2011/11/27

Die ruggraat van kerksang

Indien jy wil weet waarom Psalms so belangrik is in die lewe van die Kerk, lees hier. Indien jy dalk dink dat Psalmsang dor en dooierig is, kyk na die insetsel hieronder. Psalm 98 is nou nie die bekendste Psalm by baie van ons nie, maar kyk wat word in hierdie insetsel daarmee gemaak. Waarskuwing: As jy hierdie insetsel kyk, mag jy dalk aangesteek word. Maar voor jy nie ag slaan op die waarskuwing nie, vergun my die geleentheid om James Hely Hutchinson se inleiding in 'n artikel oor Psalms en lofprysing te vertaal:

"Soos so baie aktiwiteite, is lofprysing vir ons beide natuurlik en onnatuurlik. CS Lewis het eenmaal opgemerk dat die nederigste en tegelyk mees gebalanseerde en ruim geeste die meeste lofsang openbaar tewyl die murmureerders, misplaastes en onvergenoegdes die minste lofsang openbaar. Lofprysing, het hy gekonkludeer, lyk byna asof dit innerlike gesondheid is wat hoorbaar gemaak word. Dit is die natuurlike oorloop van 'n hart wat verlustiging vind in 'n sekere objek (CS Lewis, Reflections, p.80-81). Aan die ander kant, soos Paul Beauchamp skrywe, is lofprysing nie natuurlik vir ons selfsug nie. Indien die boek van Psalms wel dit is wat in die tradisionele Hebreeuse titel beskryf word, "die boek van lofprysing" par excellence, is dit eenvoudig omdat die Psalmiste hulle gedagtes eindelik wegdraai van hulself en op die onderwerp van opperste verlustiging rig - die Skeppergod, Israel se Verlosser, die HERE self. Die noue verband tussen teologie en doksologie tree na vore by elke draai in die Psalms."

Die woorde (ongeveer) vir ondergenoemde insetsel is hier en hier te vinde. Nou-ja, jy kan nou die genoemde waarskuwing in die wind slaan as jy wil ....

2011/11/22

Konserwatiewe en progressiewe impulse

Die etikette "konserwatief" en "liberaal", "konserveer" en "progressief", "linkses" en "regses", sal nie gou verdwyn nie. Die belangrike vraag is egter hoe ons hierdie beskrywings gebruik en bestuur sodat ons nie net in blote brandmerkery verval nie. Twee riglyne hieroor is belangrik.

Eerstens, ons moet nooit vergeet om die volgende minimum vrae saam te neem nie: Konserwatief of liberaal volgens watter standaard? Met watter motief? Met watter eindddoel? Hierdie vrae klink dalk abstrak, maar wie hulle eerlik aan hulself en ander vra sal gou vind dat dit die hele prentjie verander. Dit gee belangrike konteks sodat ons eie blinde kolle darem so 'n bietjie kleiner kan word.

Tweedens, ons moet nooit vergeet dat die evangelie 'n tweesnydende swaard is wat beide konserveerders en progressiewes uitdaag nie. Hier is 'n onlangse vars en insiggewende bydrae wat dit vir ons in terme van die sabbat en die rus in Christus verduidelik. Dit is 'n insiggewende manier om te verduidelik hoe die evangelie weerbarstig is teenoor ons soms geykte hanterings van konserwatief en liberaal en dit bring ons hele kultuur en sosiale gewoontes in die prentjie. Ek dink nie ons kan sommer wegdoen met bogenoemde beskrywings nie. Maar een ding is seker: Ook ons woordeskat en beskrywings moet geheilig en gesuiwer word deur die lewende Woord en evangelie wat ons oorlegginge en gedagtes van die hart beoordeel (vgl. Hebr. 4:12). Die sin van die genoemde artikel is dat dit ons op 'n praktiese vlak uitdaag en aanmoedig. Dit gee nuwe visie oor waarmee ons reeds besig is en ook besig behoort te wees.

2011/11/19

Wat en hoe loop altyd saam

Hierdie gesprek het vir seker ook 'n ander kant, maar ons gaan hier stilstaan by die hand-in-eie-boesem kant. Dit gaan oor hoe mense diegene onder ons beleef wat sterk oortuiginge het. Daar is vir seker dikwels 'n onregverdige en selfs moedswillige karikatuursketsing waaraan Calviniste in sekere situasies onderwerp word, maar dit is nie nou hier die punt nie.

