Wys tans plasings met die etiket koninklik. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket koninklik. Wys alle plasings

2022/08/25

Vry om koninklik te leef

Lees: Luk. 14:1-14

Gedagte vir kinders: Jesus Christus maak van sondaars verloste koningskinders

Oorsig: Op sy pad na Jerusalem waar die Here Jesus vir ons sondes sou sterf, het Hy op uitnodiging in die huis van een van die leiers van die Fariseërs ingegaan om brood te eet op die Sabbat. Die Fariseërs het God se wet baie belangrik geag, maar ongelukkig het hulle so baie op die uiterlike kant daarvan gefokus dat hulle die dieper punt maklik gemis het. ’n Mens wonder ook wat die motiewe was om die Here Jesus te ontvang, want ons lees dat hulle Hom in die oog gehou het (v.1). Ons lees ook van ’n man wat water gehad het (opgeswel in dele van sy liggaam was), wat daarop gedui het dat sy organe nie reg werk nie (v.2). Ons sou selfs ook kon wonder of hierdie man aspris daarheen gebring is om te sien wat die Here met hom sou doen. Die Here Jesus het toe aan die wetgeleerdes en Fariseërs gevra of dit reg was om op die Sabbat te genees, maar hulle het net stilgebly. Hy het toe die man geneem en hom gesond gemaak en laat gaan (v.3-4). En toe het Hy vir die mense verduidelik deur die voorbeeld van ’n esel of os (sommige vertalings meld kind) wat in ’n put val op die Sabbatdag. Die meeste mense sal mos dadelik die dier uit die put optrek. Niemand kon Hom antwoord op hierdie voorbeeld nie (v.5-6).

Die Here Jesus het ook, toe hulle die belangrikste plekke kies, ’n gelykenis vertel, wat dus ook iets oor God se koninkryk leer. Hy het gesê dat hulle, wanneer hulle na ’n bruilof genooi is, nie die voorste plek moes inneem nie. Die rede: Daar is dalk iemand wat waardiger is as jy. En dan sal die gasheer moet kom en sê dat jy moet plek moet maak vir ’n belangriker man en dat jy dan met skaamte die agterste plek sal inneem (v.7-9). Dit sou wyser wees om die agterste plek in te neem sodat die gasheer wat jou genooi het, eerder vir jou ’n beter posisie laat neem. Dit sou eer bring voor die wat saam aan tafel is. Die Here maak dan die bekende uitspraak dat elkeen wat homself verhoog, verneder sal word, en wat homself verneder, verhoog sal word (v.10-11).