2022/12/17

Wanneer die Paradys terugkeer

Lees: Jes. 11:1-10

Gedagte vir kinders: Jesus Christus was vol van God se Gees en so het Hy ons verlos.  

Oorsig: Die profeet Jesaja het vertel van God se oordeel, maar Hy het die mense ook telkens gewys op die Messias wat sou kom. In Hoofstuk 11 profeteer hy dat ’n takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai en dat ’n loot uit sy wortels sal vrugte dra (v.1). Isai was die pa van Koning Dawid (1 Sam. 16:1) en Jesaja profeteer dus in digterlike taal dat al lyk dit of die stomp afgekap is van die Konings wat uit Isai en Dawid gebore sou word, daar iewers in die toekoms ’n nederige nuwe begin sal wees. En op hierdie Persoon sou die Gees van die Here nie net kom nie, maar op Hom rus. Die Gees van die Here word hier soos ‘n kandelaar voorgestel uit wie ses kenmerke  voortkom. Hy word die Gees van wysheid en verstand genoem, wat te make het met die vermoë om te heers. Hy word ook genoem die Gees van raad en sterkte (die vermoë om uit te voer wat Hy beplan). Hy word ook genoem die Gees van kennis en van die vrees van die Here (geestelike vermoë  - v.2). Ons hoor verder dat hierdie Messias vreugde vind in (behae het/wakker is – letterlik dit kan ruik) die vrees van die Here (sy diens). Ons verneem ook dat Hy nie sal regspreek volgens wat mense kan sien of volgens hoorsê nie (v.3). Hy sal eerder reg aan die armes doen en die nederiges regverdig oordeel. En Hy sal deur sy mond en asem die goddelose doodmaak (v.4). Hy sal met sy geregtigheid so gereed soos ’n gordel om sy lendene en met getrouheid so gereed soos die gordel om die heupe wees (v.5). 

En dan begin Jesaja om te vertel van die herstel wat hierdie Messias sal bring. Die toestand sal weer soos in die tuin van Eden in die begin wees, want die wolf sal by die lammetjie wei en die luiperd gaan staan nie net nie, maar gaan lê by die bokkie. En die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee lê almal bymekaar. Hulle is so rustig dat ’n klein seuntjie hulle kan aanjaag (v.6). Die koei en die beerwyfie wei saam en hulle kleintjies lê bymekaar en ook die leeu eet nie meer vleis nie, maar strooi soos ’n os (v.7 - vgl. Gen. 1:30). En die baba (suigling) speel by die gat van ’n adder en steek sy hand uit na die woonplek van ’n giftige slang sonder om seer te kry (v.8). Niemand doen enige kwaad of slegte dinge op die Here se heilige berg nie, daar waar die Paradys eens was (vgl. Es. 28:13-14). En hierdie berg is nou eintlik die hele aarde wat vol is van die kennis van die Here soos wat die waters die seebodem volmaak (v.9). In daardie tyd sal die nasies vra na Hom wat die wortel (nie net die takkie) van Isai en Dawid is en Hy sal ’n vaandel (banier) wees vir die volke. Ja, die nasies sal na Hom vra en sy woonplek sal vol heerlikheid wees (v.10).