Hierdie boodskap is op Hemelvaartdag 2021 op Pretoria FM in die aand uitgesaai.
Lees: Hd. 2:33-36; Ps. 110; Psalm 2:7-12, Dn. 7:13-14
Inleiding
Hemelvaart is
tradisioneel een van die vyf groot bakens op die kalenders van Christene:
Kersfees, Goeie Vrydag, Paassondag, Hemelvaart en Pinkster. En nou weet ons, in
Suid-Afrika is die viering van Hemelvaart reeds vir ’n geruime tyd geskrap van
ons amptelike vakansiedae, en ons behoort dringender as voorheen te vra: Waarom,
en wat is die gevolge en implikasies hiervan? Die feit is dat ook die verwaarlosing
van die betekenis van die Hemelvaart daartoe lei dat ons nie meer leef uit die
volheid van die evangelie nie. Ons vergeet byvoorbeeld te maklik dat daar slegs
een rede is waarom al die dinge wat Christus vir ons in die verlede tyd gedoen
het, nou, in die hede, ’n werklikheid mag wees – die Hemelvaart van Jesus
Christus.
Broeder en
suster, die viering van, en leef uit die betekenis van Hemelvaart is baie
belangrik. Dit is selfs in die geseënde tradisie van die Kerk beskou as die
hoogtepunt van die verlossing wat Christus gebring het. Daarsonder kan ons nie
werklik begryp en waardeer waarom die heilswerk van Christus in die verlede ook
in ons dag waar e het in de hede en kan oopblom ook in ons tyd nie. En tog, in
Suid-Afrika is dit die Christelike vakansiedag wat weggeval het, terwyl baie
Europese lande nog hierdie dag herdenk, al is dit dikwels net in naam. Nou is
dit wel so dat Christene se eintlike feesdag elke Sondag op die eerste dag van
die week is, maar daar is ook iets soos die kerstening van ’n kultuur. Enige
kultuur het die manier om sy kerstening, al dan nie, te reflekteer op die
openbare kalender. Dit gee ’n goeie idee van wie die eintlike God of gode van
die samelewing is. Ons sou selfs sover kon gaan as om daarop te wys dat die
ware god van ’n samelewing aan die lig kom as jy let op dit wat in die openbaar
as polities korrek beskou word. Ons sou hierby kon voeg dat jy ook moet let op
die publieke vakansiedae (“holy days” wat "holidays" geword het) wat gevier word.
Dit verbaas daarom glad nie om te sien dat Hemelvaart van die rol geskrap is
nie, want sien, Hemelvaart getuig op ’n baie besondere wyse van wie die
eintlike Koning op die troon is.
Ja, Hemelvaart gaan oor die grootste troonsbestyging ooit. Niks kan daarmee vergelyk word nie. Elke aanspraak op ’n nuwe orde met die bedoeling van ’n nuwe troon moet beoordeel word in die lig van die nuwe orde in Christus wat deur sy Hemelvaart ingelei is. In die viering van die Hemelvaart getuig ons wie eintlik op die troon sit – ’n waarheid wat drie jaar oue verbondskinders meer korrek bely as sekere openbare leiers in ons land. En daarom kan ons dit gerus maar weer by die herdenking van Hemelvaart prontuit bely en mekaar daaraan herinner: Die belydenis dat Jesus die Here is, is die grootste politieke uitspraak van alle tye. Hemelvaart getuig kragtig hiervan. En daarom kan die openbare en politieke ontkenning van die Hemelvaart van Christus in ’n samelewing nie sonder konsekwensies bly nie. Ons gaan aan die hand van die Woord na hierdie konsekwensie kyk onder die volgende punte:
- · Hemelvaart en die staat
- ·
Hemelvaart en die Kerk
- · Hemelvaart en die appél op ons