2011/11/10

Hoe gaan dit met jou geestesgesondheid?

Ons het almal maar bepaalde maatstawwwe waaraan ons ander meet. Die een is besonder beïndruk met iemand se intellek, 'n ander met iemand se skoonheid, 'n ander met iemand se wysheid, 'n ander met iemand se deugde. Of, as ons maklik geneig is tot afgodiese menseverering (en afguns wat maklik verskuild daarmee saamloop), bind ons sommer al die bogenoemde en nog ander dinge daarmee saam in ons maatstafpakkie in. Dit is miskien reeds 'n bewys dat onsself nie een van die belangrikste maatstawwe vergestalt nie - geestesgesondheid. Hoe meer ek daaraan dink, hoe meer besef ek dat hierdie maatstaf nie naastenby die plek by ons kry wat dit behoort te kry nie. Eintlik is dit vir Christene net 'n ander woord om te sê dat die heil in Christus wat van ons heel en Geesvevulde mense maak, werklik vastrapplek in ons lewe gekry het. Psalmisties gesproke, dat daar in ons harte die gebaande weë is en dat ons die Herder ken wat ons siele verkwik en ons in die spore van geregtigheid lei. Hoe gaan dit met my en jou wat fundamentele geestesgesondheid betref? Hier is tien wenke wat John Piper aan ons gee wat hy in die sewentigerjare van die vorige eeu by 'n mentor van hom gekry het. Dit is aards, prakties en wenke wat ek weet ek nodig het. Hoop dit kan dalk vir 'n paar ander ook iets beteken.