Wys tans plasings met die etiket Aanhalings. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Aanhalings. Wys alle plasings

2013/09/10

Genade moet skoon gedrink word

Robert Farrar Capon is onlangs oorlede. Kyk hier, hier en hier om jou aptyt vir die man se werk aan te wakker. Ek het een van sy bekende aanhalings oor die Reformasie vertaal vir ons kerkblad. Capon laat ons besef dat die Reformasie nie as opgewarmde kos bedien kan word nie. Ons het nodig om in die gloed daarvan te gaan staan as ons dit vars wil opskep. Hier is dan nou 'n poging om Capon in Afrikaans te laat praat oor daardie woord wat bedoel is om ons 'n geseënde dwarsklap te gee:

2013/08/28

Niemand anders verdien dit nie

Dit is die moeite werd om daarop te let dat die woord verlosser in die Nuwe Testament agt keer op God van toepassing gemaak word, op Jesus sestien keer, en op hoegenaamd niemand anders nie, nooit nie. En tog was die Griekse woord soter (verlosser) 'n redelik algemene term in die klassieke wêreld. Dit is as eretitel op beide menslike konings en militêre oorwinnaars toegepas, asook op die groot gode en helde van die mitologie. Maar dit gebeur nie in Nuwe Testamentiese Christenskap nie. "Verlossing behoort aan ons God wat op die troon sit ... en aan die Lam" (Op. 7:10). Niemand anders verdien eers die woordeskat nie. - Christopher J. H. Wright in The Mission of God, p. 120.

2013/08/08

Só word jy dapper

"Kaptein, my geloof leer my om net so veilig in 'n veldslag as in 'n bed te voel. God het die tyd vir my dood bepaal. Ek is nie besorg daaroor nie, maar eerder om altyd gereed te wees, maak nie saak wanneer dit my oorval nie. Dit is die manier waarop alle mense behoort te lewe, en dan sal almal ook ewe dapper wees."    - Stonewall Jackson

2013/07/29

Langenhoven skryf postmodernisties

Die manier waarop Langenhoven skryf, is basies postmodernisties. Hy doen dit anders – op die teenoorgestelde manier eerder as die konvensionele manier – en dit wys dat hy by die gewone kon verbykyk en die onverwagte kon sien. Langenhoven het baie oor kwantumteorie van daardie era gelees en dat dit ook bewyse is van sy moderne uitkyk op die lewe. Ek sou graag wou gehad het dat hy saam met Steven Spielberg gewerk het. Dit sou baie interessante dinge opgelewer het."   -  André P. Brink

2013/07/26

Oor aardbewings en troebadoere

God is nie gaaf nie; God is nie Oom nie; God is 'n aardbewing - Gillian Rose

Jesus, die Seun van God, dryf duiwels uit met niks meer nie as die melodie van sy stem. Jesus die Heilige Kryger is Jesus die Troebadoer - Peter Leithart

2013/07/17

Nietzsche die anti-held

Rene Girard: The Girard Reader"Nietzsche is 'n wonderlike teenmiddel teen alle fundamenteel anti-Bybelse pogings om mitologie tot 'n tipe Bybel te maak, wat die besigheid is van al die Jungiane van die wêreld. Dit is ook 'n teenmiddel teen al die pogings wat die Bybel tot mitologie wil maak en dit is die besigheid van ongeveer enigiemand anders as die Jungiane."

Rene Girard, p. 251

2013/07/03

Mistasting oor zero-som denke

Indien jy die verduideliking wat volg aanvaar, kan jy nie meer op die ongekwalifiseerde beskrywing inkoop dat die rykes ryker en die armes armer word nie. Meer nog, dit is een van die beste maniere om vir mense soos ek en jy te help om van jaloesie op enige vlak vry te kom. Dat iemand anders met baie geseënd is, beteken nie dat ander nou net tevrede moet wees met wat oorbly nie. Nee, God se seën brei altyd uit en kan ook vir jou en my vul tot ons bekers oorloop. Dit sluit natuurlik baie, baie meer as ekonomiese voorspoed in. Ons behoort wel tevrede te wees met wat ons het (Heb. 13:5) en behoort ook moed te skep dat die Here diegene verhoog wat hulself onder sy kragtige hand verneder (1 Pt. 5:6). In my kerk sing ons 'n gesang met die volgende grootse woorde:

God neem die persoon die aan nie
Onderskeid, volk of tyd
God sien dit nie aan nie
Hy is ryk oor alle mense
wat Hom roep, wat hom soek
Sonder perk of grense

Ky nou met hierdie gesindheid na die denkfout wat in die insetsel aangetoon word:

2012/11/08

Wanneer woordvonke spat

Die woord is vir die digter nie net 'n klank-kombinasie nie; nie net die draer van begrip nie; nie net die vorm waardeur hy die strenge tug op sy belewings handhaaf nie. Die woord is 'n magiese middel, 'n wapen waardeur onsuiwerheid uitgesny kan word, 'n tower-formule waarmee dinge besweer word, 'n beitel waardeur planete oopgebreek kan word.

