Gedagte vir kinders: Geniet jou lewe voor die aangesig van God en dank Hom vir
Jesus Christus.
Oorsig: Ps. 116 vorm deel van die Hallel-Psalms (Lofpsalms: Ps. 113-118) wat gebruik was en steeds gebruik word by die viering van die jaarlikse Paasfees van Israel. Dit was deel van die laaste lofsange wat die Here Jesus saam met sy dissipels gesing het by die maaltyd waar Hy die Nagmaal ingestel het, net voor hulle na die tuin Getsemane gegaan het (vgl. Mt. 26:30). Die Here Jesus het hierdie lied oor verlossing van die dood dus reeds gesing terwyl Hy geweet het wat op Hom wag. Die Psalm bestaan uit twee basiese dele: vers 1-9 en vers 10-19. In die Spetuaginta (Griekse vertaling: LXX) en Vulgaat (Latynse vertaling) is dit twee afsonderlike Psalms, maar daar is geen rede om dit nie saam met die Hebreeuse Teks as een Psalm te waardeer nie.
In vers 1 stel die Psalmis dat hy liefhet, omdat die HERE sy smekinge
gehoor het (vgl. Ps. 18:1). Die HERE het sy oor geneig en daarom sal hy Hom
aanroep (v.1-2). Sy krisis was die dood en bande en angste van die doderyk het
hom getref (vgl. Ps. 107:3,14). Maar Hy het toe die Naam van die HERE
aangeroep: Ag, HERE, red my siel (v.3-4). Dan getuig Hy dat die Here genadig,
regverdig en ’n ontfermer is (vgl. Ex 34:6). Ook dat hy die eenvoudiges bewaar.
Hy het swak geword, maar die HERE het hom gehelp (v.5-6). Hy praat hierna met
homself en gesê dat hy maar kan terugkeer tot rus om dat die HERE goed aan hom
gedoen het. Hy praat daarna met die HERE (U) en loof Hom dat Hy sy siel gered
het van die dood, sy oog van trane en sy voet van struikeling. Hy doen dan ’n
belydenis dat hy sal wandel voor die aangesig van die HERE in die lande van die
lewendes (v.7-9).
Die Psalmis stel dan dat hy geglo het, ten spyte daarvan dat hy gesê het
dat hy diep neergebuig is oor sy omstandighede. Hy het in sy angs gesê dat alle
mense leuenaars is (v.10-11). Maar dan gaan hy weer in lof oor en vra wat hy
die HERE kan vergeld vir al sy weldade aan hom. Hy antwoord hierop en stel dat
hy die beker van verlossing sal opneem en die Naam van die HERE sal aanroep. Hy
gaan ook verder en stel dat die geloftes wat Hy aan die HERE gedoen sal betaal
in die teenwoordige van sy totale volk (vgl. Num. 30:1-2; Deut. 23:21; 1 Sam.
1:11 ). Hierna stel hy dat die dood van sy gunsgenote kosbaar/duur is in die oë
van die HERE. Die bedoeling is dat die HERE juis daarom nie sy kinders
daarin oorgee nie (v.12-15). En dan doen hy weer ’n belydenis teenoor sy God:
Ag HERE, sekerlik, ek is u kneg, die seun van u dienmeisie. Die rede wat hy gee
is omdat die HERE sy bande wat hom aan die dood gebind het, losgemaak het. Hy
volg dit dan daarmee op soos in vers 14 dat Hy sy geloftes aan die HERE sal
betaal in die teenwoordigheid van sy ganse volk (v.16-18). Hy brei hierop uit
en stel dat dit gebeur by die tempel – in die voorhowe van die huis van die
HERE, ja binne in Jerusalem wat hy persoonlik aanspreek. En dan kom die groot
woord van die Hallel-Psalms weer na vore: Halleluja! Dit beteken “Loof die
HERE!” (v.19; vgl. Openb. 19:1,3,4,6).
Besprekingsvraag: Wat is die gepaste reaksie op God se genade?
Insig: Die lewe is ’n gawe van God. Soms is dit ’n naby-dood ervaring wat ons die lewe op ’n nuwe wyse laat smaak en proe en geniet – om weer ekstaties daaroor te mag wees om te lewe en dit nogal voor die aangesig van God. Maar die Psalm gaan nie net gaan oor ’n tydelike pouse in die teenstand teen die meedoënloos-naderende mag van die dood nie. Die Psalm spreek oor lewe op so ’n wyse dat dit net voluit waardeer kan word wanneer lewe altyd groter is as die dood.
Daarom het veral antieke
kommentare skaamteloos daarop gewys dat hierdie Psalm oor lewe uit die dood, wat ook verbind kan word met die volk se uittog uit die ballingskap, ten
diepste net in Christus tot sy reg kom wat die dood oorwin het. Dit
is daarom ook merkwaardig as ons besef dat Hy juis hierdie Psalm gesing het
by die instelling van die Nagmaal, net voordat Hy kruis toe gegaan het om
finaal met die dood af te reken. Christus het lief en Christus glo (v.1;10); daarom kan ons liefhê en glo. Net Christus kon as mens uitroep dat alle mense
leuenaars is, sonder om Homself in te sluit (v.11). Daarom kan ons hierdie
Psalm lees as die wyse waarop Hy kruis toe gegaan en God aangeroep het om
uitredding toe die bande en angste van die dood Hom omring het. En ook verhoor
is, nie voor die dood nie, maar na sy dood. Deur sy dood kon die smarte van die
dood effektief ontbind word, vir ons (vgl. Hand. 2:24). Christus kon oor die
jubeling van uitredding uit die dood sing soos niemand anders nie.
