Wys tans plasings met die etiket liberale. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket liberale. Wys alle plasings

2024/11/19

Die vierperdewa: uitgebrei

Hierdie artikel het oorspronklik by Standpunte verskyn, wat intussen ophou bestaan het. Dit is 'n uitbreiding van 'n vroeëre plasing alhier.

Sekere debatte hoef net lank genoeg aan te hou om by die binêre sis-geluide uit te kom: “Liberalis!” “Fundamentalis!” ’n Bekende werkswyse by die FAK is egter om nie te maklik by hierdie lis-tige brandmerke ingetrek te word nie. Die rede hiervoor, so voer alternatiewe modernes aan, is dat ons dalk te maklik die onderliggende probleem miskyk. Dit kan so maklik gebeur dat die twee pole ten diepste net teenoorstaande gevalle van dieselfde verdagte uitgangspunt is. Die bekendste voorbeeld hiervan is seker die holrug onderwerp van apartheid. Toenemend vra mense vandag daarom of grondiger besinning oor iets soos gemeenskapsfederalisme nie dalk die pro en anti-retoriek in nuwe bane kan stuur nie. Hierdie gesonde soeke na dieper sake wat polarisering moontlik kan ontsluit, is verfrissend en dring ons terselfdertyd ook om die bronne van ons gevestigde tradisies met nuwe moed op te soek. 

Half-gehoor
By die opsoek van tradisies wat die toets van die tyd deurstaan het, word dit egter ook duidelik dat ’n aansluitende saak ons aandag vra. Dit is dat ons eerlik genoeg moet wees om na te gaan of ons reg laat geskied aan hoe ’n bepaalde tradisie intern sy eie vraagstukke en probleme probeer uitsorteer het. Uiteindelik sou ’n mens wel die harde vraag moes vra of ’n hele tradisie nie dalk op sand bou nie, maar dit kan eers gedoen word nadat daar deeglik geluister is. Gebeur dit nie, is ons gewoon in strooipop-land waar die opponente van ’n ander tradisie hulself eenvoudig nie herken in die karikatuur wat ons van hulle oprig nie. N.P. Van Wyk Louw se woorde aan diegene wat streng en omvattend wil dink, kan gerus maar weer afgestof word: “Streng dink is: logies dink met gebruikmaking van begrippe wat behoorlik krities ondersoek is. ... min mense besef hoe verward die begrippe is waarmee hulle hul hele lewe werk - hoe vol van hul eie vooroordele, hoe half-gehoor en hoe verweef met verkeerde assosiasies; 'n mens kan sê: hoe besoedel met emosionaliteit.”


Dink byvoorbeeld aan iets soos die klassieke liberale tradisie. Vanweë die lading wat die woord liberaal in Afrikaans dra, kan diegene wat grondig vanuit hierdie tradisie werk hulself enersyds nie herken in dit wat sekere regse Afrikaners aan hulle toedig nie, maar andersyds ook nie in dit wat sekere linkse Afrikaners van hulle maak nie. Die verskil tussen denotasie en konnotasie speel ’n baie belangrike rol as jy nugterheid wil behou in sulke gesprekke. Ons gaan nie nou verder ingaan op die verskil tussen die klassieke liberale tradisie en die glibberalisme nie. Daarvoor is daar baie meer bekwames wat die woord kan voer. Ons gaan wel in op daardie ander gewraakte woord wat die teenparty graag gebruik om diegene wat nog aan substansie en permanente dinge glo, te brandmerk en te bevraagteken: fundamentalisme. Vanweë my eie agtergrond en belangstelling gaan ek dit benader met betrekking tot hoe die saak vandag dikwels in geloof en teologie hanteer word.

