2022/12/17

Wanneer die Paradys terugkeer

Lees: Jes. 11:1-10

Gedagte vir kinders: Jesus Christus was vol van God se Gees en so het Hy ons verlos.  

Oorsig: Die profeet Jesaja het vertel van God se oordeel, maar Hy het die mense ook telkens gewys op die Messias wat sou kom. In Hoofstuk 11 profeteer hy dat ’n takkie sal uitspruit uit die stomp van Isai en dat ’n loot uit sy wortels sal vrugte dra (v.1). Isai was die pa van Koning Dawid (1 Sam. 16:1) en Jesaja profeteer dus in digterlike taal dat al lyk dit of die stomp afgekap is van die Konings wat uit Isai en Dawid gebore sou word, daar iewers in die toekoms ’n nederige nuwe begin sal wees. En op hierdie Persoon sou die Gees van die Here nie net kom nie, maar op Hom rus. Die Gees van die Here word hier soos ‘n kandelaar voorgestel uit wie ses kenmerke  voortkom. Hy word die Gees van wysheid en verstand genoem, wat te make het met die vermoë om te heers. Hy word ook genoem die Gees van raad en sterkte (die vermoë om uit te voer wat Hy beplan). Hy word ook genoem die Gees van kennis en van die vrees van die Here (geestelike vermoë  - v.2). Ons hoor verder dat hierdie Messias vreugde vind in (behae het/wakker is – letterlik dit kan ruik) die vrees van die Here (sy diens). Ons verneem ook dat Hy nie sal regspreek volgens wat mense kan sien of volgens hoorsê nie (v.3). Hy sal eerder reg aan die armes doen en die nederiges regverdig oordeel. En Hy sal deur sy mond en asem die goddelose doodmaak (v.4). Hy sal met sy geregtigheid so gereed soos ’n gordel om sy lendene en met getrouheid so gereed soos die gordel om die heupe wees (v.5). 

En dan begin Jesaja om te vertel van die herstel wat hierdie Messias sal bring. Die toestand sal weer soos in die tuin van Eden in die begin wees, want die wolf sal by die lammetjie wei en die luiperd gaan staan nie net nie, maar gaan lê by die bokkie. En die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee lê almal bymekaar. Hulle is so rustig dat ’n klein seuntjie hulle kan aanjaag (v.6). Die koei en die beerwyfie wei saam en hulle kleintjies lê bymekaar en ook die leeu eet nie meer vleis nie, maar strooi soos ’n os (v.7 - vgl. Gen. 1:30). En die baba (suigling) speel by die gat van ’n adder en steek sy hand uit na die woonplek van ’n giftige slang sonder om seer te kry (v.8). Niemand doen enige kwaad of slegte dinge op die Here se heilige berg nie, daar waar die Paradys eens was (vgl. Es. 28:13-14). En hierdie berg is nou eintlik die hele aarde wat vol is van die kennis van die Here soos wat die waters die seebodem volmaak (v.9). In daardie tyd sal die nasies vra na Hom wat die wortel (nie net die takkie) van Isai en Dawid is en Hy sal ’n vaandel (banier) wees vir die volke. Ja, die nasies sal na Hom vra en sy woonplek sal vol heerlikheid wees (v.10). 

Besprekingsvraag: Hoe verneem ons hier van ’n nuwe Dawid, os  )), ’n Nuwe Adam en ’n nuwe Moses. Om die ware Adam, en Moses?

Insig: Wanneer bome afgebrand of afgekap word sodat daar net ’n stomp oorbly, besef ons dat oordeel aangebreek het. So was dit in die tyd van Jesaja met koning Agab se ontrouheid (Jes. 7). Die Here het Assirië gestuur en hulle grondgebied verwoes. Daar was ook nie veel hoop meer oor konings uit Dawid se nageslag nie. En tog profeteer Jesaja dat daar ’n takkie uit die stomp en ’n loot uit die wortels sou voortkom. ’n Baie nederige begin, en tog sou die Gees op hierdie Persoon rus. Wanneer Konings in Israel gesalf is, het die Gees oor hulle gekom en die gesalfde is Messias genoem, en in Grieks Christus. Jesaja profeteer nou oor die Messias/Christus wat sou kom en wat die Gees nie met mate sou hê nie (vgl. Joh. 3:34). Dit is sy koms wat ons in Kerstyd herdenk.

Hierdie Messias is hier ’n nuwe Dawid, os  )), ’n Nuwe Adam en ’n nuwe Moses. Om die ware ’n nuwe Adam, en ’n nuwe Moses. Hy sou meer as Dawid wees omdat Hy die oorwinning sou bring omdat Hy deur die Gees dit kon doen wat ons in ons vleeslikheid nie is of kan doen nie. Oordink biddend dit waarvan Hy vol is en hoe belangrik dit is dat daar so Een vir ons in die geskiedenis sou kom. Hy is vol wysheid en verstand en raad en sterkte en kennis en die vrees van die Here en geregtigheid en regverdigheid en trou. Hy is ook die nuwe Adam wat die paradystoestande terugbring. Treffende beelde oor wolwe en luiperde en leeus en slange aan die een kant, en lammers en bokkies en kinders en babas aan die ander kant word saam genoem. ’n Totale nuwe skepping is moontlik omdat die vyandskap deur die Messias weggeneem en ware vrede en geregtigheid ingebring is. Hy is ook dan ook die nuwe Moses, want as ons vanaf vers 10 deurlees tot vers 15, sien ons dat daar ook sprake is van ’n nuwe eksodus. Hy bring ware bevryding deur sy koms en kruis vir al die volke. Die Kerk van Christus is die vernaamste vervulling hiervan waar ons deur sy Woord oorwin word,  en ons en ons gesinne op grond van sy versoening laat doop, en in die nuwe lewe begin wandel. So beleef die nasies uiteindelik nuwe lewe. Eenmaal sal die Paradystoestande deur die Messias in die hele skepping sigbaar wees wanneer die persoonlike kennis van God oor die hele aarde sal wees.  

Sommige is van mening dat dit reeds in die geskiedenis gestalte begin kry soos wat die versoeningswerk van Christus effektief uitkring. Ander sê dit wys net na eendag. Ek sluit aan by eersgenoemde. Hoe ook al, ons behoort die eerste tekens daarvan nou reeds in die Kerk te begin dra omdat die Kerk nou gesalf is met dieselfde Heilige Gees as Hom aan wie ons verbind is. Hoe is dit moontlik? Deur ons verbondenheid aan  die Messias deur die geloof (vgl. Gal. 3:2,5). Ons word hier voorgestel aan die volmaakte deugde van die Messias  en die implikasie is dat ons onsself in sy deugde sal verlustig. Laat ons dit dan ook waardeer dat Hy wat gekom het, deur die Gees ons verlossing volledig kon bewerkstellig en deurvoer. En laat ons onsself ook nou aan die werking van sy Gees oorgee.    

Werke geraadpleeg:

Tim Chester, Isaiah for You.

J. Alec Motyer, Isaiah, Tyndale Old Testament Commentaries

John N Oswalt, NIV Application.

John Bergsma, The Word of the Lord. Year A.

Matthew Henry.