Die punt is: Hoe beleef mense ons wat in die tradisie van Calvyn verder wil stap en op hierdie glorieryke maat nuut wil improviseer vir ons tyd? Ons kan hierdie saak natuurlik ook baie wyer van toepassing maak as net met betrekking tot Calviniste, maar hier is 'n beskrywing wat Calviniste - en natuurlik ook enigiemand anders met sterk oortuigings en optrede - gerus selfondersoekend kan lees. En as jy dit lees en die eerste wat by jou opkom is "ja, maar ...", is dit 'n bewys dat jy nie regtig die punt snap van waaroor dit hier gaan nie.

As ons eerlik is, moet ons erken dat ons almal geneig is om een deurslaggewende maatstaf te gebruik die oomblik dat ons van stryde hoor waaroor ons self te min weet of bloot oningelig is: Ons kyk hoe die verskillende partye hulle in die proses gedra. Ons kyk ook wie so ver moontlik probeer uitbly uit die kloue van die vleeslike kenmerk van skadelike groepvroming en ons-hulle benaderings binne die kerk van Christus (vgl. 1 Kor 3:1-8). Hoe beleef mense ons wanneer ons verskil? Sien hulle bloot vleeslikheid in al ons tegniese korrektheid? Hoe beleef die teëparty ons wanneer ons verskil?

Daar was volgens oorlewering eenmaal 'n teologiestudent wat 'n leespreek van 'n beroemde prediker vir die gemeente voorgehou het. Om homself waarskynlik ook 'n bietjie te beskerm, het hy in sy eerlikheid erkenning gegee aan die outeur van sy leespreek. Die beroemde prediker was daardie Sondag self in die erediens en het blykbaar na die tyd teleurgesteld na die student gegaan en vir hom gesê: "Broeder, as jy dit op die wyse voordra wat jy dit gedoen het, moet asseblief nie sê dat dit my preek is nie." Ons behoort onsself af te vra of Christus nie dalk ook die volgende vir ons sou sê nie: "Indien dit die wyse is waarop jy/julle My waarheid voorhou, moenie sê dat dit van My afkomstig is nie."

2011/11/17

Dit het jy nie verwag nie

Om die Psalms van begin tot einde te lees dwing ons om ons eie vooropgestelde idees opsy te laat staan. Dit roep ons op om ons eie persepsies as die dryfkrag agter ons blootstelling aan die Psalms opsy te laat lê. Hierdie openheid gebruik God in sy vryheid om ons uit te daag, te konfronteer en, bo alles, om te dop op wyses wat ons nie kan kontroleer of selfs verwag nie.
- Gerald Wilson, p. 245 in Interpreting the Psalms: Issues and Approaches.

2011/11/16

Riool vs. Rooiwyn

Elke mens hunker na geluk. En ons sal nooit iemand aanraai om daardie hunkering te onderdruk nie. Mense se probleem is nie dat hulle versadiging soek nie, maar dat hulle heeltemal te maklik versadig word. Ons behoort hulle te wys hoe om hulle siele-honger te laat smul aan die genade van God. Ons sal die heerlikheid van God skilder in rojale rooi en geel en blou en die hel sal ons skilder met die dynserige skadu's van grys en steenkool. Ons sal werk daarvan maak om hulle te speen van die melk van die wêreld en hulle in te lei in die rykdom van God se genade en glorie.
- John Piper

2011/11/13

"Gedring" deur hoorsê

Een van die klasse wat ek hierdie kwartaal neem gaan oor die tema van begeerte, verlange en jaloesie in Shakespeare. Belydenis: Met Vrystaatse Ingels het ek eintlik net gehoor van Shakespeare. Deur die klasse hier is ek oortuig: Shakespeare het 'n diep insig gehad in die menslike (sondige) natuur. Daaroor miskien later meer. Hier is egter sommer net ietsie uit die filmweergawe van Much Ado About Nothing. Dit is die lied wat gesing word net voordat Benedick via hoorsê "gedring" word om eerlik met homself te raak oor Beatrice. Daar is 'n hele analise oor die betekenis en plasing van hierdie lied, maar hier is die bedoeling net om vir eers die tenoorstem te geniet.

