2025/10/06

Terwyl Hy nog te vinde is

Lees: Jes. 55:6-13 

Gedagte vir kinders: Die tyd om terug te draai na die Here se pad van oorvloed is vandag.

Oorsig: Ons verstaan die uitnodiging en oproep van Jesaja 55 beter as ons onthou wat vooraf gebeur het. In Jes. 53:11 hoor ons dat die Kneg van die Here, baie regverdig maak en hulle skuld dra. Daarom deel God Hom uit vir baie mense en die Kneg verdeel die buit met baie mense (v.12, letterlik vertaal). Waarom kon dit gebeur? Omdat die Kneg van die Here (1) sy siel tot in die dood uitgegiet het, (2) as oortreder gereken is, (3) die sondes van baie gedra, en (4) vir sy oortreders gebid het. So het Hy, die Kneg en Messias, hoog en verhewe, ja baie hoog geword (vgl. Jes. 52:13). Daarom sal nasies opspring en gedoop word, en daarom betoon konings respek (Jes.49:7; 52:15; vgl. KJV; vgl. Mat. 28:18-20). Ja, so trek die Messias nou almal na Hom toe (vgl. Joh. 12:32). In Jesaja 54 hoor ons dan dat die volk Israel opgeroep word om te jubel, want nou kan Israel, die bruid wat onvrugbaar was, ’n groot nageslag hê. En dan kom die oproep in Jesaja 55 na almal om te kom na die oorvloed en dit te kom neem wat die Messias bewerkstellig het.

In vers 5 hoor ons dat hoe die nasies geroep sal word en hulle na die HERE getrek word en dat hulle selfs na Hom sal hardloop. Waarom? Ter wille van die HERE, omdat Hy Israel deur hierdie Messias verheerlik het (vgl. Jes. 52:13-Jes. 53:12). Maar dan kom weer die dringende oproep: Die HERE moet gesoek word terwyl Hy nog te vinde is en naby is (v. 6). Dit sal nie vir altyd so wees nie. Dit beteken konkreet dat (1) die goddelose sy weg sal verlaat en (2) die kwaadoener sy gedagtes. Dit beteken verder dat daar nie net van hierdie verkeerde dade en gedagte weggedraai word nie, maar ook dat (3) daar positief na die HERE omgedraai word. Dan sal barmhartigheid en menigvuldige vergifnis by Hom beleef word (v.7)  

Daar word vervolgens daarop gewys dat die HERE se gedagtes nie ons gedagtes is en sy weë nie ons s’n nie. Dit is soos die hemel wat hoër as die aarde is (v.8-9). Verder sal sy woord soos reën en sneeu wees uit die hemel wat die aarde deurvogtig en saad (produksie) en brood (voeding en versorging) gee. So sal God se Woord ook nie leeg terugkeer nie maar doen wat Hom behaag en voorspoedig wees in alles waartoe dit gestuur word (v.10-11).  Dan word die belofte gegee van ’n nuwe eksodus, ’n uittog van vreugde en vrede. Die natuur sal saam jubel. Berge en heuwels sal jubel en die bome van die veld hande klap. In die plek van ’n doringboom (simbool van die sondeval) sal ’n sipres (simbool van heerlikheid) opgaan. En net so vir die distel (simbool van die sondeval) sal ’n mirteboom (simbool van seën) opgaan. Dit sal die HERE se Naam verheerlik en ewige teken wees wat nie uitgeroei sal word nie (v. 12-13).  

Besprekingsvraag: Waarom word die mirteboom en die sipres as simbole gekies?

Insig: Jesaja 55 is gaan oor die uitnodiging na die groot oorvloed van God se banket. En tog, die verstommende is dat daar diegene wat dit nie hoog ag om na die Koning se feesmaal genooi te word nie (vgl. Luk. 14:18-20). Daarom moet ons naas die heerlike vrye uitnodiging in vers 1 ook die dringende oproep van vers 6 hoor: Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is. Daar breek iewers ’n tyd aan wat die deure toegemaak word. Laat dit insink. 

