Wys tans plasings met die etiket De Lubac. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket De Lubac. Wys alle plasings

2020/05/24

De Lubac vir teologiese woestyne

Daar is sommige boeke wat mos maar net jou nommer het. Hulle het eenvoudig die vermoë om jou verbeelding aan die brand te laat slaan. Soms is dit sekerlik ook 'n geval van tydsberekening, want op 'n gegewe tyd en plek in jou lewe is jy net meer gereed, of eerder dalk ryp, vir sekere waarhede. Natuurlik sluit dit nie ons vra en soek uit nie en veral nie die belofte dat daar oopgemaak sal word vir die wat klop nie, maar dit is eenvoudig wonderlik wanneer op 'n woord op sy tyd vir jou 'n lafenis is soos goeie tyding uit 'n ver land. Vandag het iets hiervan my weer getref toe ek na ou aantekeninge kyk van Bryan Hollon se werk, Everything is Sacred: Spiritual Exegesis in the Political Theology of Henri de Lubac.

Hollon is eintlik hier 'n skrywer van die tweede orde, want inderwaarheid toon hy net die relevansie van Henri de Lubac se denke vir vandag aan. Ek het reeds by meer as een geleentheid hieroor in die publieke arena gepraat of geskryf. Vergelyk byvoorbeeld hierdie artikel oor die Vierperdewa. Maar my ou aantekeninge het die besef laat posvat dat sekere goud-ertse nog nie deur hierdie skrywer in die derde orde oor De Lubac, genoegsaam gedeel is nie. En in Afrikaans kan dit veral 'n bydrae wees in die veld van Hermes waar postmodernes bereid is om altyd nog 'n voordrag in die hermeneutiek aan te hoor oor die oneindige uitstel van betekenis. Nie dat hierdie bydrae dit wil aanhelp nie. Inteendeel. Maar laat my toe om die gaping te slaan terwyl nimmereindig dan ook plek maak hiervoor. En om eerlik te wees, ek interpreteer vir Hollon ruim in die lig van verdere leeswerk. Die rede is dat probeer word om die possie so bevatlik as moontlik in Afrikaans te maak, asook om aan te dui hoe reformerende ombouings dit op die beste moontlike wyse sou kon interpreteer. Nou-ja, hier gaan ons.  

Hollon wys hoe De Lubac die moontlikheid van sinvolle antwoorde anderkant hedendaagse bewegings bied - bewegings wat nogal die skaal in 'n postsekulêre rigting laat swaai. Hy gee punte vir die Postliberale en Radikale Ortodokse (RO) bewegings in die teologie, maar dan toon hy ook aan hoe De Lubac en die Nouvelle Theologie anderkant hierdie vermeldenswaardige projekte beweeg. Hier sal daar nie in diepte ingegaan word op sy betoog nie, maar daar sal wel 'n paar gedagtes deurgegee word wat soos water vir moeë lywe kan wees wat teologiese woestyne en mirage op mirage moet trotseer.

De Lubac het volgens Hollon 'n spesifieke opvatting van Christelike mistiek. Christelike mistiek kan vir De Lubac net een ding beteken en dit is vereniging met die Drie-enige God van die Christelike openbaring, en wat in Christus gerealiseer word deur sy genade (vgl. loc. 4205 van 6183). Christelike mistiek is daarom ook altyd Trinitaries. Vir De Lubac is Christelike mistiek daarom in wese niks anders nie as die deelnemende verstaan van die Heilige Skrif. Die misterie is dus deel van die betekenis en mistiek beteken, as ek reg verstaan, om die betekenis deelnemend te leer ken (vgl. loc. 4258). Die Skrif is daarom ook die prisma waardeur die Christologiese eenheid van die heelal begryp word. Sjoe, dit klink belowend, nie waar nie? Maar daar is meer.

Die geestelike eksegese van die Christelike Skrifte, soos beoefen deur die Patristiese en Middeleeuse teoloë, dien volgens De Lubac daartoe om die hele werklikheid te verlig in die lig van Christus. Vir De Lubac speel hierdie geestelike eksegese verder ’n konstitutiewe rol in die Kerk se deelname in die lewe van die Triniteit. En verder is De Lubac ook uitgesproke daaroor dat indien hierdie deelname in Christus verbygegaan word, daar verval word vanaf Christelike mistiek in natuurlike mistisisme. (vgl. loc. 4265). Maar wat kan dit alles vir ons vandag beteken?

Wel, om mee begin, dien Hollon 'n harde hou aan die geleerdes van RO-faam uit. Hy waardeer hulle wel, maar wys daarop dat die feitlik afwesige eksegetiese element van die Skrif in hulle bydraes oor die algemeen, die rede is waarom RO nie werklik anderkant die spekulatiewe dekonstruksie van die sekulêre lewe kan beweeg nie. En dit is juis hier waar hy van mening is dat De Lubac sterker nagevolg moet word deur die RO-mense wat hom as belangriker as Barth ag omdat hy die moderne dualisme oorkom het. Laat ons dan verder luister hoe De Lubac sy weergawe van Christelike mistiek toepas vanuit die Skrif. Hollon som dit op as die verstaan van die Skrif wat voortgaan vanaf geskiedenis na allegorie (d.w.s. die betekenis in Christus), na tropologie (moraliteit) in die najaag van die eskatologiese visie op God (anagogie) (vgl. loc. 4429). Ons sal langer by allegorie stilstaan, aangesien die ander fases daarin ingebed lê.