Ook wanneer ons die saak van fundamentalisme in die teologie van naderby beskou, is dit belangrik om eers te onderskei tussen bepaalde tradisies en die nabootsers daarvan. Doen ons dit nie, is een van die gevolge dat groot name soos Augustinus, Thomas Aquinas, Johannes Calvyn, en soveel ander figure betrek word in ’n f-tipering wat nie reg laat geskied aan die groot erfenis wat ons van hulle ontvang het nie. As jy jou vereenselwig met die belydenis van postmoderne vloeibaarheid sal jy miskien verplig wees om die groot geeste hierbo genoem, wel so te beskou, want hulle daag inderdaad diegene uit wat meen dat realisme net in jou kop en in konvensies bestaan. Hulle doen dit egter vanuit ’n ryk metafisiese onderbou en diegene wat te gemaklik met die woord “fundamentalisme” smeertogte onderneem, behoort eerder te vra of een van die gewilde mantras van vandag nie dalk toegepas moet word met drie vingers wat terugwys nie: Jou benoeming sê dalk meer van jouself as van dit wat jy probeer herbenoem. Want om die saak vir permanente dinge onbeskaamd op die tafel te plaas, beteken nog glad nie dat jy jou oog vir verskeidenheid hoef te verloor nie. Genoemde figure was deel van ’n ryk tradisie waar daar juis gevra is hoe vastheid en variasie lieflike danse kan uitvoer asook hoe konstansie en dinamiek saam met mekaar op reis mag gaan. 

Gelaagde misterie
Om egter meer spesifiek te raak: Hoe het die groot geeste die Bybel gelees as dit dan nie as fundamentalisties beskrywe moet word nie? En hoe is dit in gesprek met die wetenskap van die dag gebring? Ons gaan vir eers net aandag gee aan hoe die Bybel gelees is, aangesien dit die eerste plek van misverstand is. Karikature begin alreeds hier en indien daar nie insig is in hoe die Skrif, die tradisie, die rede en ervaring deur die eeue ingespan is om raamwerke en interne kontroles vir geloofwaardige Bybellees te ontwikkel nie, is dit sinneloos om verder te vra hoe die gesprek van die teologie met die vakwetenskappe (let wel, nie “die wetenskap” nie) behoort te verloop. Die feit is dat die sogenaamde fundamentalistiese en primitiewe Skrifuitleg van die kerkvaders glad nie so eendimensioneel plaasgevind het as wat dit vandag soms voorgehou word nie. Inteendeel, dit was tot oorbodens toe vol van simboliese lading, dramatiese samehang, en van ontvouende en gelaagde betekenis en misterie. Die uitnemende voorbeeld hiervan is sekerlik die Middeleeuse Quadriga, 'n teologiese metode van Bybelverstaan wat vandag nog baie peste en plae binne en buite die kerk kan uitroei.

2014/05/27

Deutrek van Kantiaanse liberalisme

Soms is dit goed om vanuit ander oorde te hoor wat aangaan. Hier is ’n artikel afkomstig uit die Ortodokse Kerk, van ene Patrick Henry Reardon.  Hy verwys aan die einde na iemand wat deesdae nogal gereeld op die radar verskyn, maar waarvan die meeste onder ons nog net gehoor het: Maximus die Belydende! 

Kom ons stel die vraag na die belang van Maximus vir ’n oomblik ter syde. Hierdie artikel plaas na my mening kort en kragtig die vinger op die pols van twee basiese sake wat onderliggend voortdurend 'n rol speel in ons (modernisties/postmodernistiese) gesprekke: Nominalisme en Voluntarisme. Die briljantheid van die artikel lê myns insiens in Reardon se vermoë om die eenvoud van die twee geite aan die orde te stel. 

En dit gooi natuurlik olie op my vuur in die vermoede dat ons teologie deurtrek is, nie van Oxi-Vite soos in die kostelike advertensie nie, maar van Kantiaanse liberalisme. In 'n volgende aflewering sal ons die masjiengeweer op Afrikaans stel en dele uit die artikel vertaal. 

