Gedagte vir kinders: Die doop getuig daarvan dat ons nuutgemaak is deur
Jesus Christus.
Oorsig: Die boek Handelinge eindig met die
evangelie wat in die hoofsentrum van die wêreld van daardie tyd verkondig word.
Net daarna vind ons die boek Romeine wat Paulus reeds geskryf het toe hy nog op
pad was na Rome. Hierin kry ons een van die mees geordende uiteensettings van
die evangelie in die Bybel. Dit het meermale al gelei tot vernuwing en
reformasie in die Kerk van Jesus Christus. Paulus begin sy brief deur eerstens daarop te
wys dat die hele wêreld, die heidene (Rom.1), maar ook Israeliete van die ou
verbond (Rom. 2 en 3), skuldig en verdoem staan voor God. Maar dan verkondig hy
die evangelie van Jesus Christus wat sonder enige aandeel van ons die
verlossing vir ons gebring het (Rom.3). Hy verduidelik waarom hierdie
evangelie en die genade daarvan reeds by
Abraham en die ou verbond gegeld het (Rom. 4) en gaan dan verder om te
verduidelik waarom die genade en die geloof ons laat deel aan Jesus Christus se
redding eerder as aan Adam se sondeval. (Rom. 5).
In hoofstuk 6 begin hy om te
verduidelik dat die oorweldigende genade van Christus oor elke sonde sedert
Adam nie beteken dat ons nou kan doen wat ons wil sodat die genade so eintlik net
meer kan word nie. Dit is beslis nie so nie en die rede is dat jy dan nie
verstaan waarin jy deel kry deur jou doop nie. In en deur die doop word jy
ingelyf in Jesus Christus se kruisiging en sterwe en begrafnis. Dit beteken dat
jy in en deur Hom ook die sonde afgesterf het. Dit is een van die basiese
betekenisse van die doop (v.1-3). Ons moet verstaan dat die doop bevestig dat
ons daarom dood is en dat ons saam begrawe is met Christus. Saam met Hom is ons
egter ook opgewek deur die heerlikheid van die Vader om in ’n nuwe lewe te
wandel. Ons is dus ingeplant in Hom om saam te groei in sy dood en verwag ook
so om saam met Hom te deel in sy opstanding (v.4-5).
Ons oue mens is dus saam met
Christus gekruisig sodat ons dood is vir ons ou lewe en die sonde nie meer dien
nie. Net mense wat gesterf het kan klaar wees met die sonde-probleem. As ons dan saam met Christus gesterf het, glo
ons dat ons ook saam met Hom sal lewe (v. 6-8). Ons weet dit omdat Jesus
Christus na sy opwekking uit die dode, nooit weer kan sterf nie. Die dood heers
eenvoudig nie meer oor Hom nie. Sy dood op aarde was eens en vir altyd, maar sy
lewe nou is vir God. Daarom moet ons nou goeie rekenkunde doen wat op die feite
gegrond is. Ons is dood vir die sonde en lewend vir God in Christus Jesus onse
Here (v.9-11).
Besprekingsvraag: Watter dele uit die Ou Testament bevat reeds die boodskap
van die doop?
Insig: Die ontsaglike en onverdienstelike genade wat God in Jesus Christus aan ons bewys, is so groot dat dit gerus meer as ons asem kan wegslaan. Iewers dring die vraag egter na vore wat so ’n groot genade wat altyd groter is as ons sonde, dan beteken vir ons moraliteit en ons etiek. Deur die eeue was daar diegene wat sulke genade goedkoop en ’n vrypas vir die sonde wou maak. Reeds in Martin Luther se tyd was daar reeds radikale hervormers wat die boodskap verkondig het dat jy eintlik nou kan maak wat jy wil, en in ons dag is daar die liberale Protestantisme wat ook duidelik hierdie weg opgaan en die toekoms van die Weste wat hierdeur in gedrang is. Die antinominanisme in die Kerk van elke eeu gebruik dan ook telkens een of ander vorm van die argument: Ons is mos nou vry van die wet. Dink egter aan die Israeliete wat bevry is en deur die Rooi See gegaan het. Was hulle vry om te doen wat hulle wou? Dink aan die verlore seun wat teruggekeer het. Kon hy na ’n ruk maar begin somme maak om dieselfde optrede van vroeër nogeens te beproef sonder dat enigiemand gewonder het dat hy al werklik gesnap het wat gebeur het?