Christus se dood en opstanding was
die enigste wyse waarop daar met die permanente skaduwee van die dood afgereken
kon word. Daarom mag ons nou ook weekliks met reg die opstanding uit die dode vier.
Daarom kan ons ook die vreemde woorde saamsing dat die dood van God se
gunsgenote kosbaar/duur is in sy oë (v.15). Hoe weet ons dit? Omdat Hy hulle nie daarin oorgee
nie. Ja, Christus is daarin oorgegee vir ons, maar Hy het so juis die dood vir
ons oopgebreek omdat Hy ons sonde tot in die graf gedra en toe daaruit opgestaan
het. Omdat sy dood kosbaar was omdat Hy so ons sondes versoen het, kan
gelowiges se dood nou kosbaar wees omdat dit nou deur Hom vir hulle die deurgang
tot die ekstase van lewe in die oortreffende trap is.
Hoe word ons in hierdie besef versterk? Die Psalm help ons hiermee. Die wyse waarop ons deelneem toon hier ’n
bepaalde struktuur en leer eerstens duidelik dat dit eerstens nie
uit ons is nie. Dit gaan oor dit wat God vir mense doen en dit maak die besef van
genade en die dankbare antwoord by ons wakker. Daarom bring die Here gelowiges in allerhande situasies waar hulle letterlik hulle
Heiland leer ken. Dit kan wissel van naby-dood ervarings tot erge benoudheid en
bekommernis wat soos die dood vreet aan jou siel. Dit kan selfs net die besef
wees van jou verganklikheid soos wat jy ouer word. In die tradisie van die Kerk
is dit byvoorbeeld ook gebruik vir vroue wat die angs van geboorte skenk moes
beleef en wat vandag nog met al ons tegnologie steeds riskant is. By uitstek is dit gebruik in die
toepassing op martelare wat op so ’n besondere wyse Christus tot in die dood
gevolg het. En natuurlik het ons troos nodig by elke graf waarby ons staan. Dit
dryf ons om die Here daaroor aan te roep (v.4) en dit in die geloof te doen,
ook as jou emosies jou oorweldig en alle toestande daarteen skreeu (v.10; vgl. 2
Kor. 4:13). En sy verhoring aan gewone mense waarin ons die Verbondsgod en sy
wese in aksie beleef (v.5-6), bring ons daartoe om Hom met nuwe waardering aan te roep in ons gebede, en om die lewe op ’n nuwe wyse te smaak saam met Hom.
Dit bring ons by die gepaste respons
wanneer ons die HERE se genade en ontferming so tasbaar leer ken in elke nuwe uitkoms. Dit is duidelik dat dit in die Psalm persoonlik beleef word, maar ook dat dit in die teenwoordigheid van die
gemeente eindig. ’n Hele reeks dankbaarheid-aksies word hier gelys: Die belydenis van liefde en die hartlike voorneme om Hom te bly aanroep; die belydenis van God se wonderlike eienskappe wat ons persoonlik leer ken het; die verklaring
dat ek sekerlik die dienaar van die HERE is; die belewenis van vrymaking wat
roep om hernuwe toewyding; die Naam van die Here wat voor en saam met ander aangeroep word; die beker
van verlossing wat opgeneem word (vgl. 1 Kor. 11:26); dankoffers wat gebring
word, verbintenisse wat gemaak is tydens die besondere nood wat uitgevoer word (v.13,14). En dit gebeur saam met die gemeente tydens aanbidding by die huis van die Here. Die bedoeling is dat ons so deur mekaar aangesteek en bemoedig kan word. En so word ons in die geleentheid gestel om nie
net oor ons eie belewenisse te juig nie, maar ook verryk te word en deel te neem aan ander se aksies
en getuienisse. Ons kan God nie vergeld vir al sy weldade nie, maar die
gedeelte toon duidelik in watter rigting gepaste reaksie loop by mense wat die genade van God en die lewe
en die geur daarvan in Hom opnuut in ontvangs geneem het. So bly ons saam wakker om die
lewe te waardeer en te leef voor God in die land van die lewendes. Tot daardie dag wanneer die
land van die lewendes anderkant die dood sal bruis voor die aangesig van die lewende God soos nog nooit vantevore
nie.
Werke geraadpleeg
Brueggemann,
W & Bellinger, W. Psalms, New Cambridge Bible Commentary.
Geoffrey
Grogan. Psalms (Two Horozons Old Testament Commentary – THOTC).
Ash, C.
Psalms: A Christ-Centered Commentary, Volume 4.
Byassee J,
Brazos, Theological Commentary.
Reardon, PH,
Christ in the Psalms.
Matthew Henry.