Johan J. Degenaar

2012/08/07

Hoor en hoera mag saamloop

Luther het geworstel om die geregtigheid van God te verstaan, bevrydend te verstaan. Ons worstel steeds.   As God se Gees ons nie in die spervuur van ontdekking plaas nie, sal ons met teologiese woordeboeke en al met koue harte kwyn. Maar ons is mense met wie God baie simpatie het. Dit is eenvoudig hoe Hy is. Hy is vinnig  om ons jammer te kry. Hy hou dit met ons uit. Hy is baie goed vir ons. En Hy gee aan ons 'n atmosfeer waar ons kan asemhaal in sy teenwoordigheid. In die taal van die Bybel, Hy is genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid (Ps. 145:8). Hy is so genadig dat Hy selfs teologiese woordeboeke gebruik om ons te verras. Ook teoloë word gebruik - wonder bo wonder

Voor ons by hierdie fenomeen uitkom, is dat dalk goed om net gou weer 'n draai by die bekende 1 Jn 1:9 te maak om ons in stemming te bring. Net twee vinnige gedagtes: "As 'n man 'n ring aan die linkerhand se ringvinger dra, is hy getroud." Die "as" in die vorige sin is nie voorwaardelik bedoel nie, maar dui 'n bepaalde stand van sake aan. Dit is beter om 1 Jn. 1:9 se "as" ook so te verstaan. Wanneer 'n Christen sy of haar sonde bely, gebeur daar sekere skreiende dinge. Verder: Waarom staan daar dan dat God regverdig is om ons te vergewe? Die kategismusantwoord is sekerlik tog dat Hy nie sonde aan ons sal straf wat Hy reeds aan sy Seun gestraf het nie. 

Hoor ons dit: "regverdig om ons te vergewe"? Ek dink dit is wat Luther gehoor het. Hy het gehoor en gehoera. Ja, ek weet, ek moes eintlik 'n uitroepteken aan die einde van die vorige sin geplaas het. Maar dit sal meer van pas wees wanneer ons saam hoera skreeu. Dit bring ons terug by die wonder dat God selfs teoloë kan gebruik om ons saam hierby uit te bring, selfs toeloë met wie ons nie in alle opsigte saamstem nie. Luther het ontdek en ons het saamgeleer om die geregtigheid van God te waardeer. Dit is 'n oordeel wat nie net oordeel nie, maar vrymaak, 'n eis wat nie net vra nie, maar gee. God eis en gee die geregtigheid waaroor Hy nie 'n kompromie sal aangaan nie. En as jy se dat jy hoor, maar steeds 'n skuinsskoot nodig het, hoor 'n ander Lutheraan, Robert Jenson:

"Wanneer ons sê dat God regverdig is en vra wat dit beteken, dan wys ons na Jesus se vriendskap met sondaars."

Omdat God regverdig is, is die Here Jesus vriendelik met sondaars soos ek en jy. Wat 'n geseënde paradoks! God is regverdig en daarom is ons vry. Net die evanglie maak dit waar. Buite die evangelie, buite Christus, is daar geen vriendelikheid nie. Net oordeel. En dit is waarom ons die oproep moet hoor om in te kom. Dit is baie koud en eensaam buite.

2011/11/17

Dit het jy nie verwag nie

Om die Psalms van begin tot einde te lees dwing ons om ons eie vooropgestelde idees opsy te laat staan. Dit roep ons op om ons eie persepsies as die dryfkrag agter ons blootstelling aan die Psalms opsy te laat lê. Hierdie openheid gebruik God in sy vryheid om ons uit te daag, te konfronteer en, bo alles, om te dop op wyses wat ons nie kan kontroleer of selfs verwag nie.
- Gerald Wilson, p. 245 in Interpreting the Psalms: Issues and Approaches.

2011/11/16

Riool vs. Rooiwyn

Elke mens hunker na geluk. En ons sal nooit iemand aanraai om daardie hunkering te onderdruk nie. Mense se probleem is nie dat hulle versadiging soek nie, maar dat hulle heeltemal te maklik versadig word. Ons behoort hulle te wys hoe om hulle siele-honger te laat smul aan die genade van God. Ons sal die heerlikheid van God skilder in rojale rooi en geel en blou en die hel sal ons skilder met die dynserige skadu's van grys en steenkool. Ons sal werk daarvan maak om hulle te speen van die melk van die wêreld en hulle in te lei in die rykdom van God se genade en glorie.
- John Piper

2011/11/11

Perspektief op Abraham

Die wêreld is nie gered toe God Abraham gekies het nie. Maar toe God Abraham gekies het, was redding net 'n kwessie van tyd.
Peter Leithart

2011/11/07

"Geestelik" vir al die verkeerde redes

Image of Eugene H. PetersonEugene Peterson, parafraseerder van The Message, het in 'n onderhoud woorde kwytgeraak wat ons tot selfondersoek behoort te dring. Hy gebruik die vroulike vebuiging aan die einde, maar hy en ons weet almal dat dit 'n saak is wat elke geslag en alle geslagte raak:

