Lees: Mt. 22:15-22
Gedagte vir kinders: Wees
gehoorsaam aan die regering, maar nog meer aan jou God.
Oorsig: Nadat die Here Jesus die
tempel gereinig het en die volgende dag die volk weer deur gelykenisse geleer
het, het die leiers van die volk Hom probeer vang met sy eie woorde. Hulle het
drie vrae vir hom gevra en daarna het Hy aan hulle een vraag gevra. Hierdie
vier sake is vandag nog belangrik. Dit gaan oor (1) ons verhouding met die
regering (v.15-22), (2) die lewe na die dood (v.23-33), (3) die belangrikste
sake in God se wet (v.34-40), en (4) die identiteit van die ware Messias (v.
41-46). Hier fokus ons op die eerste saak in vers 15 tot 22.
Die Fariseërs, die mense wat streng volgens hulle tradisie,
die mense aan die wet van God gehou het, het by mekaar gekom (saam raad gehou).
Hulle het saam beplan hoe hulle dIe Here Jesus met sy eie woorde kon vasvang in
’n slagyster (verstrik; v.15). Toe het hulle hul dissipels (let wel) met ’n
plan na die Here Jesus gestuur, saam met Herodiane. Die Herodiane was mense wat
die koningskap van Herodes gesteun het, alhoewel Herodes eintlik ’n koning uit
die geslag van Esau (Edomiet) was en nie uit die geslag van Dawid nie. Herodiane
het met die Romeinse regering saamgewerk en meer na hul eie mag gekyk as na die
Woord van God. Nou het hierdie twee verskillende groepe, Fariseërs en Herodiane
wat eintlik min met mekaar saamgestem het, ’n gemeenskaplike teenstander gehad.
Die skrikwekkende was dat hulle saamgespan het in hulle vyandigheid teen die
Here Jesus (vgl. Ps. 2). Hulle het toe saam na Christus gegaan en begin met
vleitaal. Hulle het Hom Meester genoem en gesê dat hulle weet dat Hy (1)
waaragtig is en (2) die weg van God in waarheid leer, (3) en Hom aan niemand
steur nie, omdat Hy (4) nie die persoon van mense aansien nie (v. 15-16). En
toe kom hulle strikvraag: Wat dink U: Is dit reg om aan die keiser belasting te
betaal of nie (v.17).
Die Here het egter hulle boosheid (let wel) bemerk (v.18) en
vir hulle gesê: “ Julle skynheiliges, waarom versoek julle my? Wys vir my die belastingmunt.”
Hulle het toe vir Hom ’n penning gebring (v.19) en toe het Hy vir hulle gevra wie
se beeld en opskrif op die geldstuk is (v.20). Hulle het geantwoord dat dit die
van die keiser was. Daarop het Hy vir hulle gesê: Betaal dan aan die keiser wat
die keiser toekom, en aan God wat God toekom (v.21). Toe die mense dit hoor,
was hulle verbaas en het Hom verlaat en weggegaan (v.22).
Besprekingsvraag: Watter twee
sake moet ons oor die regering gelyktydig handhaaf?
Insig: Die verhouding tussen Kerk en staat is iets waaroor Christene hulself telkens moet verantwoord. Op briljant eenvoudige wyse leer ons Here ons hier twee basiese dinge oor die staat, ook die heidense staat. Hou ingedagte dat dit hier spesifiek gaan oor kolonisering en die gekoloniseerdes en al die emosie oor belasting wat daarmee saamgaan. Wanneer ons bepaalde voordele gebruik wat die owerheid daarstel, kom (1) sekere belasting hulle toe. Andersyds het hulle (2) bepaalde beperkings.