2014/05/22

Oor ballingskap en Barth

Matthew Rose is 'n direkteur by die Berkeley Institute. Hy ken vir Karl Barth - nie van hoorsê nie, maar van grondig lees. Hy kan waarderend lees en weet ook presies waar hy punte wil gee: Barth se bydrae op die gebied van die Christologie en die Drie-eenheid. Hy het ook respek vir sy nougesette weergawe van die Protestantse skolastiek en vir die kwaliteit en nugterheid van Barth-geleerdes. Laat ons altyd toejuig wat toejuiging waardig is. Ek ken inderdaad meer as een persoon wat kan getuig dat Barth se woorde hul tot aanbidding voor die lewende God gebring het. 

Maar Rose is steeds van mening dat Barth ons nie uit die ballingskap van die modernisme uitgelei het nie. Die hoofoorsaak hiervoor vind Rose in die feit dat Barth nie die Christelike metafisika en in besonder die klassieke teïsme en gesofistikeerde uiteensettings van natuur teologie geëer het nie. Die gevolg was 'n metafisiese sloping wat beide die rede en die moraliteit van menswees in gedrang gebring het. 

Rose se skalpel sny diep. Hy is van mening dat Barth ons net so min kan help as wat die teologiese liberalisme ons sal kan help. As ons in ons land kyk na die gevolge van die verskuiwing vanaf Kuyper na Barth - iets wat die NG teoloë gretig en graag erken en selfs bely, lyk dit definitief dat Rose meer as 'n Katolieke kwaker is. Trou aan sy Rooms Katolieke tradisie, reken hy dat Pous Johannes Paulus baie beter rigting bied in sy uitspraak in Fides et Ratio. Daarin stel die voormalige Pous dat ons "krisis van betekenis" voortspruit uit die versuim om te erken dat  die rede die vermoë het om "die uiteindelike en oorkoepelende betekenis van die lewe" te ken en te verdedig. Wat ons ook al anders oor die Pous wil sê, hierin het die voormalige vegter teen kommunisme beslis iets beet. Ons sou dit miskien anders nuanseer en die sondeval sterker wou inbring, maar die Pous was beslis nie postmodern nie.

2013/09/17

Belhar-kritiek uit die buiteland

Kevin DeYoung het bepaalde simpatie met die Belhar-belydenis. En tog het hy uiteindelik fundamentele probleme daarmee. Kyk hier, hier, hierhier en hier om 'n opinie en verwysings uit die buiteland te kry van iemand wat van binne uit reformatories daarmee moes worstel. Glo dit of nie, maar binne sy eie kerkverband is die Belhar-belydenis daar ver oor die waters aanvaar. DeYoung kan die konsekwensies tussen die lyne lees, veral as hy bekende teoloë in Suid-Afrika se interpretasie sommer bo-op die die lyne sien kronkel. DeYoung eien die trajek van die meta-narratief treffend. En wat hy sien, lyk vir hom gekondisioneer deur alte bekende Zeitgeist-walms. Miskien sal iemand van buite af 'n gewigtiger impak hê op onse mense wat die reuk van politieke korrektheid al heeltemal te gewoond geraak het. 

2011/11/22

Konserwatiewe en progressiewe impulse

Die etikette "konserwatief" en "liberaal", "konserveer" en "progressief", "linkses" en "regses", sal nie gou verdwyn nie. Die belangrike vraag is egter hoe ons hierdie beskrywings gebruik en bestuur sodat ons nie net in blote brandmerkery verval nie. Twee riglyne hieroor is belangrik.

Eerstens, ons moet nooit vergeet om die volgende minimum vrae saam te neem nie: Konserwatief of liberaal volgens watter standaard? Met watter motief? Met watter eindddoel? Hierdie vrae klink dalk abstrak, maar wie hulle eerlik aan hulself en ander vra sal gou vind dat dit die hele prentjie verander. Dit gee belangrike konteks sodat ons eie blinde kolle darem so 'n bietjie kleiner kan word.

