Gedagte vir kinders: Die
Here roep ons om ons talente vir Hom te gebruik.
Oorsig: Nadat die Here Jesus die
gelykenis van die vyf dwase en verstandige maagde vertel het, het Hy nog ’n
gelykenis vertel om dit verder te verduidelik: Daar was ’n man wat op reis sou gaan
en hy het sy diensknegte geroep en sy besittings aan hulle toevertrou. Aan die
een het hy vyf talente gegee en aan ’n ander een twee, en aan ’n ander, een
talent. ’n Talent was meer as 6000 maal meer as ’n dagloon werd (Dus in 2023 ongeveer
5 x 6000 x R300 = R9 000 000). Hy het aan elkeen volgens hulle vermoë gegee. En
toe het hy dadelik op reis gegaan (v.14-15). Die een met vyf het toe daarmee
gaan werk en vyf ander talente verdien en die een met twee het net so twee
ander verdien. Maar hy wat een ontvang het, het dit in die grond begrawe en die
geld van sy heer weggesteek sodat dat niemand dit kon steel nie (v.16-18).
Na ’n lang tyd het die heer van daardie diensknegte gekom en verslag
gevra van sy werkers. Die een wat vyf talente ontvang het, kom toe en bring die
vyf ander talente wat hy daarby verdien het. Die heer het vir hom gesê: Mooi
so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou
aanstel. Gaan in om deel te wees van die blydskap wat jou heer (v.19-21). Net
so het die een wat twee talente ontvang het, verslag gedoen van die twee
talente wat hy daarby verdien het. Die heer het vir hom toe letterlik presies
dieselfde woorde gesê as vir die een wat vyf talente by sy vyf ander verdien
het (v.22-23).
Toe kom die een wat een talent ontvang het ook en sê: Meneer,
ek het u geken en geweet dat u ’n harde (sterk) man is wat (kan maak wat u wil
en wat) oes waar u nie gesaai het nie en kan bymekaarmaak waar u nie
uitgestrooi het nie. Dit het my bang gemaak, en ek het gegaan en die talent in
die grond (veilig) weggesteek. Hier is dit dan nou terug wat aan u behoort
(v.24-25). Maar die heer het geantwoord: Jou slegte en lui dienskneg. As ek dan
oes waar ek nie gesaai het nie en bymekaarmaak waar ek nie uitgestrooi het nie,
moes jy moes my geld eerder by die wisselaars gegee het sodat ek by my koms
rente sou ontvang (v.26-27). En toe het die eienaar gesê dat hulle die talent
moes wegneem en gee aan die een wat tien talente het. Hy het gesê dat aan
elkeen wat het, gegee sal word en oorvloed sal hê; maar van hom wat nie het
nie, weggeneem sal word ook wat hy het (v.28-29). Hy het verder beveel dat hulle
die nuttelose dienskneg moes uitwerp in die buitenste duisternis waar daar
groot verwyt sal wees - ’n geween en gekners van tande - omdat dit vir altyd te
laat sal wees (v.30).
Besprekingsvraag: Watter
twee visies op God en die lewe vind ons hier?
Insig: Ons sien hier twee soorte reaksies wanneer mense voor God sal staan. In die vorige gelykenis is die verdeling helfte-helfte; hier is dit twee derdes teen een derde. Dit is belangriker dat die twee soorte reaksies hier uitgeken word. Twee diensknegte kom met vrymoedigheid voor die meester te staan en is selfs opgewonde oor die vrug van hul hande en dit eindig in vreugde. Hoe wonderlik sal dit nie wees om op die laaste dag so voor Hom te verskyn nie! Die ander een kom met vrees en met verskonings en bedekte verwyte. Kom ons kyk in groter diepte na hierdie twee benaderings tot God en die lewe en hul eindbestemmings.