete se verstrooiing in die ballingskap. 

By Babel in die taalverwarring verneem ons hoe God ’n valse eenheidsgedagte veroordeel, maar tog ook sy kultuuropdrag (Gen. 1:28) deurvoer. Deur die versoening van Jesus Christus in die nuwe verbond, het die eskatologiese eeu aangebreek (vgl. Mat. 26:28; Jer. 31:31-34) en word dit nou moontlik om ware eenheid te bring deur al die nasies sy dissipels te maak (Mat. 28:18-20). Die nasies hoef egter nie dieselfde te word of dieselfde taal te praat nie, want op Pinksterdag hoor elkeen in sy eie taal van die groot dade van God (v. 11). Die veelkleurigheid van die mensdom word behou tesame met ware eenheid in Christus (Schreiner: universele partikulariteit). Die vyandskap val dus weg, maar die verskeidenheid kan selfs duideliker gedefinieer word (Kuyper). Babel word in Christus dus uniek op sy kop gekeer sodat beide die eenheid en die verskeidenheid van nasies en volke, soos in die Drie-eenheid van God, gelyktydig geld.

Ons hoor ook toespelings op Sinai. Die totstandkoming van die Kerk onder die ou verbond by Sinai vind ongeveer 50 dae na die eerste Paasgeleentheid plaas (vgl. Ex. 19:1). Daar verneem ons reeds van vuur en rookdamp wanneer God verskyn, maar die mense kan dit nie verdra nie. Hulle besef dat hulle ’n middelaar nodig het. Deur hierdie middelaar ontvang hulle God se wet. Op Pinksterdag in die nuwe verbond, ook 50 dae na die Paasfees waar die Lam vir ons geslag is, gebeur iets baie besonders en enig in sy soort. Die gelowiges het hulle Middelaar in die hemel en die vuur en rookdamp kan  verdra word, sodanig dat die tonge van vuur op elkeen gaan sit. Iets baie wonderlik gebeur. Mense word vervul met die Heilige Gees, soos wat die heerlikheid van God die tabernakel en tempel in die Ou Testament gevul het. Die Middelaar wat terug is by die Vader maak dit alles moontlik. Nou is Christene dus self tempels van die lewende God by wie Hy inwoon. Nou is die wet nie net op kliptafels nie, maar op Christene se harte geskrywe (vgl. Jer. 31:33-34; Joh. 1:17).

God vervul ook sy beloftes dat Hy Israel sal versamel uit die verskillende lande (vgl. Jes. 43:5-7; 60:4; Hos. 1:10). Die mense is in Jerusalem uit alle oorde op Pinksterdag vergader, die geboortedag van die Kerk onder die ou verbond by Sinai. Na die ballingskap is hulle verstrooi en het hulle in verskillende tale grootgeword. Al die plekke wat hier genoem word, beskryf die omvang van die Romeinse ryk. Nou word hierdie plekke egter almal deel van Christus se koninkryk. En op Pinksterdag dat hulle nog maar eerstelinge is van die groot oes wat op pad is. In die Kerk van die nuwe verbond kan alle nasies en tale van die groot dade van God In Jesus Christus hoor. Die res van Handelinge vertel ons hoe die nuwe verbond in Christus en deur die Gees deurbreek na Judea, Samaria en tot aan in die hoofstad van die destyds bekende wêreld, naamlik Rome. So is die uiteindes van die aarde in beginsel toe reeds bereik en so sal die hele wêreld uiteindelik onder die heerskappy van Jesus Christus kom: Uit die Vader, in die Seun, en deur die krag van die Heilige Gees.   

Werke geraadpleeg

Patrick Schreiner, Acts: Christian Standard Commentary

Jamieson-Fausset-Brown

John Gill

Matthew Henry

SG De Graaf

Abraham Kuyper, “Uniformity: The Curse of Modern Life,” in Abraham Kuyper: A Centennial Reader, red. James Bratt (Grand Rapids: Eerdmans, 1998), 36. (met dank aan Schreiner vir die verwysing).