Gedagte vir kinders: Die doop getuig daarvan dat ons nuutgemaak is deur
Jesus Christus.
Oorsig: Die boek Handelinge eindig met die
evangelie wat in die hoofsentrum van die wêreld van daardie tyd verkondig word.
Net daarna vind ons die boek Romeine wat Paulus reeds geskryf het toe hy nog op
pad was na Rome. Hierin kry ons een van die mees geordende uiteensettings van
die evangelie in die Bybel. Dit het meermale al gelei tot vernuwing en
reformasie in die Kerk van Jesus Christus. Paulus begin sy brief deur eerstens daarop te
wys dat die hele wêreld, die heidene (Rom.1), maar ook Israeliete van die ou
verbond (Rom. 2 en 3), skuldig en verdoem staan voor God. Maar dan verkondig hy
die evangelie van Jesus Christus wat sonder enige aandeel van ons die
verlossing vir ons gebring het (Rom.3). Hy verduidelik waarom hierdie
evangelie en die genade daarvan reeds by
Abraham en die ou verbond gegeld het (Rom. 4) en gaan dan verder om te
verduidelik waarom die genade en die geloof ons laat deel aan Jesus Christus se
redding eerder as aan Adam se sondeval. (Rom. 5).
In hoofstuk 6 begin hy om te
verduidelik dat die oorweldigende genade van Christus oor elke sonde sedert
Adam nie beteken dat ons nou kan doen wat ons wil sodat die genade so eintlik net
meer kan word nie. Dit is beslis nie so nie en die rede is dat jy dan nie
verstaan waarin jy deel kry deur jou doop nie. In en deur die doop word jy
ingelyf in Jesus Christus se kruisiging en sterwe en begrafnis. Dit beteken dat
jy in en deur Hom ook die sonde afgesterf het. Dit is een van die basiese
betekenisse van die doop (v.1-3). Ons moet verstaan dat die doop bevestig dat
ons daarom dood is en dat ons saam begrawe is met Christus. Saam met Hom is ons
egter ook opgewek deur die heerlikheid van die Vader om in ’n nuwe lewe te
wandel. Ons is dus ingeplant in Hom om saam te groei in sy dood en verwag ook
so om saam met Hom te deel in sy opstanding (v.4-5).
Ons oue mens is dus saam met
Christus gekruisig sodat ons dood is vir ons ou lewe en die sonde nie meer dien
nie. Net mense wat gesterf het kan klaar wees met die sonde-probleem. As ons dan saam met Christus gesterf het, glo
ons dat ons ook saam met Hom sal lewe (v. 6-8). Ons weet dit omdat Jesus
Christus na sy opwekking uit die dode, nooit weer kan sterf nie. Die dood heers
eenvoudig nie meer oor Hom nie. Sy dood op aarde was eens en vir altyd, maar sy
lewe nou is vir God. Daarom moet ons nou goeie rekenkunde doen wat op die feite
gegrond is. Ons is dood vir die sonde en lewend vir God in Christus Jesus onse
Here (v.9-11).
Besprekingsvraag: Watter dele uit die Ou Testament bevat reeds die boodskap
van die doop?
Insig: Die ontsaglike en onverdienstelike genade wat God in Jesus Christus aan ons bewys, is so groot dat dit gerus meer as ons asem kan wegslaan. Iewers dring die vraag egter na vore wat so ’n groot genade wat altyd groter is as ons sonde, dan beteken vir ons moraliteit en ons etiek. Deur die eeue was daar diegene wat sulke genade goedkoop en ’n vrypas vir die sonde wou maak. Reeds in Martin Luther se tyd was daar reeds radikale hervormers wat die boodskap verkondig het dat jy eintlik nou kan maak wat jy wil, en in ons dag is daar die liberale Protestantisme wat ook duidelik hierdie weg opgaan en die toekoms van die Weste wat hierdeur in gedrang is. Die antinominanisme in die Kerk van elke eeu gebruik dan ook telkens een of ander vorm van die argument: Ons is mos nou vry van die wet. Dink egter aan die Israeliete wat bevry is en deur die Rooi See gegaan het. Was hulle vry om te doen wat hulle wou? Dink aan die verlore seun wat teruggekeer het. Kon hy na ’n ruk maar begin somme maak om dieselfde optrede van vroeër nogeens te beproef sonder dat enigiemand gewonder het dat hy al werklik gesnap het wat gebeur het?
Paulus antwoord met ’n besliste, selfs donderende, “Nee,
stellig nie!” (v.2). Hy toon dan dat jy so enersyds nie besef waarom Jesus
Christus moes sterwe en opstaan nie en andersyds nie besef watter totale
koersverandering, nuwe lewe, dit beteken dat jy in die Naam van Hom en sy werk
gedoop is nie (v.4). Die doop is ’n teken en beseëling van afwassing, maar dit
is ook ’n prentjie, ’n teken en beseëling, van dit wat Jesus Christus vir ons
moes deurgaan in sy sterwe, begrafnis, en opstanding. Van die begin van die
Bybel af kry ons hierdie beelde van waters wat verwys na grensgebeure tussen
dood en lewe. Dink aan de skepping en aarde wat uit die waters te voorskyn
geroep word om lewe te bring aan plant, dier en mens. Dink aan die sondvloed
waarin net agt mense deur water heen gered is en wat Petrus spesifiek in
verband bring met die doop (1 Pet. 3:20-21). Dink aan die groot beeld van
bevryding in die Ou Testament, die uittog deur die Rooi See en wat Paulus ook
verbind met ’n soort doop in Moses (1 Kor. 10:1-2). In sy bediening het die
Here Jesus ook na sy kruisiging verwys as ’n doop om mee gedoop te word wat Hom
in sy menslikheid vooraf baie benoud gemaak het (Mark 10:38-39; Luke 12:50).
