Wys tans plasings met die etiket Isrealvisie. Wys alle plasings
Wys tans plasings met die etiket Isrealvisie. Wys alle plasings

2023/04/06

Die magnetiese krag van die kruis

Lees: Joh. 12:12-33

Gedagte vir kinders: Jesus Christus is vir ons gekruisig sodat baie mense gered kan word.

Oorsig: Ons lees in al die evangeliebeskrywinge van die intog in Jerusalem. In Johannes verneem ons van ’n groot menige feesgangers, met baie wat spesifiek kennis geneem het van Lasarus se opwekking uit die dood. Hulle het palmtakke, die simbool van feesviering en oorwinning, opgeneem. Hulle het dit gedoen toe hulle hoor dat Jesus na Jerusalem kom en Hom tegemoet gegaan met woorde uit Ps. 118:25: “Hosanna (Here, red ons) ... Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” En hulle het bygevoeg: “die Koning van Israel” (v.12-13).

Die Here Jesus het toe ’n jong esel gevind en daarop gaan sit. Dit het Sagaria 9:9 se woorde in vervulling laat gaan oor Jerusalem se Koning wat op die vul van ’n eselin sit. Die dissipels het later eers besef dat hulle so deel was van die Skrif wat vervul is (v. 14-16). Die skare het hiermee saam ook van Lasarus se opwekking uit die dood getuig. Dit het die skare nog groter gemaak. Die Fariseërs het met mekaar hieroor baklei dat hulle niks vorder nie en dat die hele wêreld agter Jesus aan loop (v.17-19). ’n Deel van hierdie hele wêreld was blykbaar Grieke wat Jodegenote (vgl. Hand. 13:43) geword het en op die Paasfees saam met die Jode aanbid het. Hulle het na die apostel, Filippus, gegaan en gevra dat hulle Jesus graag wil sien. Filippus het dit vir Andreas (beide het Griekse name) vertel en hulle weer vir die Here Jesus (v.20-21).

Jesus het geantwoord dat die uur gekom het dat die Seun van mens verheerlik (kruisiging tot hemelvaart) moes word. Hy verduidelik dit toe met die beeld van ’n koringkorrel wat eers in die grond moet sterf voordat die plant daaruit veel vrug kan dra (v.23-24). Hierdie patroon herhaal ook in elke dissipel se lewe wanneer iemand sterwe in Hom aan hulleself met die oog op die ewige lewe. Dit beteken dat Jesus gevolg moet word, en dat waar Hy is, sy dienaar ook sal wees en dat die Vader so iemand sal eer (v.25-26). Hy het toe gesê dat Hy ontsteld is oor dit wat nog moes gebeur. Hy sou die Vader egter nie vra om uitkoms nie, maar eerder dat die Vader sy Naam sal verheerlik. Hierop het ’n stem uit die hemel geantwoord: “Ek het dit verheerlik” (sy aardse bediening), “en sal dit weer verheerlik” (die kruisiging en opstanding - v.27-28)”. Sommige het gemeen dat dit ’n donderslag en ander dat dit ’n Engel was. Jesus het geantwoord dat dit vir hulle gebeur het en dat (1) dit die oordeel van die wêreld was en (2) dat die duiwel (owerste) buitentoe gedryf sou word. En (3) Hy sou  van die aarde af verhoog word en so almal na Hom toe trek. Daardeur het Hy gewys op sy kruisdood (v.29-33).