2023/10/25

Oor die reg en grense van owerhede

Lees: Mt. 22:15-22

Gedagte vir kinders: Wees gehoorsaam aan die regering, maar nog meer aan jou God.

Oorsig: Nadat die Here Jesus die tempel gereinig het en die volgende dag die volk weer deur gelykenisse geleer het, het die leiers van die volk Hom probeer vang met sy eie woorde. Hulle het drie vrae vir hom gevra en daarna het Hy aan hulle een vraag gevra. Hierdie vier sake is vandag nog belangrik. Dit gaan oor (1) ons verhouding met die regering (v.15-22), (2) die lewe na die dood (v.23-33), (3) die belangrikste sake in God se wet (v.34-40), en (4) die identiteit van die ware Messias (v. 41-46). Hier fokus ons op die eerste saak in vers 15 tot 22.  

Die Fariseërs, die mense wat streng volgens hulle tradisie, die mense aan die wet van God gehou het, het by mekaar gekom (saam raad gehou). Hulle het saam beplan hoe hulle dIe Here Jesus met sy eie woorde kon vasvang in ’n slagyster (verstrik; v.15). Toe het hulle hul dissipels (let wel) met ’n plan na die Here Jesus gestuur, saam met Herodiane. Die Herodiane was mense wat die koningskap van Herodes gesteun het, alhoewel Herodes eintlik ’n koning uit die geslag van Esau (Edomiet) was en nie uit die geslag van Dawid nie. Herodiane het met die Romeinse regering saamgewerk en meer na hul eie mag gekyk as na die Woord van God. Nou het hierdie twee verskillende groepe, Fariseërs en Herodiane wat eintlik min met mekaar saamgestem het, ’n gemeenskaplike teenstander gehad. Die skrikwekkende was dat hulle saamgespan het in hulle vyandigheid teen die Here Jesus (vgl. Ps. 2). Hulle het toe saam na Christus gegaan en begin met vleitaal. Hulle het Hom Meester genoem en gesê dat hulle weet dat Hy (1) waaragtig is en (2) die weg van God in waarheid leer, (3) en Hom aan niemand steur nie, omdat Hy (4) nie die persoon van mense aansien nie (v. 15-16). En toe kom hulle strikvraag: Wat dink U: Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal of nie (v.17).      

Die Here het egter hulle boosheid (let wel) bemerk (v.18) en vir hulle gesê: “ Julle skynheiliges, waarom versoek julle my? Wys vir my die belastingmunt.” Hulle het toe vir Hom ’n penning gebring (v.19) en toe het Hy vir hulle gevra wie se beeld en opskrif op die geldstuk is (v.20). Hulle het geantwoord dat dit die van die keiser was. Daarop het Hy vir hulle gesê: Betaal dan aan die keiser wat die keiser toekom, en aan God wat God toekom (v.21). Toe die mense dit hoor, was hulle verbaas en het Hom verlaat en weggegaan (v.22).  

Besprekingsvraag: Watter twee sake moet ons oor die regering gelyktydig handhaaf?

Insig:  Die verhouding tussen Kerk en staat is iets waaroor Christene hulself telkens moet verantwoord. Op briljant eenvoudige wyse leer ons Here ons hier twee basiese dinge oor die staat, ook die heidense staat. Hou ingedagte dat dit hier spesifiek gaan oor kolonisering en die gekoloniseerdes en al die emosie oor belasting wat daarmee saamgaan. Wanneer ons bepaalde voordele gebruik wat die owerheid daarstel, kom (1) sekere belasting hulle toe. Andersyds het hulle (2) bepaalde beperkings.

Dit wat God toekom, kan nie aan die staat toegesê word nie. Die keiser se beeld is op die geld, maar God se beeld is op die mens self geplaas. Aan die Here kom toe al ons aanbidding en toewyding, nie die staat nie. Daarom is daar grense van gehoorsaamheid aan die staat is (vgl. Hand. 5:29). Onthou ook dat ons selfs in ’n ideale regering uiteindelik gaan sterwe en voor God gaan staan (vgl. Luk 12:5). Die goeie nuus is dat Jesus Christus juis gekom het om Homself oor te gee onder ’n slegte owerheid en leiers, om ons los te koop van die vrees vir die dood asook vrees vir bose regerings.

 Die Nuwe Testament gee basiese riglyne oor die ongelowige staat (vgl. v. 21; Hand. 5:29; Rom. 13:1-7; 1 Tim. 2:1-7; Titus 3: 1-2; 1 Pt. 2:13-17; Openbaring 13, 18). Ons moet egter in navolging van NGB 36 ook riglyne onthou vir ’n gelowige regering. Teopolitiek word daarom nie net uit die Nuwe Testament afgelei nie. Ons lees saam met die Reformatore die hele Bybel as ’n eenheid in Christus. Daarom maak ons ook afleidings oor altaar en troon wanneer ons in die Ou Testament lees oor priester, profeet en koning. Beide Kerk en staat moet uiteindelik onder heerskappy van die Seun staan (Ps. 2). Ook die owerheid moet gekersten (verchristelik) word deur die suurdeeg van die evangelie. So ontwaak die staat ook  uit die bose droom dat hy God is (Van Ruler). Andersins word die staat so maklik ondier en Leviatan.

In Christus mag ons bou aan ’n vrye samelewing wat heenwys na die nuwe Jerusalem. Ons mag daarna strewe om ’n Christelike owerheid te hê (NGB 36), en selfs ’n gemenebes van nasies onder Christus. Maar altyd so dat die owerheid haar (1) voorregte maar ook (2) beperkinge ken. Hoe kom ons daarby uit? Deur juis die tipe lewe te lei wat die vleiers (vgl. Ps. 12:3-4) aan Christus toegedig het: Leef opreg voor God. Moenie vra wie of wat  belangrik is in wêreldse opinies nie, maar vra na God se wil (vgl. v.16). Daar is Een wat reeds hierdie weg volmaak gestap het om ons vry te koop vir so ’n lewe. Moet daarom nie strategies probeer lewe tussen die magte om posisies te behou nie. Leef eerder konsekwent, soos Daniel, binne en buite die leeukuil sodat ons voor konings en regerings vir Hom mag getuig. En mag wens dat hulle soos ons is: Gedoop en onderworpe aan sy Woord (D. Wilson; vgl. Hand. 26:29).

Werke geraadpleeg

John Bergsma, The Word of the Lord. Year A.

Frederick D Bruner, Matthew: A Commentary.  (Bruner wys op die volgende belangrike bronne oor Kerk in Staat: By Calvyn Inst. 4:20, en by Luther se werke, LW, deel 44-47).

Lawrence R Farley, The Gospel of Matthew: Torah for the Church.