Wys tans plasings met die etiket Sondag. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Sondag. Wys alle plasings

2024/05/29

Die Here van rus en verademing

Lees: Mk. 2:23-3:6

Gedagte vir kinders: Die Here Jesus het vir ons ware rus en lewe gebring.

Oorsig: Markus 2-3 vertel van vyf geleenthede aan die begin van die Here Jesus se bediening waar Hy homself openbaar (Vergifnis-gewer, Geneesheer en Bruidegom). Hier openbaar Hy hom as Here van die Sabbat en verduidelik wat die diepste bedoeling van die Sabbat is. Sy bediening was baie besig en dikwels het hulle nie eens tyd gehad om te eet nie (vgl. 3:20; 6:31; 8:1). So het hulle dan op ’n sekere Sabbat deur gesaaides geloop en die honger dissipels het begin om are te begin pluk (v.1). Die wet van die Here het toegelaat dat arm mense van die lande af kon eet, sonder om ekstra saam te neem (Deut. 23:25-26). Die wet het wel bepaal dat daar nie beroepswerk soos oes op die Sabbat mag plaasvind nie (Ex. 34:21).

Daar was egter Fariseërs wat gemeen het dat dit nie reg was nie. Die Here het hulle toe gewys op Dawid wat by geleentheid in nood was saam met sy manskappe en honger gehad het (let wel) en hoe hy in die huis van God (vgl. 1 Sam. 21:2-7) in die tyd van Abjatar wat later hoëpriester geword het, toonbrode geëet het wat elke Sabbat vervang is, en normaalweg net vir die priesters bedoel was (vgl. v. 24-26; Ex. 25:30; Lev. 24:5-9). Hieruit moes hulle reeds aflei dat Sabbat gemaak is vir die mens en nie die mens vir die Sabbat nie. En hulle moes hierdeur ook verstaan die Seun van die mens Here is van die Sabbat (v.27-28).  

Hierdie saak is verder gevoer toe die Here Jesus in ’n sinagoge gegaan het op die Sabbat en daar ’n man met ’n verdorde hand was. Weer het hulle hom dopgehou sodat hulle Hom kon aankla as Hy werk doen op die Sabbat (3:1-2). Die Here Jesus het egter nie weggedeins vir hulle mensgemaaktye reëls nie en vir die man met die verdorde hand gesê om op te staan in hulle midde. Toe het Hy die mense gevra of ’n mens op die Sabbat goed of kwaad moet doen, ’n lewe red of doodmaak. Hulle het stilgebly, omdat hulle nie werklik wou hoor nie (v.3-4). Die Here Jesus het hulle toe met toorn aangekyk omdat hulle nie wou uitkom vir lewe nie terwyl Hy gelyktydig bedroef was oor hulle harde harte. Hy het toe vir die man gesê: Steek jou hand uit! Die man het dit toe uitgesteek en sy hand is herstel, nie net bietjie nie, maar herstel soos die ander een (v.5). Dit het veroorsaak dat die Fariseërs gaan raad hou het met ondersteuners van koning Herodes (Herodiane). Hulle was normaalweg nie vriende met mekaar nie, maar in Jesus het hulle ’n gemeenskaplike vyand gesien wat hulle nader aan mekaar gebring het en om planne te maak hoe om Hom om te bring (v. 6; vgl. Ps. 2).    

Besprekingsvraag: Hoe wys Dawid hier heen na die bediening van Jesus Christus?

Insig: Die doel van die Sabbat, wat rus beteken, was om aan mense verademing te gee, verligting van die las van slawerny en lyding (vgl. Deut. 5:15; Ps. 84; 103:1-5). Die verbod op beroepswerk (vgl. Lev.23:24-28) was daarop gerig dat mense egte gemeenskap met God en mekaar, en daarom vernuwing en feestelikheid kon beleef. Dit was so gepas dat die Here Jesus juis op hierdie dag genees, omdat Hy die groot Geneesheer en Hersteller van lewe is. 

2022/04/12

Ek weet: My Verlosser leef...

