Wys tans plasings met die etiket Descartes. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Descartes. Wys alle plasings

2022/05/12

Geloof, begrip, genot

Dalk sê dit meer van myself as van my stelling, maar ek sal dit nogtans waag. Douglas Farrow is 'n gerekende yster-teoloog van ons tyd. Dit beteken nie dat hy my van sy kritiek op Protestante altyd oortuig nie, maar oor die lakmoestoets van etiese kwessies van die dag, is sy teologiese kleur gunstig. Kortom, hy straal die soort teologiese integriteit uit wat met my praat. Daar is natuurlik agt-silinders soos David Bentley Hart wat nou nie juis hiermee sal saamstem nie, maar nou-ja, iewers moet jy bereid wees om eerder ongewild te wees as ontrou aan hulle wat jou teologiese ingewande in beroering bring. Ek het nog nie volledig by Farrow se 2017-publikasie, Theological Negotiations, uitgekom nie, maar hier is 'n eerste motivering of twee waarom hy my ore laat spits. In sy inleiding stel Farrow die volgende (vertaal in Afrikaans): 

"Aquinas is natuurlik altyd onontbeerlik, en dikwels bevredigend. Waar hy egter nie bevredigend is nie, vind ek myself teruggedryf na Bybelse motiewe wat beter ontwikkel is in vroeëre denkers soos Irenaeus, Augustinus en Anselmus. Laasgenoemde het 'n groter rol kom speel as wat ek verwag het dat hy sou. Anselmus was die eerste een wat die omvang van die probleem van nominalisme teëgekom en begryp het, daardie filosofiese en teologiese en politieke beweging wat die Westerse beskawing so dramaties verander het en voortgaan, soos hoofstuk 7 opmerk, om dit vandag steeds te doen."