"Dit is die grootste woord wat ons het - verlossing, om gered te wees. Ons is gered van 'n manier van lewe waarin daar geen opstanding was nie. Ons word gered van onsself. Een manier om geestelike lewe te definieer is om so moeg en keelvol vir jouself te raak dat jy voortgaan na iets beter, om Jesus Christus te volg. Maar die oomblik dat ons die geloof begin adverteer in terme van voordele, vergroot ons net die self-probleem. 'Met Christus is jy beter, sterker, aangenamer en geniet jy ekstase.' Maar dit is net meer van die self. In plaas daarvan wil ons hê dat mense so verveeld met hulself raak dat hulle begin om na Jesus Christus te kyk. Ons het almal al 'n sekere soort geestelike mens ontmoet. Sy is 'n wonderlike persoon. Sy het die Here lief. Sy bid en lees die Bybel voortdurend. Maar al waaraan sy dink is haarself. Sy is nie 'n selfsugtige persoon nie. Maar sy is altyd in die sentrum van alles wat sy doen. 'Hoe kan ek beter getuig? Hoe kan ek hierdie ding beter doen? Hoe kan ek hierdie persoon se probleem beter hanteer?' Dit is ek, ek, vermom op 'n wyse wat moeilik is om te sien omdat haar geestelike gesprek ons ontwapen."

2011/11/04

Die niervet en die pruime saam

Die Middeleeue was nie 'n vakkies-periode soos ons s'n nie. Hulle het hul intellek, gevoel, filosofie, romanse, politiek, wetenskaplike en godsdienstige oortuiginge, toesprake, geselsies en kontemporêre besprekings in een ontsaglike en gevarieerde kersfeespoeding gemeng. Hulle het dit ingeneem met watter lepel ook al handig te pas gekom het, die niervet en die pruime saam, en met die aptyt van 'n omnivoor waaroor ons onsself net kan verwonder.

2011/10/11

Kan entrepreneurs soms gevaarlik wees?

’n Samelewing wat algemeenheid kultiveer, wat suspisieus is oor genialiteit, wat meer agting het vir die entrepreneur wat die smaak van die massas bedien as die visionêr wat die geeste van net 'n handjievol uitdaag – so ’n samelewing loop altyd die gevaar om waarde te definieer in terme van onmiddellike aanvraag, eerder as ewigheidsbetekenis.
Ken Myers, in All God’s Children and Blue Suede Shoes. p. 22, 23.

2011/10/06

Die Verheugde Vader, Seun en Heilige Gees

God se wese is verbondsmatig: Vader, Seun en Heilige Gees leef in 'n onophoudelike toewyding aan mekaar en reik uit buite die Godheid om 'n gemeenskap van skepsele te skape wat kan dien as reuse analogie van die Godheid se verhoudinge. Geskape na die beeld van die Drie-enige God is ons van nature uitgaande, interafhanklike verhoudingskeppers wat onsself in ander vind, nie net in onsself nie. Anders as die Persone van die Drie-eenheid, het ons op 'n stadium nie bestaan nie. Maar toe God besluit het om te skape, was sy bevel nie die van 'n eensame monarg nie, maar van 'n verheugde Vader, Seun en Heilige Gees wat 'n kreatuurlike, menslike analogie van hul ewige gee en ontvang verhouding daargestel het. Ons is nie net geskape en daarna eers 'n verbond gegee nie; ons is geskape as verbondsmatige wesens - deelgenote, natuurlik nie in die Godheid nie, maar in die drama wat sou ontvou in die geskiedenis.
Michael Horton in God of Promise, p. 10.

2011/10/03

Hier, nie iewers anders nie

Hierdie taak is aan my opgedra. Daarom is dit 'n geskenk. Daarom is dit 'n voorreg. Daarom is dit 'n offer wat ek aan God bring. Daarom behoort dit met blydskap gedoen te word, as dit vir Hom gedoen word. Hier, nie iewers anders nie, mag ek God se weg leer ken. In hierdie taak, nie in iets anders nie, roep God op tot getrouheid.
 ― Elisabeth Elliot

2011/10/02

Nie 'n hipotetiese verhouding nie

Die verbond is nie 'n hipotetiese verhouding nie, ook nie 'n voorwaardelike posisie nie; dit is eerder 'n vars lewende gemeenskap waarin die krag van genade werksaam is.
Geerhardus Vos

2011/09/30

Dit is hoe dinge verander

Gebed verander nie sake nie, maar lê beslag op die God wat sake verander.
Ralph Davis, kommentaar op 2 Kon 19.

2011/09/27

Net om onsself?

As ons geregtigheid liefhet wanneer dit om onssself gaan, maar nie wanneer dit om ander gaan nie, is dit onsself wat ons liefhet, nie geregtigheid nie. As ons vryheid liefhet wanneer dit om onsself gaan, en nie wanneer dit om die hele wêreld gaan nie, het ons dit lief as 'n selfsugtige luukse, nie as beginsel nie.
Josiah Strong