Lees: Job 19:23-29

Gedagte vir kinders: In elke moeilike omstandigheid kan ons weet dat ons Verlosser leef.

Oorsig: Job, die ryk man wat alles gehad en met God gewandel het, het alles verloor – sy besittings, en al sy kinders het gesterwe. En toe het hy boonop nog siek en vol swere geword en mense het hom eerder vermy. Drie vriende het wel na hom toe gekom om met hom te praat, maar hulle was uiteindelik vol beskuldigings oor Job wat moontlik geheime sondes in sy lewe gehad het. Hieroor voer hulle gesprek met Job in verskillende rondtes en waarin hy telkens op elkeen terugantwoord. Een kommentator is van mening dat Elifas ’n mistikus is, Bildad ’n tradisionalis, en Sofar ’n rasionalis wat oor die probleem van lyding praat.  

Ons lees hier van Job se antwoord op Bildad in die tweede rondte van gesprekke. Job kla eers dat hulle hom glad nie verstaan nie (19:1-6), dan beskrywe hy hoe God op hom aanval (19:7-12), en dan beskrywe hy die verskriklike gevolge daarvan in allerhande soorte mense se optrede teenoor hom asook die nare toestand van sy siekte (19:13-20).  Job pleit dan by sy vriende dat hulle medelye met hom sal hê in die toestand wat God op hom gelê het. Hy vra ook waarom hulle hom vervolg (v.21-22). En dan kom sy kragtige en bekende woorde waarop ons hier fokus. 

2021/10/15

Rus, roeping, en rykdom in die nuwe verbond

Lees: Hebr. 4:1-16         

Gedagte vir kinders: Glo en geniet God se rus deur Jesus Christus.   

Oorsig: Hebr. 3 het aan die hand van Psalm 95 reeds gewys op die voorbeeld van die Israeliete wat gered was uit Egipte, en tog nie die rus van Kanaän ingegaan het nie. Hoofstuk 4 bou hierop voort. Christene wat deel geword het van die nuwe verbond in Christus, moet met goddelike vrees seker maak dat hulle nie soos die Israeliete in die woestyn afvallig raak en die Here se beloftes van rus mis nie (v.1). Daar is ’n sin waarin die evangelie aan die Israeliete en aan ons verkondig is. Die rede is dat ook hulle die Here se beloftes gehad het. By hulle het hul wel die Woord van God gehoor, maar dit was nie met die geloof verenig nie (v.2). Die wat wel glo in die beloftes van God en daarom gehoorsaam, gaan sy rus in.

Die Hebreërskrywer gaan dan voort om te verduidelik wat hierdie rus, wat hy later ook sabbatsrus (v.9) noem, beteken. Daar is eintlik drie maniere waarop hierdie rus ter sprake is. Daar is (1) die rus waarvan ons by die skepping lees op die sewende dag (v.4). Daar is ook (2) die rus wat die volk voorlopig kon beleef met die intog onder Josua in die beloofde land Kanaän (v.8). Die Psalmskrywer maak ons bewus van (3) ’n verdere rus met ’n nuwe toepassing vir “vandag” ná Kanaan (v. 7-9). Kanaän is dus ’n tipe en heenwysing na ’n ander groter rus, want anders sou daar na Josua nie meer nodig wees om van ’n ander “vandag” te spreek nie (v.7-8). Dit is die sabbatsrus wat eenmaal in sy volheid waar sal wees op die nuwe hemele en die nuwe aarde (vgl. v. 9). Ons kan nou reeds in beginsel in die rus deel deur die geloof in God se beloftes wat in Christus ook ons deel is.

2021/07/07

Kerke en Godverwysing

In een van my studiegidse het ek die volgende raakgeloop:  

"Ons moet nie die fout maak om die Kerk as bykomstig te sien in die lewe van Christene nie. Mense leef óf selfverwysend óf Godverwysend en die Kerk bied aan ons die konkreet-wonderlike wyse waarop ons Godverwysend en meer nog, in gemeenskap met die Drie-enige God mag leef. Hierdie bediening in die Kerk geskied verder langs die weg van ampte waardeur Christus sy gesag en genade aan mense bedien en ons moet dit alles waardeer as gegee om ons te begelei in ons wandel met God en in die deelhê aan die gemeenskap van die Drie-eenheid." 

