Wys tans plasings met die etiket Mysterium tremendum et fascinans. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Mysterium tremendum et fascinans. Wys alle plasings

2022/02/03

Mysterium tremendum et fascinans

Lees: Jes. 6         

Gedagte vir kinders: Wanneer ons besef wie die HERE is, weet ons dat net Hy ons kan red.  

Oorsig:  Die profeet Jesaja vertel hier van sy roeping as profeet. Dit het gebeur in die sterfjaar van koning Ussia, ’n koning wat vir 52 jaar in Jerusalem regeer het en toe dit oor die algemeen nog redelik goed gegaan het met die volk (2 Kon. 15:1-7; 2 Kr. 26). Koning Ussia het egter homself aangematig en wou sommer self die werk van die priesters doen in die tempel (2 Kr.26:16-19). God het hom toe gestraf en die koning het melaats geword. Boonop het die gerugte oor die magtige en wrede ryk van Assirië wat almal verower, ook al hoe meer geword.

In die jaar waarin koning Ussia gesterf het, sê Jesaja dat Hy die Here sien sit het op ’n hoë  en verhewe troon. Hy was so groot dat net sy some alreeds die hele tempel gevul het (v.1). Besondere engele wat serafs genoem word, was by Hom. Selfs hierdie sondelose wesens moes hulleself bedek in die teenwoordigheid van die heerlikheid en heiligheid van die lewende God (v.2). Hulle het ses vlerke gehad, maar met twee het hulle die aangesig bedek en met twee die voete. Met die orige tee het hulle gevlieg en mekaar toegeroep: Heilig, heilig, heilig is die HERE van die leërskare. Die hele aarde is van sy heerlikheid vol!” (v.3). Daardeur het hulle bevestig dat al die eienskappe van God saamgevat kan word met die woord, heilig en dat dit heerlikheid beteken vir die hele aarde. Hiermee saam het die drumpelposte gebewe van die geluid van die roepers en die huis van die Here het vol rook geword (v.4).

Jesaja kon onder hierdie groot besef van wie die Here is, maar net uitroep dat hy vervloek en verlore is. Die rede was dat hy besef het dat hyself onrein van lippe is en ook woon onder ’n volk wat onrein van lippe is (vgl. Mt.15:11; Mk. 7:21-22.). Hy het die Here in sy heerlikheid gesien en besef hoe vol sonde hy en sy volk is (v.5). En tog het een van die serafs toe ’n gloeiende kool van die altaar af geneem met ’n tang en Jesaja se mond daarmee aangeraak. Hy het daarna aan Jesaja bevestig dat sy sonde weg was deur die aanraking en sy sonde versoen (v.6-7). Toe het Jesaja gehoor dat die Here vra wie hulle sal stuur. Hierop het hy geantwoord dat hy gereed is om gestuur te word (v.8). Die opdrag wat Jesaja gekry het was egter nie maklik nie. Hy moes die boodskap bring, maar die mens sou nie luister nie en tog moes hy voortgaan (v.9-10). Hy moes daarmee voortgaan totdat die land verwoes is en die volk in ballingskap gegaan het (v.11-12). Maar uit die oorblyfsel van die klein oorblyfsel sou daar nuwe lewe kom, soos vanuit ’n afgekapte boomstomp (v.13).

Besprekingsvraag: Wat is die verskil tussen praat oor God en praat vóór God?  

Insig: ’n Mens kan praat oor God en dan kan jy ook jouself bevind vóór die aangesig van God.  Vóór Hom besef ons werklik wie ons is.