2011/11/11

Perspektief op Abraham

Die wêreld is nie gered toe God Abraham gekies het nie. Maar toe God Abraham gekies het, was redding net 'n kwessie van tyd.
Peter Leithart

2011/11/10

Hoe gaan dit met jou geestesgesondheid?

Ons het almal maar bepaalde maatstawwwe waaraan ons ander meet. Die een is besonder beïndruk met iemand se intellek, 'n ander met iemand se skoonheid, 'n ander met iemand se wysheid, 'n ander met iemand se deugde. Of, as ons maklik geneig is tot afgodiese menseverering (en afguns wat maklik verskuild daarmee saamloop), bind ons sommer al die bogenoemde en nog ander dinge daarmee saam in ons maatstafpakkie in. Dit is miskien reeds 'n bewys dat onsself nie een van die belangrikste maatstawwe vergestalt nie - geestesgesondheid. Hoe meer ek daaraan dink, hoe meer besef ek dat hierdie maatstaf nie naastenby die plek by ons kry wat dit behoort te kry nie. Eintlik is dit vir Christene net 'n ander woord om te sê dat die heil in Christus wat van ons heel en Geesvevulde mense maak, werklik vastrapplek in ons lewe gekry het. Psalmisties gesproke, dat daar in ons harte die gebaande weë is en dat ons die Herder ken wat ons siele verkwik en ons in die spore van geregtigheid lei. Hoe gaan dit met my en jou wat fundamentele geestesgesondheid betref? Hier is tien wenke wat John Piper aan ons gee wat hy in die sewentigerjare van die vorige eeu by 'n mentor van hom gekry het. Dit is aards, prakties en wenke wat ek weet ek nodig het. Hoop dit kan dalk vir 'n paar ander ook iets beteken.

2011/11/07

"Geestelik" vir al die verkeerde redes

Image of Eugene H. PetersonEugene Peterson, parafraseerder van The Message, het in 'n onderhoud woorde kwytgeraak wat ons tot selfondersoek behoort te dring. Hy gebruik die vroulike vebuiging aan die einde, maar hy en ons weet almal dat dit 'n saak is wat elke geslag en alle geslagte raak:

"Dit is die grootste woord wat ons het - verlossing, om gered te wees. Ons is gered van 'n manier van lewe waarin daar geen opstanding was nie. Ons word gered van onsself. Een manier om geestelike lewe te definieer is om so moeg en keelvol vir jouself te raak dat jy voortgaan na iets beter, om Jesus Christus te volg. Maar die oomblik dat ons die geloof begin adverteer in terme van voordele, vergroot ons net die self-probleem. 'Met Christus is jy beter, sterker, aangenamer en geniet jy ekstase.' Maar dit is net meer van die self. In plaas daarvan wil ons hê dat mense so verveeld met hulself raak dat hulle begin om na Jesus Christus te kyk. Ons het almal al 'n sekere soort geestelike mens ontmoet. Sy is 'n wonderlike persoon. Sy het die Here lief. Sy bid en lees die Bybel voortdurend. Maar al waaraan sy dink is haarself. Sy is nie 'n selfsugtige persoon nie. Maar sy is altyd in die sentrum van alles wat sy doen. 'Hoe kan ek beter getuig? Hoe kan ek hierdie ding beter doen? Hoe kan ek hierdie persoon se probleem beter hanteer?' Dit is ek, ek, vermom op 'n wyse wat moeilik is om te sien omdat haar geestelike gesprek ons ontwapen."

2011/11/04

Die niervet en die pruime saam

Die Middeleeue was nie 'n vakkies-periode soos ons s'n nie. Hulle het hul intellek, gevoel, filosofie, romanse, politiek, wetenskaplike en godsdienstige oortuiginge, toesprake, geselsies en kontemporêre besprekings in een ontsaglike en gevarieerde kersfeespoeding gemeng. Hulle het dit ingeneem met watter lepel ook al handig te pas gekom het, die niervet en die pruime saam, en met die aptyt van 'n omnivoor waaroor ons onsself net kan verwonder.