Soms gaan ’n lig sommer onverwags vir jou aan, dikwels in een of ander stase van ontspanning - as jy in die stort is, of fietsry of sommer net stap. Dit het blykbaar iets te make met 'n mens se breinsinapse wat dan oop is en wat ruimte oopmaak vir kreatiwiteit en skeppende denke. Dit kan ook gebeur in die ruimte van die Kerk se erediens - voor, tydens of na die tyd. Sommige noem hierdie tipe ervarings vandag sommer maklik, waarskynlik te maklik, ’n gesig of visioen. My siening is dat dit wat ons as sterk indrukke of oomblikke van oortuigings of sommer net lig wat opgaan beleef, in sekere kringe te maklik op vereenvoudigende wyse direk aan God en sy Gees toegeskryf en sommer as besondere openbaring in die midde van die toehoorders geplaas word. Die gevaar is dan om jouself hoër en beter voor te doen as wat jy is en moontlik selfs gesigte uit die eie hart verkondig (Jer. 23:16). Maar dit nou daar gelaat. In hierdie geval wil ek bloot vertel van 'n onlangse indruk en insig wat sterk in die Kerk by my opgekom het. En natuurlik moet ons in my kringe ook na die anderkant toe daarteen waak dat ons dit nie gering skat of genoegsaam waardeer wanneer ons Vader deur sy Gees ’n bepaalde insig sterker in ons gemoed kom vestig nie.
Daardie oggend voor Kerk verneem ek van 'n
broeder wat deel was van 'n whattsapp-groep waarvan ek ook deel was, maar wat
gedurende die vorige nag 'n bloedklont deur die hart gekry het en oorlede is.
Die vorige dag was hy dus nog op ons whattsapp groep en die volgende dag in die
ewigheid. En die oggend, in die Kerk met die hernude besef dat ons dae ’n paar handbreedtes
is (Ps. 39:6) en dat ons elke dag dans op die stoepe van hemel of die hel, kom
dit weer by my op: Die erediens is ’n tipe deur wat ons weekliks op ’n
besondere manier oor die stoep bring en oor die grense van tyd en ewigheid.
Want wie in die erediens inkom en inklim, weet dat ons daarin heengevoer word na die hemelse Jerusalem en tienduisende engele, by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is, en by God die Regter van almal...en by Jesus die Middelaar van die Nuwe Testament, en die bloed van die besprenkeling (Hebr. 12:22-24). Ja, ons kom weekliks om die verbond te vernuwe met Hom wat lewe en die dood in sy hand hou. Ons word dus weekliks bewus van Hom wat die grens tussen tyd en ewigheid oorspan. En die bedoeling is seer sekerlik dat ons nou reeds inoefen om oor die Jordaan na die beloofde land te vaar.