Om gedoop te word in Christus, beteken dat jy ingelyf word in
Christus en in sy werk. Dit beteken ook dat jy ingelyf word in sy liggaam, die
Kerk (HK 27, antw. 74). Die doop is ’n inisiasie in die nuwe lewe waar Adam en die
sondeval nie oor jou heers nie, maar Christus en die nuwe lewe in Hom. Die doop
is daarom ook die inisiasie in geloof en regverdiging en die bekeerde lewe.
Daarom mag die doop nie net as ’n teken verstaan word nie. Daar gebeur iets
amptelik, ’n inlywing. Daarin word verklaar dat iemand in lewe en sterwe aan
Christus behoort en daarom nie aan die satan, of die sonde of die dood nie.
Wie dit besef, weet dat dit onmoontlik is om nou te redeneer
in terme van valse vryheidsopvattings. Daarom word ons hier opgeroep om te weet
(v.3) en te reken (v.11). Dit beteken dat goeie lering belangrik is sodat jy
sal weet, en dat die oproep om dit te laat geld in jou lewe belangrik is sodat
reg kan reken. “Reken” (logizomai)
beteken nie hier maak-asof nie, maar is ’n woord uit die wêreld van boekhouding
waarin jy rekening hou met die feite, in hierdie geval die heilsfeite. Die
heilsfeite is buitekant onsself vas en seker in wat Christus gedoen het. Hy is
gekruisig en Hy is begrawe, so dood as kan kom. Maar Hy het ook opgestaan sodat
die dood nooit meer oor Hom sal heers nie. En sy persoonlike ervaring, word ons
deel deur ons verbondenheid aan Hom. Dit is nou ook jou geestelike werklikheid
sodat jy dit moet weet en daarop moet reken dat ook jou ou mens gekruisig is om
vir God te lewe (vgl. Gal. 2:20). Die ou mens en die ou Adam se lot is nie
joune nie. Jou doop getuig daarvan. Kyk daarom weer ’n slag in die geloof na
Jesus Christus en vergelyk Hom met ander sogenaamde verlossers as jy wil. Van
wie kan met oortuiging gesê word: “Die dood heers oor Hom nie meer nie” (v.9)?
Verlustig jou in hierdie blye wete.
Dit is hierdie Jesus wat ook gekom het om te sterf sodat ons
in Hom kan sterwe. Die dood vereffen alle skulde, sê die Reg. Dit is ook die
enigste raad met ons skuld. Ook ons moes sterwe vanweë ons sonde. Daarom het
Christus gekom in ons plek sodat ons deur sy sterwe klaar kan wees met die ou
lewe van Adam. Meer nog, Hy het ook opgestaan sodat die lewe vir God ook ons
realiteit kan wees. Dit is waarvan jou doop spreek en dit is nou jou
werklikheid. Daarom kan ons ons lewe nie beskikbaar stel aan sonde nie, maar eerder
aan God (v.12-13).
Wat beteken dit in die praktyk? Ons maak die ou lewe dood
deur eerstens dit te glo dat die probleem van ons ou lewe in Adam in beginsel
reeds en finaal in Christus beantwoord is. Dit beteken tweedens dat ons
daagliks die geringste tekens van die ou lewe hanteer soos wat ons klein
onkruid in ’n skoon tuin hanteer - wanneer relatief maklik is om dit uit te
trek. Tussen-in is daar soms situasies waarin ons soms te lank sekere sonde
begin toelaat het en waar jy dan ekstra hulp nodig het om die tuin te ontbos. Dit
vra meer werk in sy Naam, en in die krag van die Heilige Gees. Wanneer dit dan wel
reg hanteer is, gaan die daaglikse proses steeds van klein onkruid steeds voort
(Wilson). Maar dit alles is net moontlik omdat Jesus Christus deur sy sterwe en
opstanding vir ons die nuwe lewe ingebring het. Daarom is ons in Hom gedoop en
word ons opgeroep om in sy realiteit, die enigste ware realiteit, te wandel. In
Engels praat hulle soms daarvan om jou doop te verbeter/vernuwe (improve; vgl. Westminster groter
kategismus, vraag 167). Laat ons daarom leer en weet
wat Christus gedoen het, en wat dit
beteken om met die genade daarvan rekening te hou, en die lewe van ’n Christen lewe
waar die sonde en die dood nie meer ons ons heers nie.
Werke geraadpleeg:
Wright, NT, Romans: 18 Studies for individuals and
groups.
Bruner, FD, The Letter tot the Romans: A
Short Commentary.
Wilson, D. A Gospel for all Nations: Sermon Notes
on the Book of Romans.
Hahn, SW, Romans.
Thiselton, AC, Discovering Romans.