Waar dit nie gebeur nie en die kerke leeg word, word die tronke vol, het onse voorouers gesegdegewys gesê. Ons kan dit deftig in ander woorde plooi, maar die insig bly relevant. Dit is dat die samelewing sekulariseer, en allerhande geite verwag kan word om na vore te tree waar God en sy gebod vir mense op die agtergrond staan. Dit bly egter simptome van 'n dieper probleem: Die gebrek aan gemeenskap en wandel met God in en deur Christus en sy liggaam.

2021/07/06

Sondag en metafisika

Die bekende evangeliserende Biskop op sosiale media, Robert Barron, was onlangs in gesprek met die Iranees-Amerikaanse joernalis en opkomende konserwatiewe intellektueel, Sohrab Ahmari. Dit het gehandel oor Ahmari se nuwe publikasie, The Unbroken Thread: Discovering the Wisdom of Tradition in an Age of Chaos. Jared Zimmerer, die Senior Direkteur van die Word on Fire Instituut, het die gesprek gelei.

Daar is by bepaalde temas van Ahmari se boek stilgestaan, maar die tema waaroor dit hier gaan, kan gevind word vanaf die 20ste minuut tot en met ongeveer die 38ste minuut. Dit is die tema  wat Zimmerer beskrywe as 'n kulturele verlies, 'n geestelike verlies, ja selfs 'n metafisiese verlies. Indien iemand nog wonder, dit gaan oor die Sabbat, of die Dag van die Here, of soos hoofstuk drie van Ahmari se publikasie dit stel, "waarom sou God wou hê dat jy 'n dag af moet neem? 

Zimmerer se verband wat hy trek met 'n metafisiese verlies is insiggewend. Dit spruit voort uit Biskop Barron se opmerking net vantevore dat al ons standpunte voortvloei uit ons metafisika, of ons daarvan bewus is of nie. In pronter Afrikaans gestel: Alles vloei voort uit ons visie op die werklikheid, wat ook die werklikheid anderkant ons sintuie insluit. Al ons standpunte spruit met ander woorde voort uit ons wêreldbeskouing, of om dit nog meer deftig uit te druk, uit ons metafisiese aannames. Dit sluit jou beskouing van, benadering tot en deelname aan Sondag in. 

Ahmari verwys na rabbi Abraham Joshua Heschel wat 'n bekende intellektueel uit Pole in die middel van die vorige eeu was. In Pole was die Sabbat volgens Ahmari toe nog gesien as die sentrale hegstuk van die lewe. Heschel het daarop gewys dat dit wat lyk na beperking, inderwaarheid bevryding was. Ja, die Sabbat was die bron van innerlike vryheid. Dit was die wyse waarop die geopolitieke en kommersiële ryk van ruimte verruil is vir die ryksgebied van tyd. Dit was die tydsruimte waar intenser bewuswording van God plaasvind - die God wat nie van enige gebeurlikhede afhanklik is nie, wat ewig is, en waar intieme tyd met Hom spandeer kon word. Dit het daarom ook verder gegaan oor 'n sabbatsvisie waar mense gewaardeer is vir wie hulle is en nie bloot vir wat hulle doen nie. 

Dit is hierdie sabbatsvisie, sê  Ahmari, wat verloor is in die naam van vryheid. Hy staan selfs op die standpunt dat die sogenaamde “blue laws” van Sondagswetgewing herstel moet word. Is dit nie outoritêr nie?  Volgens Ahmari is die antwoord nee en hy wys daarop dat die VSA met sy protestantse DNA maar eers in die laaste drie tot vier geslagte begin het om aan hierdie ou tradisie weg te kalwe en die resultaat daarvan formuleer hy op treffende wyse: Die vryheid van die Sabbat is verruil vir die vryheid van die markte. Ons het dit verloor, se Ahmari en skielik is alles nou oop op Sondag.