Tweedens, ons moet nooit vergeet dat die evangelie 'n tweesnydende swaard is wat beide konserveerders en progressiewes uitdaag nie. Hier is 'n onlangse vars en insiggewende bydrae wat dit vir ons in terme van die sabbat en die rus in Christus verduidelik. Dit is 'n insiggewende manier om te verduidelik hoe die evangelie weerbarstig is teenoor ons soms geykte hanterings van konserwatief en liberaal en dit bring ons hele kultuur en sosiale gewoontes in die prentjie. Ek dink nie ons kan sommer wegdoen met bogenoemde beskrywings nie. Maar een ding is seker: Ook ons woordeskat en beskrywings moet geheilig en gesuiwer word deur die lewende Woord en evangelie wat ons oorlegginge en gedagtes van die hart beoordeel (vgl. Hebr. 4:12). Die sin van die genoemde artikel is dat dit ons op 'n praktiese vlak uitdaag en aanmoedig. Dit gee nuwe visie oor waarmee ons reeds besig is en ook besig behoort te wees.

2011/10/23

Hoe om van liberale teologie vry te kom

Die woord liberaal kan maklik rondgegooi word om enigiets te tipeer wat jou nie pas nie. Maar oorspronklik beteken liberaal om vry te wil wees. Wie wil dan nie vry wees nie? Ons moet egter telkens vra: vry waarvan, om wat doen, volgens wie se standaarde? Dit is in hierdie sin - vry te probeer wees van die gesag van God se Woord - wat liberale teologie nie sal kan staan in die oordeel nie (Ps. 1:5). Elke poging om die Bybel te probeer lees vanaf 'n standplaas wat op een of ander akademiese of onakademiese wyse probeer neerkyk op die Woord van God en  nie arm, verslae van gees en bewend is vir God se Woord nie (vgl. Jes. 66:2), is liberaal in die verdraaide sin. So lees jy nie die Bybel soos een van God se kudde en kerk nie.

Maar kan geleerde teoloë hiervan vry kom as hulle eers hierdeur besmet is? Thomas Oden is nou nie die mees gereformeerde teoloog wat daar is nie, maar een ding is seker: Hy het die dwaalpad van die liberale teologie besef. Eers het elke afdraaipad hom verder en verder in die rigting daarvan gevoer, maar veral deur Augustinus en Wesley het hy tot ander insigte begin kom. Dit kan gebeur. Sterker gestel, as jy werklik God se aangesig soek, of eerder, wanneer Hy jou soek, kan dit nie anders nie. Die Drie-enige God kan deur enige hardnekkigheid breek. As Hy dit aan my en jou kan doen, kan Hy dit aan enigiemand doen. Daar is hoop, selfs en ook vir liberale teoloë. Want God is God. Lees hier meer oor die pad en ander insigte waartoe Thomas Oden gekom het.

2011/07/13

Kuns, Kultuur en Krygers in een asem

Die nuus in Suid-Afrika het onlangs by meer as een geleentheid berig oor die Kommandokorps. Wat insiggewend is, is dat die swartsmeer kwas nie meer so goed werk met hierdie tipe organisasies nie. 'n Mens is dankbaar dat RSG se monitor program op 13 Julie 2011 darem erkenning gee aan die polisiestem wat kort en kragtig stel dat daar nie eens rede vir verdere ondersoek bestaan nie. Daar is eenvoudig 'n toenemende ongemak by Afrikaners oor die werklikhede in Suid-Afrika. Die alarmistiese sirenes van diegene wat ideologiese en revolusionêre optrede van elke Boer vrees, begin al hoe meer klink soos wolf-wolf wat nou net duisend keer te veel uitgeroep is. Of miskien besef die skril alarms dat verlamming deur verwronge skuldgevoel projeksies nie meer so kragtig soos in die verlede werk nie. Die sondeval het die Boere inderdaad nie verbygegaan nie. Maar wie enige kind, enige mens, enige Boer op die langtermyn met hoofsaaklik skuld bombardeer, moenie verbaas wees as die teendeel bewerk word nie. En piëtistiese liberaal-demokrate kan maar ophou om hul harte vas te hou. Hulle moet eerder hul valse thou-shalt-not-boekie vir die Bybel wat die Ou Testament insluit, verruil.