Wat beteken dit om die Here te soek? Die alternatiewe woord in die Hebreeuse parallelisme gee ’n eerste wenk: roep Hom aan terwyl Hy naby is. Ons sien iets daarvan in Abraham wat die Here in die vreemde land aangeroep het by altare wat Hy opgerig het vir Hom wat Hom geroep het na die vreemde land (Gen. 13:1; vgl. Ps. 105:1). Om die Here te soek beteken hier nie dat ons glad nie weet waar Hy is nie, maar Hom opsoek daar waar Hy bepaal het ons met Hom gemeenskap mag hê. Dit is die weg van sy voorsgeskrewe offers in die Ou Testament wat vervul is in die ewige offer van Jesus Christus wat in Jesaja 53 beskryf is. Roep Hom aan in die Naam van Jesus Christus, vir versoening en vir enige ander benoudheid (vgl. Ps. 50:15).

Die voortgang van die oproep in vers 7 maak ook verder duidelik wat die beteken: Die eenvoudige tweeslag van twee dinge wat verlaat word: die goddelose weg en die kwaaddoen-gedagtes. Dit dus gaan oor beide dade en gedagtes, oor gewoontes en denke, oor karakter en verbeelding.  Maar naas die wegkeer van die goddelose en kwaaddoen-dinge, beteken dit ook die toekeer tot die HERE. Dit beteken ook die feesmaal, en die oorvloed - die wyn en die melk. Dit is so heerlik, maar let op: Daar sal ’n tyd kom wat die Here nie meer hieroor naby of te vinde sal wees nie.

Ons word gehelp tot hierdie oproep deur twee waarborge wat met “want” begin. Sondige mense kan allerhande redes uitdink waarom om nie na die feesmaal te kom nie. Hulle kan of gewoon nie belangstel nie, omdat hulle selfgemaakte lewe te belangrik is. Hulle kan dalk dink dat hulle eie feestelikheid genoeg is en dat hierdie fees nie werklik beter is nie. Moontlik is dit omdat hulle nie sogenaamde beheer wil prysgee nie. Maar daar kan ook diegene wees wat dalk wonder of hulle regtig ingesluit is. Miskien is daar diegene wat dink dat die Here nie hulle geval kan vergewe nie. Wat ook al die rede, almal moet hoor dat die Here se weë en gedagtes in teenstelling met die van die weë en gedagtes van die goddelose en kwaadoener soveel heerliker is. Hy is barmhartig en vergewe menigvuldiglik. Dit is soos die hemel hoër as die aarde. Ook as ons weer sondig, sal Hy ons vergewe en herstel en verder neem. Dit is soveel beter as enige plan wat onsself vir ons eie lewe het, want Hy weet oneindig beter en laat alles ten goede meewerk (Rom. 8:28). Die tweede waarborg is dat sy Woord soos reën en sneeu is en sal doen waartoe Hy dit stuur op aarde. Sy Woord het krag wat mense sal oortuig. Uiteindelik is ons redding nie geleë in ons bekering nie, maar in sy Woord wat groot dinge doen. Hou hierdie Woord daarom vas in jou hart, want dit doen groot dinge. 

Naas die oproep en die begronding vind ons hier ook verdere beloftes oor die gevolge vir hulle wat hieraan deel het. Die beeld van ’n nuwe eksodus van bevryding uit ballingskap word gebruik en die hele natuur juig saam. Hierdie bevryding hang saam met nuwe vreugde, vrede, jubeling en leiding en vernuwing van die hele natuur. Dorings en distels is simbole van dit wat seer maak en die lewe swaar maak en herinner ons aan die sondeval (vgl. Gen 3:18). Maar hier leer die profeet dat dit vervang word met die immergroen seder en die mirteboom, simbole van heerlikheid en seën. Die seder was allerweë beskou as simbool van heerlikheid en die mirteboom met die pragtige wit blomme wat soos sterre lyk en met die genesende en voedende olie en welriekende reuk, was beskou as simbool van voeding en prag en seën. Dit is wat die Here doen vir hulle wat kom om deel te wees van die groot bevryding deur sy Seun wat die groot feesmaal moontlik gemaak het. Die tweede eksodus, die terugkeer uit die ballingskap was maar net die begin. Die res is eintlik net ’n kwessie van tyd. Omdat Christus die prys betaal het, is die feesmaal nou meer as ooit gereed en die vernuwing van die totale skepping net ’n kwessie van tyd. Intussen kan ons nou reeds leef vanuit die nuwe verbond wat Christus ingebring het. Laat ons dan hiervan gebruik maak en hieruit leef terwyl die Here nog te vinde is.   

Werke geraadpleeg

J. Alec Motyer, Isaiah, Tyndale Old Testament Commentaries

John N Oswalt, NIV Application.

Matthew Henry

Paul. D. Wegner. Isaiah, Tyndale Old Testament Commentaries.