Allegorie, wat vandag so maklik as willekeurige vergeesteliking verstaan word, was volgens De Lubac egter iets heel anders in die beste hanterings van die kerkvaders. Dit was die middel waardeur die Jesus van die geskiedenis ook as die alomteenwoordige Christus gesien is en in samehang hiermee was tropologie (die morele dimensie) die wyse waardeur die Kerk kon deelneem aan Christus (vgl. loc. 4486). Wat allegorie betref, is geglo dat geestelike betekenis reeds in die geskiedenis opgesluit lê en dat dit daarom profeties ingeskryf is in die feite, en so is die alomteenwoordigheid van Christus, die Logos, dan veronderstel. Dit beteken dus dat die aanname van allegoriese interpretasie eintlik groots was. Dit is dat daar 'n ontologiese verbondenheid tussen die Ou Testament en die Messias is en nie bloot 'n ekstrinsieke (veruitwendigde) ooreenkoms nie. Du Lubac kies daarom teen die begrip tipologie omdat dit volgens hom nog te veel net op die oppervlakte bly en nie genoegsaam die volle ontologiese verbondenheid veronderstel nie. Allegoriese betekenis verenig vir De Lubac nie net die heilsgeskiedenis nie, maar ook die Kerk se teenwoordigheid en toekoms in 'n ontologiese band (vgl. loc. 4501). So vind hierdie tipe allegoriese uitleg in Christus oral ongeforseerd in die Ou Testament plaas en stel so die Kerk in staat om Christus ook oral in die hede en in die toekoms te sien (vgl. loc. 4534). Dit bied dan ook die egte grond om by die morele implikasies van die teks - tropologie - stil te staan. 

2017/02/21

Teologiese sterre - stigters of getuies?

Dit maak nogal 'n verskil of jou teologiese sterre deel van 'n groter konstellasie vorm en of hulle eintlik planete word waarom jy weer en weer wentel. In die teologie is daar sekerlik vir beide benaderings 'n plek, op voorwaarde dat die Son van Geregtigheid die eintlike verwysingspunt bly. En tog is dit so dat egte katolisiteit nie maar net wil wentel rondom een ster nie, maar die volheid in die oog wil kry. Jy kan nie anders as om vanaf 'n bepaalde ster te lanseer nie, veral as dit so 'n soliede een is, maar uiteindelik is daar tog verdere vistas moontlik. 

In my eie tradisie het ek al gewonder watter verskil dit in aanpak sou maak indien Johannes Calvyn byvoorbeeld nie as enigste basiese verwysingspunt gebruik word nie (dikwels ook meer volgens hoorsê), maar konsekwent eerder as deel van 'n groter skare kerkvaders. Skaars was hierdie gedagtes koud, toe ek onlangs op 'n besinning van Nicholas Healy in verband met Thomas Aquinas afkom. Healy neem die Franse reformatoriese Rooms-Katoliek, Henri de Lubac, se deelnemende interpretasie van Aquinas oor natuur en genade in beskerming teenoor sy onlangse neo-Thomistiese kritici. Formidabele figure soos Lawrence Feingold, Ralph McInerny, Reinhard Hütter en Stephen Long getuig dat De Lubac se deelnemende Thomas-vlag nie die volle Aquinas-lading dek nie. Thomas se tekste oor natuur en genade word, veral deur Feingold se bydrae, tot op mikro-vlak oopgedek. Volgens getuies kan De Lubac se interpretasie van Thomas nie hierdie mikroskoop-behandeling deurstaan nie. Sy sogenaamde horisonverskuiwende interpretasies van die man van Aquino wat hom nie dualisties wil verstaan oor natuur en genade nie, maar eerder as 'n paradoksale eenheid, moet gevolglik met 'n rooi gesig agter gelaat word. 

Nie so vinnig nie, maan Healy egter. Hy is van mening dat daar benaderings in die interpretasie-metodiek is wat uit die oog verloor word wanneer die kamera te veel op nabyskote die aandag vestig. Luister 'n mens na Healy, besef jy vinnig dat sy woorde op meer as een groot kerkfiguur van toepassing gemaak kan word:

"De Lubac interprets Thomas as an authoritative witness to a tradition that precedes him. This is the reason why de Lubac is constantly citing earlier voices in the tradition—Irenaeus, Augustine, Gregory of Nyssa, Maximus the Confessor, Bernard of Clairvaux, Anselm — precisely in order to shed light on the teaching of Thomas Aquinas. And this is the reason why de Lubac’s writings on nature and grace are saturated with references to Scripture. Feingold, on the contrary, simply begins with Aquinas and then microscopically traces the tradition of commentary on Aquinas’s writings. In other words, Feingold takes Aquinas as constituting a tradition.